Die trauma van die selfdegeslag-debat in die NGK

http://kerkbode.christians.co.za/2018/11/08/die-trauma-van-die-selfdegeslag-debat-in-die-ngk/

Alphonso Groenewald en Liza Esterhuizen

In elke mens se bestaan vind daar soms gebeure plaas wat hom/haar laat besin oor die diepste grond van sy/haar bestaan. Siekte, geweld, natuurrampe en ander ingrypende omstandighede kan ’n inbreuk maak op die mees fundamentele aspekte van enige mens se bestaan. Hierdie omstandighede kan as so ingrypend ervaar word, dat ons hier van ‘n traumatiese ervaring kan praat. Dit is omstandighede wat buite die grense van die normale geklassifiseer word en dit vorm derhalwe ’n bedreiging vir die oorlewing en self-handhawing van die betrokke persoon.

Die antieke Griekse woord “trauma”, wat vertaal kan word as “wond”, was aanvanklik slegs ’n aanduiding van ’n besering wat die liggaam opgedoen het deur middel van ’n handeling van geweld. In ’n latere fase van ontwikkeling – soos gesien kan word in mediese en psigiatriese literatuur – word hierdie term gebruik om eerder ‘n psigologiese wond te beskryf, met ander woorde iets wat sielkundig aan die mens gedoen word. Cathy Caruth sluit hierby aan wanneer sy skryf dat trauma “woordelose terreur” is, omdat ’n traumatiese gebeurtenis ’n impak het op die innerlike psige van beide die individu asook die gemeenskap wat hierdie traumatiese gebeure beleef het.

Freud se teoretisering oor trauma maak dit duidelik dat hierdie letsel die storie is van ’n wond wat herhaaldelik uitroep in ’n harde stem. Die aanvanklike trauma is die historiese ervaring van ’n gebeure wat as ’n wond beskryf kan word. Alhoewel die historiese traumatiese gebeure verlore raak in die groter landskap van die verlede, word dit herhalende gebeure deur middel van manifestasies van en herinneringe aan hierdie gebeure. Daarom skryf Shelly Rambo in die inleiding van haar boek getiteld Post-Traumatic Public Theology (2016) dat trauma ’n ervaring van lyding is wat blywend is (“Trauma is suffering that remains”). Volgens haar gee hierdie beknopte formulering uitdrukking aan die kern van ‘n traumatiese ervaring: aangesien sodanige gebeure as só oorweldigend beleef word dat dit die menslike prosesse van aanpassing verhinder om weer te kan plaasvind. Die geweld van die traumatisering veroorsaak ’n onvermoë by die persoon om hierdie gebeure in ’n nuwe raamwerk van betekenisgewing te kan integreer. Om trauma te beleef, lei tot ’n vorm van emosionele skade aangesien die slagoffers gewoonlik ervarings van woede, angstigheid, hulpeloosheid, vrees en verwerping ervaar. Hierdie emosies reik tot diep binne in hulle daaglikse bestaan en het ’n invloed op alle vlakke van ’n persoon se lewe. Die uitdaging vir die persoon wat trauma beleef het, is om homself/haarself weer opnuut ten opsigte van die lewe te oriënteer, weer met die wêreld bevriend te raak en om vertroue in ander mense en die wêreld weer te herstel. Rambo praat daarom van post-traumatiese groei as die uitdaging tot herintegrasie.

In haar boek Surprised by the Man on the Borrowed Donkey maak Denise Ackermann dit duidelik dat taal nooit onskuldig is nie. Mense wat rassisme, seksisme en homofobie beleef het, kan hiervan getuig. Taal is altyd gelaai en is meer as net die woorde self. Daar is mag in hoe woorde gebruik word. Dit gee uitdrukking – bewustelik of onbewustelik – aan die oortuigings of ideologieë wat ’n persoon huldig. Volgens haar vind ons ’n tendens in kerke om die Bybel te misbruik om gender diskriminasie, homofobie, geweld en onreg te legitimeer in die belang van die dominante sosiale klasse en groepe, in diens van hulle magsaansprake.

Die aard van die huidige gesprekke in die NG Kerk oor homoseksualiteit en selfdegeslagverhoudings bevestig vir ons dat taal nie onskuldig is. Die stigmatisering van die kerk se LGBTIQA+-lidmate word ’n vorm van psigiese geweld en mishandeling deurdat hierdie lidmate se integriteit bevraagteken word; wanneer homoseksualiteit byvoorbeeld met pedofilie of ander seksuele patologieë in verband gebring word. Hierdie stigmatisering lei tot gevoellens van magteloosheid, vervreemding en veroorsaak fragmentasie in die proses van betekenisgewing. Aangesien hierdie debat(te) al herhaaldelik in die NG Kerk in die laaste dekade of twee gevoer is, lei dit tot aanhoudende trauma wat deur die kerk se LGBTIQA+-lidmate ervaar word. Die emosionele skade wat in hierdie debat aangerig word verhoed dat afsluiting, en gevolglike verwerking, van die trauma kan plaasvind. Prosesse van herintegrasie – wat nodig is na die ervaring van ’n geweldadige trauma-ervaring – kan nie plaasvind nie. Dit word onmoontlik om tot ’n proses van post-traumatiese groei te kom, aangesien nuwe trauma-wonde voortdurend in die debat aan mense en hulle integriteit toegedien word.

In hierdie konteks word die kerk egter uitgedaag om ’n teologie van trauma te ontwikkel. Aangesien die indruk ontstaan dat ons nie uit die impasse in hierdie debat kan kom met betrekking tot die interpretasie van ’n aantal tekste nie, en die opponerende pole in hierdie kerklike debat sukkel om mekaar te vind, kan ’n teologie van trauma ons help om die debat in ’n ander rigting te stuur. Indien ons in die ontwikkeling van sodanige teologie kan fokus op die trauma wat hierdie debat aan mense aanrig, kan dit miskien moontlik wees om uit hierdie impasse te kom. ’n Teologie wat fokus op die impak van voortdurende trauma, en die potensiaal van post-traumatiese groei, kan die kerk en haar lidmate help om die fokus te verskuif van die interpretasie van ’n paar tekste, na ’n proses waarin ons erkenning gee aan die trauma en skade wat hierdie debat aan al haar lidmate doen. Uiteindelik word die kerk in hierdie debat opgeroep om in die woorde van die boek Amos (waarna die Belhar-belydenis ook verwys) te getuig en te stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat reg kan aangerol kom soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom (Amos 5:24).

Prof Alphonso Groenewald (is verbonde aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria. Dr Liza Esterhuizen is ʼn kliniese sielkundige in privaat praktyk den ʼn navorsingsgenootvan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.