Die tafel is terug

“Vir Jesus is daar altyd plek vir nog,” sê ds Lettie Büchner. Hier kuier lidmate van die Wellington Moederkerk in 2018 tydens hulle jaarlikse gemeente-ete saam met ALICT-studente wat vanoor die wêreld heen elke jaar in Wellington opleiding in transformasie ontvang. Foto: Lettie Büchner

Die etenstafel van weleer was vir lank iets wat in die eetkamer blink poleer gestaan en wag het om Sondae te gebruik.

Dié tafel moes later jare uitgegooi word vir dikwels kleiner huise waar kitsetes op die skoot voor die TV, of vinnige happies in die ontbythoek van die kombuis geëet word.

Maar volgens ’n sielkundige van Harvard is aandete om ’n tafel saam met jou kinders dié belangrikste ding wat jy saam met jou kind kan doen.

Professor Anne Fishel, skrywer van Home for dinner, se navorsing laat enige ouer twee keer dink. Eerstens verbeter gesprekke om die etenstafel ’n kind se woordeskat. Dan is daar die voordeel dat dié kinders gesonder kos­se eet. Boonop is daar bewys dat tieners wat gereeld gesinsetes meemaak ’n baie kleiner kans tot depressie en selfmoord toon. So ’n ete om die etenstafel is ook op ’n manier sielskos, blyk dit.

“By ons huis is die tafel ’n heilige instelling. Daar word ook geen elektro­niese toestelle toegelaat nie,” sê ds Rudi Swanepoel, leraar van die NG gemeen­te Andrew Murray in Johannesburg. “Dit gaan ook nie oor wat jy eet nie, maar eerder oor saam met wie jy eet.”

Rudi hou sy lyf ook skrywer en het sopas Kom sit aan (Lux Verbi) bekendgestel. In die boek moedig hy ander aan om meer bewustelik en met vreug­de om die tafel te eet. Hy dra juis die boek op aan die vyf mense saam met wie hy dikwels om die tafel sit – sy vrou Carina en hulle vier kin­ders. Rudi vertel hoe sy een kind juis nou die dag gekla het omdat hulle te lanklaas saam om die gesinstafel geëet het.

Verskeie geloofsgemeenskappe of ker­ke in Suid-Afrika staan ook deesdae nader aan die tafel.

Die Amerikaanse teoloog Leonard Sweet se boek From tablet to table on­dersoek die tafel in Bybelse teologie en wat dit beteken om die tafel terug na ons huise, kerke en gemeenskappe te bring.

In die boek vertel hy hoe dit tradisie was dat daar Sondae iemand wat hulle gesin nie so goed geken het nie, by hulle kom eet het.

Vir Wellington Moedergemeente is hulle tema juis #aantafel vir 2019. Volgens ds Lettie Büchner, leraar van die gemeente, was dit juis Sweet se boek wat hulle aangemoedig het om hieroor na te dink.

“My kollega ds Bennie Janse van Rensburg voel sterk daaroor dat alles eintlik by die nagmaaltafel begin. Hier ontvang ons alles wat ons nodig het om ons eie tafels ruim te maak. Vir Jesus is daar altyd plek vir nog,” sê Lettie.

So het die droom van ’n reuse-gemeente-ete in Desember ontstaan waar ’n 1 000 mense by ’n lang tafel in Kerkstraat in Wellington gaan inskuif vir ete. Die gemeente-ete het nou ’n gemeenskapsete geword waar almal saamwerk om soveel moontlik mense by die tafel te kry.

Rudi meen ook dat saam eet nie net vir gesinne moet geld nie, maar wyer.

Rudi het onlangs in ’n artikel vir LiG, Kerkbode se susterpublikasie, gevra: “Wat­ter rol speel die bevrediging van fisiese behoeftes (honger) wanneer ons ’n vreemdeling verwelkom?” Die vraag dwing ons om krities te dink oor ons kerke en geloofsgemeenskappe se uitreikprojekte, meen Rudi. By goedbedoelde sopkombuise word kos verskaf, maar waag ons dit om aan dieselfde tafel as ons gaste te gaan sit?

“By Andrew Murray het ons een maal per maand ’n informele ete wat Echo@work, ’n Echo-gemeenskap vir jong werkendes, aanbied. Hier word wat ons het, gedeel, wat ons maaltyd en ons lief en leed insluit. Hierdie vorm van gemeenskap het ’n wonderlike manier om jou gemoed te lig!” sê Rudi.

Die Echo Jeugontwikkeling kry gasvryheid om die tafel goed reg. Ds Niel Steyn, wat Echo-huise in die Wes-Kaap tot stand gebring het, sê “ons hou van saam eet”. In die Echo-huise woon jongmense in nood sowel as mentors. Die huise eet gewoonlik aandete saam en die verskillende Echo-huise kom ook gereeld bymekaar om saam te eet. Volgens Niel het ds Jaco Strydom, die stigter van die Echo-huise, hom laat verstaan dat ’n mens baie van die vroeë kerk kan leer van saam eet en gemeenskap.

So beland Kongolese vlugtelinge, Mos­lems, arbeidsterapeute en maat­skap­like werkers saam om ’n etenstafel.

“Iets wat my fassineer is invloed. Elk­een van julle wat hier sit het invloed oor ’n klomp mense. Dink net wat kan gebeur as jy met dankbaarheid leef en hier­die voorbeeld stel vir almal wat jou pad kruis en by jou tafel aansit. Jy, en die wêreld sal verander. Moeder Theresa het hoeka gesê dat as jy die wêreld wil verander moet jy huis toe gaan en jou mense gaan liefhê,” het Rudi by ’n onlangse LiG-lesersdag as spreker aan sowat 300 vroue gesê.