Die NG Kerk en grondhervorming

http://kerkbode.christians.co.za/2018/03/06/die-ng-kerk-en-grondhervorming/

Gustav Claassen

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het die afgelope tyd na aanleiding van politieke ontwikkelinge verskeie navrae gekry oor die NG Kerk se posisie wat betref grondhervorming. Hieronder sit hy dit kortliks uiteen.

Inleidend

Die onderwerp van die aarde en die wyse waarop dit as grondgebied bewoon, bewerk en bewaar word deur die nasies, is ’n sentrale tema in die Bybel. Talle verhale in die Ou Testament word oor die belofte en besit van ’n spesifieke grondgebied vertel. Baie keer ook uit die hoek van die verlies daarvan weens politieke, sosiale en geestelike oorwegings. So wentel die oerverhale rondom die vervulling van die opdrag aan die nasies om te vermeerder en die aarde te vul. Die aartsvader-verhale sit dié tema voort met die wyse waarop God vir Hom ’n volk uitkies en ’n eie grondgebied belowe. Die vroeë profete vertel van die vervulling van daardie belofte in die tyd van Josua. Die latere profetiese literatuur vertel weer van die verlies van daardie grondgebied aan die hand van hulle gebrek aan ’n Godvererende geestelike, sosiale en maatskaplike bewussyn. Hoekom? Want, die Here word regdeur beskryf as die eintlike Eienaar van die beloofde land (Lev 25), trouens van die hele aarde. Elke stukkie grond van die land word daarom aan die volk gegee nie as eienaars nie, maar as rentmeesters daarvan. God kan daarom ook reg en geregtigheid eis ten opsigte van die benutting van die land. Wanneer land op onbillike wyse van enigiemand weggeneem is, veral van armes, weduwees en vreemdelinge, eis God dat reg en geregtigheid sal geskied met verskillende maniere waarop restitusie gedoen kon word. Hierdie regstelling word beskryf as die sjalom wat God bring, met die inspirerende beeld van mense wat elkeen rustig en ongestoord onder sy eie wingerd en vyeboom sit. Die saak van land/grond, die verblyf daarop en die benutting daarvan was daarom nog altyd ’n belangrike saak vir die NG Kerk en ander godsdienstige gemeenskappe.

Die NG Kerk se posisie ten opsigte van grondhervorming

Die NG Kerk het tydens sy Algemene Sinode van 2002 reeds ’n amptelike standpunt ingeneem oor die saak van grondhervorming: “Grondhervorming moet positief aangepak word as noodsaaklike en integrale deel van die nasionale versoeningsproses. Die situasie in die land vereis dat daar nie volstaan kan word met ’n blote erkenning dat daar in die verlede wat grondbesit betref teen anderskleuriges gediskrimineer is nie. Die onreg van die verlede moet op ’n manier reggestel word.”

Grondhervorming vanuit ’n Christelike oortuiging is geregverdig en noodsaaklik. Die aktuele saak vir die NG Kerk was nog nooit net die verdienstelikheid van grondhervorming nie, maar ook die doeltreffende en die billike uitvoering daarvan. Die geskiedenis van grondbesit in Suid Afrika en die wyse waarop die herverdeling daarvan aangepak word, het ’n eties-morele kant, waaroor die kerk, soos oor ander sake, sy profetiese stem wil laat hoor.

Die NG Kerk aanvaar dit as uitgangspunt dat grondhervorming, in ’n Suid-Afrikaanse konteks, vanuit ’n Christelike oortuiging regverdig en noodsaaklik is. Die kerk het haar bereid verklaar om ’n verantwoordbare proses, wat reg en geregtigheid teenoor almal laat geskied, te ondersteun en te help bevorder. By meer as een geleentheid het die Kerk haarself verbind om haar lidmate op ’n positiewe manier in die verband te begelei en te ondersteun. Ekonomiese stabiliteit is ’n voorvereiste vir vrede, versoening en voorspoed in ons land. Hiervoor is ’n nuwe geslag suksesvolle kommersiële boere, swart en wit boere, nodig om aan die ekonomie ’n sterk onderbou te gee en voedselsekuriteit te waarborg.

Die proses ten opsigte van grondhervorming tot nou

Vanweë die nalatenskap van die koloniale- en apartheidsera en diskriminerende wetgewing wat daarmee gepaardgegaan het, is grondbesit in Suid-Afrika skeefgetrek. In die African National Congress (ANC) se 1994-verkiesingsmanifes (die Heropbou en Ontwikkelingsprogram – HOP) is onderneem dat grondhervorming ’n prioriteit in die post-apartheidsbedeling sou wees. Klem sou geplaas word op die verdeling van grond aan individue en gemeenskappe wat ingevolge apartheidswetgewing grond verloor het, of die geleentheid ontsê is om grondeienaars te wees. Die doelwit was dat grondhervorming die wanbalanse in grondeienaarskap, verblyfreg, en vlakke van onderontwikkeling in Suid-Afrika, moes regstel. Grondhervorming is sedert 1994 beskou as een van die hoekstene van die transformasieproses. Enersyds is die oogmerk van die huidige grondhervormingsbeleid om ’n situasie van volhoubare ontwikkeling te vestig. Andersyds het die beleid ten doel om die nalatenskap van apartheid te neutraliseer. Die grondwet verwys in die aanhef na die doelwit om die ongeregtighede van die verlede reg te stel, diskriminasie uit te skakel en die lewenskwaliteit van alle landsburgers te verbeter. In afdeling 24 van die grondwet gaan dit spesifiek oor grondhervorming. Artikel 25(2) van die grondwet maak tans voorsiening vir die volgende bepalings waarvolgens die regering grond kan onteien:

  • Enige vorm van onteiening moet in die openbare belang wees; en
  • Onteiening moet gepaardgaan met ’n billike vergoeding aan diegene wat daardeur geaffekteer word.

Die grondhervormingsproses verloop egter nie na verwagting nie. Op 21 November 2017 het voormalige president Kgalema Motlanthe in sy verslag “The Parliamentary High Level Panel on the Assessment of Key Legislation and the Acceleration of Fundamental Change” (the High Level Panel) verskeie redes aangedui vir die stadige vordering met grondhervorming sedert 1994. Die verslag het die effektiwiteit van wetgewing beoordeel om armoede, ongelykheid, werkloosheid en grondhervorming aan te spreek.

Die grondhervormingsproses verloop nie na wense nie as gevolg van die onvermoë, stadige pas, korrupsie en wanadministrasie van amptenare in betrokke staatsdepartmente. Verskeie bevoordeeldes uit grondhervorming en restitusie-aksies het nie private eiendomsreg daarop bekom nie. Nuwe eienaars word derhalwe weerhou van die verkryging van banklenings vir landbouproduksie omdat hulle geen vaste eiendom as kollateraal kan aanbied nie. Die staat se keuse om privaatgrond in trust te hou en nie in privaatbesit te plaas nie, impakteer ook op die waarde van grond. Alhoewel daar talle suksesverhale is, is daar groot kommer waar die oordrag van produktiewe landbougrond tot boerdery-mislukkings en die verlies van werkgeleenthede en voedselsekuriteit gelei het.

Hoe meer die staat misluk hoe meer word drastiese wetgewing en ander maatreëls uit regeringsgeledere geïnisieer. Dit lei ook tot toenemende populisme. Die rol wat onteiening sonder vergoeding gespeel het sedert die ANC-konferensie van 2017 asook die jongste aksie van die EFF en die ANC is voorbeelde hiervan. Die EFF het op 27 Februarie 2018, met die hulp van die ANC, suksesvol gedebatteer dat artikel 25 van die grondwet ondersoek moet word ten einde die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak. Populistiese aksies en uitsprake lei tot hoë verwagtings van landloses aan die een kant en ’n geweldige onsekerheid van landbesitters aan die ander kant. In plaas van om in diens te wees van ’n nasionale versoeningsproses lei die grondhervormingsproses tot die vergroting van nasionale spanning en die verhoging van polarisasie en rassisme.

Die NG Kerk onderneem:

  • Om vol te hou om sy profetiese verantwoordelikheid na te kom en sy stem rondom sake van sosiale en ekonomiese geregtigheid te laat hoor. Die meerderheid van mense wat op plase woon, is lidmate van ons kerkfamilie.
  • Om op soveel as moontlik vlakke versoening en sinvolle oplossings te bemiddel. Dit sluit gesprek met landbou-organisasies, regeringstrukture en ander belanghebbende partye in.
  • Om ’n moreel-etiese beoordeling te doen oor die implikasies van onteiening sonder vergoeding en wat die impak daarvan is oor die hele sosio-ekonomiese spektrum.
  • Om met ekumeniese vennote en die NG Kerkfamilie dringend die saak van grondhervorming met die Nasionale Regering op te neem aan die hand van ʼn voorlegging teen Augustus 2018.
  • Te help bou aan ’n gunstige klimaat waarbinne gesprekke en onderhandelings kan plaasvind.
  • Om betrokke te wees by die pastorale begeleiding van individue wat onsekerheid beleef as gevolg van grondeise.
  • Om onvermoeid voorbidding te doen vir die saak van grondhervorming.
  •  

Die NG Kerk beywer haar vir die volgende:

  • Die praktiese toepassing van die grondhervormingsproses. Dit moet billik en ordelik geskied met die minste ontwrigting van kommersiële landbou.
  • Die voedselsekuriteit van ons land, as ’n voorvereiste vir vrede, stabiliteit en voorspoed. Dit moet nie gekompromitteer word nie. Suid-Afrika is tans die enigste land in Afrika met voedselsekuriteit en dit moet ten alle koste gehandhaaf word.
  • Die voorkoming van armoede. Aangesien 50% van Suid-Afrika se bevolking blootgestel is aan ’n destruktiewe armoedekultuur moet werksgeleenthede van bykans ’n miljoen plaaswerkers, met nagenoeg 6 miljoen afhanklikes, nie deur die kompromittering van kommersiële boerdery vergroot word nie.
  • Die reg tot die privaat besit van eiendom moet ten alle tye beskerm word. Andersins kan dit lei tot ineenstorting van die bankwese en die ekonomie in die geheel. Privaat eiendomsreg is die grondslag van enige suksesvolle ekonomie. Die geslaagde mosie van die EFF raak nie net landbougrond nie, dit raak ook privaat eiendomsreg.

Die spoedige hantering van ’n geloofwaardige grondoudit deur die regering. Aannames word tans, as deel van argumente ten gunste van onteiening sonder vergoeding, op verkeerde statistiek gedoen.

The post Die NG Kerk en grondhervorming appeared first on e•Kerkbode.