Die kruis as simbool van protes

http://kerkbode.christians.co.za/2018/10/08/die-kruis-as-simbool-van-protes/

Erik Ravelo se kunswerk Die Onaantasbares.

Die kruis is onteenseglik die mees algemeen gebruikte en die mees herkenbare motief in die Christelike kunstradisie. Die gebruik daar­van in ’n kunswerk roep onmiddellik die kruisdood van Jesus Christus in herinnering en daarmee saam die volle draagkrag van die kruisgebeure in die Christelike geloofstradisie.

In talle kunswerke funksioneer die kruis ook as ’n universele simbool van lyding en van die onreg wat teen kwesbare mense gepleeg word. Dit gebeur nie noodwendig ten koste van die unieke betekenis van die gekruisigde Christus nie, maar kan eerder as ’n verbreding (en selfs verdieping) daarvan beskou word. Die kruis bied as ’t ware die taal waarmee onreg verwoord kan word, en word terselfdertyd ’n belangrike sleutel waarmee die aard van menslike lyding ontsluit kan word.

’n Resente voorbeeld hiervan is die werk Die Onaantasbares van die Kubaanse kunstenaar Erik Ravelo (gebore 1978). Hierdie reeks van ses kunsfoto’s werp lig op eie­tydse kwessies waardeur weerlose kinders se lewens­geluk en sekuriteit bedreig word. In elkeen van die ses foto’s is ’n installasie van twee menslike figure gefotografeer: Daar is telkens ’n volwasse mansfiguur wat die vorm van ’n kruis met sy liggaam vorm, en ’n kind wat as “gekruisigde” slagoffer aan die rug van die volwasse figuur hang.

Elkeen van hierdie taferele bied ’n voorstelling van een of ander vorm van misbruik waaraan kinders in verskillende dele van die wêreld blootgestel word. In die eerste foto word op die pedofilieskandaal in die Katolieke kerk gefokus; in die tweede op sekstoe­risme in Thailand; in die derde op die oorlog in Sirië; in die vierde op die onwettige handel in menslike organe; in die vyfde op die vrye beskikbaarheid van aanvalsgewere in die VSA, en in die sesde op die toename in vetsug as gevolg van die groeiende kitskosbedryf.

Die naam van die reeks, Die Onaantasbares, het ’n dubbele verwysing: enersyds na kinders wat teen misbruik beskerm behoort te word, en andersyds na die oortreders wat telkens skotvry kom sonder om ver­antwoording te doen vir hulle wandade. Die duidelike boodskap is dat kinders in elkeen van hierdie situasies die primêre slagoffers van volwassenes se skade­like optrede is. Die wyse waarop die kinders as slag­­of­fers uitgebeeld word, tesame met die feit dat hulle gesigte onherkenbaar vervaag word, dra by tot die ontstellende en provokatiewe effek van hierdie kuns­werk.

Die reeks foto’s het dan ook onmiddellike reaksie uitgelok. Binne die eerste dae nadat Ravelo dit op Facebook geplaas het, het dit 18 000 “likes” gekry, totdat ­Facebook ’n perk daarop geplaas het en die kunstenaar verhinder het om enige verdere foto’s te plaas.

Skerp kritiek het ook nie uitgebly nie, onder andere dat dit kwansuis ’n bespotting van die kruis maak en as ’n onbillike aanval op die kerk beskou kan word. Van die kritici het die werk selfs bestempel as ’n vorm van pornografie waarin die liggame van kinders uitgebuit word.

Ravelo het soos volg op die kritiek ge­reageer: “My intention is not to offend anyone but to make people think about a problem. I don’t understand why some people are mad at me, but they are not mad about the problems. People get offended by the photos but not by the problems the photos want to talk about.”

Hy verduidelik sy bedoeling met die reeks foto’s in die volgende woorde:

“Kids represent innocence and the series of Los Intocables (Die Onaantasbares) aims to preserve and defend the right to childhood, to a clean childhood. So, we are in fact preserving kids here. The children’s faces in the images are also pixelated to preserve and protect their identities.”

Hierdie kunswerk vorm deel van ’n lang tradisie van proteskuns wat bedoel is om nie net die donker kant van die lewe op objektiewe wyse uit te beeld nie, maar om ook passievol protes aan te teken – in hierdie geval teen die wyse waarop die menswaardigheid van weerlose slagoffers aangetas word, sowel as teen die wyse waarop die bewerkers van onreg deur hulle invloed en magsposisies ooglopend toegelaat word om in onaantasbaarheid hulle gang te gaan.

Die gebruik van die kruismotief in die foto’s kan hoegenaamd nie as ’n bespotting beskou word nie, maar verleen eerder aan die reeks die karakter van profetiese en evangeliese protes: Deur die lyding en misbruik van kinders met die lyding en verontregting van Christus te assosieer, word die skending van hulle menswaardigheid in verband gebring met die sken­ding van die waardigheid van Christus self. Jesus self sou kon sê: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matt 25:40).

Dit is teen hierdie agtergrond betekenisvol dat Ravelo dikwels na homself verwys met die kunste­naarsnaam Don Nadie wat vertaal kan word as “Mister Nobody”. Ook hy tel onder die geringstes, wat nie met mag en krag optree nie, maar met die weerloosheid van beelde op papier.

▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.