Die hofuitspraak: Wat nou nodig is

https://kerkbode.christians.co.za/2019/04/12/die-hofuitspraak-wat-nou-nodig-is/

André Bartlett skryf per e-pos

Die afgelope paar jaar was ’n baie onstuimige tyd in die NG Kerk, onder andere vanweë diepgaande meningsverskille oor die beoordeling van selfdegeslagverhoudings.

Die 2015-besluit van die Algemene Sinode het gelei tot talle appelle, beswaarskrifte en gravamina, ’n buitengewone Algemene Sinode in 2016 wat die vorige besluit met ’n ander een vervang het, ’n uitgerekte hofsaak en uiteindelik ’n hofuitspraak enkele weke gelede wat die 2016-besluit ongeldig verklaar het en die 2015-besluit herstel het.

Die hof het in sy uitspraak op twee dinge gewys: eerstens, dat die kerk  in 2016 sy eie kerkordelike reëls oortree het in die wyse waarop die 2015-besluit herroep is, en tweedens, dat die kerk strydig met die grondwet van die land opgetree het deur regte wat hy voorheen aan van sy lidmate toegeken het, terug te neem.

Ná besinning het die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) op sterk aanbeveling van die Algemene Taakspan Regte (ATR) besluit om nie teen die uitspraak van die hof te appelleer nie, maar te berus by die stand van sake soos wat dit nou is.

By implikasie het die leierskap van die kerk hiermee erken dat ons in twee opsigte oortree het: deur nie kerk se eie reëls soos vervat in die Kerkorde te eerbiedig nie, en deur nie te waak oor die regte van sy eie (in dié geval gay) lidmate nie.

’n Mens verstaan dat die uitspraak van die hof en die herstel van die 2015-besluit nie al die pyn wat oor baie jare ervaar is, wegneem nie, maar hoop tog dat die regstelling van die onreg ten minste ‘n mate van genesing bring en ook die begin kan wees van ’n versoeningsproses.

Ongeag wat mens se standpunt oor selfdegeslagverhoudings is, behoort daar sekerlik ’n groot mate van eenstemmigheid te wees dat dit nou nodig is om verskoning te vra aan al die gay lidmate van die kerk en hulle families vir die pyn en leed wat hulle oor baie jare en ook met die onlangse prosesse deur die kerk aangedoen is.

Daar is deurlopend meer óór hierdie lidmate gepraat as wat  daar mét hulle gepraat is. Baie van die dinge wat in hierdie gesprekke óór mense gesê is, was  kwetsend en sonder inagneming van hulle menswaardigheid. Meermale het dit aanleiding gegee tot vervreemding van die kerk, verlies van geloof, emosionele en persoonlikheidsversteurings en in té veel gevalle selfs gelei tot selfdood.

Hierdie toedrag van sake kan ons as kerkmense nie onaangeraak laat nie, maar vra vir diepgaande selfondersoek, egte berou en opreg bedoelde skuldbelydenis. Waar ons optrede skade aangerig het, moet daar in die gees van die evangelie gewerk word aan herstel.

Wat nou nodig is, is dat daar veral van kerklike kant moeite gedoen moet word om prosesse in werking te stel wat dit moontlik maak om oop en eerlik met mekaar te praat oor die  effek wat kerklike optrede, dikwels onbedoeld, op mense se lewens gehad het.

Hierdie soort gesprekke moet so inklusief as moontlik en met soveel as moontlik van die betrokkenes gevoer word. Van die kerk vra dit ’n gewilligheid om onbevange en met groot beskeidenheid  te luister na die verhale van lidmate wat dikwels die objek van kerklike gesprekke was in plaas daarvan om as volwaardige gespreksgenote erken te word.

Terselftertyd sal ons almal vir mekaar verskoning moet vra vir die wyse waarop ons die laaste paar oor mekaar in hierdie soms toksiese debat gepraat het. Persone met ’n meer konserwatiewe standpunt oor selfdegeslagverhoudings is meermale daarvan beskuldig dat hulle liefdeloos en homofobies is, terwyl  persone met ’n meer progressiewe standpunt meermale moes hoor dat hulle nie Bybel ernstig opneem nie en ontrou is aan die wil van die Here.

Waartoe ons nou moet verbind, is om die onnodige polarisasie en verdeeldheid oor hierdie saak teë te werk en om te soek na groter wedersydse begrip, respek en eensgesindheid. Ons kan dit doen met die oortuiging dat dit wat ons in Jesus Christus aan mekaar verbind, veel groter as dit  waaroor ons van mekaar verskil.  Hy is ons vrede. En in hierdie Lydenstyd word ons opnuut daaraan herinner dat Hy ons deur sy dood aan die kruis ten spyte van ons verskille tot één nuwe mensheid en één liggaam verenig het (Ef 1: 14-16).