Die eenheid van die kerk

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/07/die-eenheid-van-die-kerk/

Die kerk was nog altyd ’n plek vol meningsverskil en selfs stryd. Dink maar aan die diepgaande verskille in die Korinte-gemeente met sy Paulus- en Apollos- en Sefas-mense. En moenie die stryd oor die eet van offer­vleis vergeet nie. Hierdie soort stry­de het deur die eeue gelei tot baie pyn en ly­ding. Die weg is al te dikwels opge­gaan na wenners wat alles wil vat en verloorders wat ander tuistes moet vind of maar noodgedwonge diegene wat die mag het se pad moet loop. Dit is nie vreemd dat gelowiges so dink nie, want almal glo hulle is aangestel om die eer van God te beskerm en seker te maak dat sy heiligheid nie gekompromitteer word nie.

Ek het in die afgelope tyd met die oog op my voorbereidings vir pinkster baie gedink oor die heiligheid van God. Ook die heiligheid van God blyk onder meer ’n verhoudingsmatige werklikheid te wees. Wanneer God aan Moses verskyn en vir hom sê om sy skoene uit te trek omdat die grond waarop hy staan heilig is, dan bedoel Hy nie die plek se sand is anders nie. Dit is in die ontmoeting tussen God en mens waar God se heiligheid so werklik is dat dit alles verander, die plek, die gesprek, die verwagtinge, alles. Moet die inwonende werklikheid van Christus in gelowiges se lewe dan nie ook dieselfde effek hê nie? Moet dit dan nie maak dat ons mekaar anders ontmoet, dat ons anders na mekaar kyk, anders met mekaar praat, ander uitkomste verwag van ons ontmoetings met mekaar nie? Is dit nie dalk waarom Paulus sommer van die begin af in sy brief aan die verdeelde Korinte herinner dat hulle in Christus Jesus “geheilig is deur God-geroepe hei­liges, saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here …” (1 Kor 1:2; Direkte Vertaling 2014). Is dit dan nie waarom hy eers voordat hy hulle verskille aanspreek, lank verdui­delik dat dit hulle identiteit is dat hulle deur Christus begenadig is en daarom aan Hom behoort nie.

Paulus sê ook dat toe hy na hulle gekom het, hy nie gekom het met verhewe woorde of met wysheid God se geheimenis aan hulle verkondig het nie. Hy wil nie maak of hy die wysheid in pag het nie, sou ons kon sê. Hy het besluit om by hulle niks anders te weet (ειδεναι) nie as Jesus Christus, en Hom as die gekruisigde (1 Kor 2:1-2; Direkte Vertaling 2014). Dit klink vir my of ons die twee begrippe, heiligheid en die ‘weet’ van Jesus Christus hier kan saam lees. Heiligheid is om Jesus Christus, die gekruisigde ‘te weet’ saam met ander mense. Ek dink in elk geval jy beliggaam en praktiseer die heiligheid van Christus deur egte omgee en sorg vir mense, ook vir dié wat van jou verskil. Solank die verbondenheid in Christus, die genade waaruit jy gered is, die roe­ping om heilig te wees, die opgaaf om eensgesind te wees voorop staan, is verskillende menings ’n geleentheid om ’n getuienis te lewer en te bevestig dat die liefde van Christus sterker is as alles. Francis Shaefer sê iewers: “Our relationship with each other is the criterion the world uses to judge whether our message is truthful.” Ons het nou ’n belangrike geleentheid om die egtheid van ons boodskap van Christus se oorwel­digende liefde te toon deur ons verhou­ding met mekaar. Ons verleenthede word mos dikwels God se geleenthede.

Ons sal weer moet kalibreer op Jesus Christus. Ons kan nie aan die een kant almal die gesag van die Skrif verdedig en dan mekaar tot skande probeer maak nie. Ons kan nie God se heiligheid be­skerm op ’n manier wat geen blyke gee dat dit die heilige Een is wat in ons leef en ons verhoudings se aard bepaal nie. Ons kan nie mekaar probeer wegjaag of dreig of afransel of oorwin en dan aan­spraak maak dat ons die eer van die Here in gedagte het nie. As ons nie die waarheid van die evangelie in liefde verkondig nie, doen ons die waarheid leed aan. Gelukkig is daar soveel plekke in die kerk waar ons oor die afgelope tyd daarin kon slaag. Ek hoor en sien die mooiste getuienisse van gelowiges wat van mekaar verskil, maar steeds vir mekaar omgee en sorg. Om op ’n kerklike manier te verskil is immers niks anders as om die liefde van Christus bo alles baie ernstig te neem en met mekaar ’n liefdespad te loop nie. In hierdie dae bid ek dat ons soos Paulus die wysheid sal hê om nie ons gewaande kennis van al God se geheimenisse aan mekaar te probeer opdwing nie. Laat ons wanneer ons van mekaar en met mekaar praat en dalk verskil, sterk wees in ons besef van die krag van die Gees om ons oor grense met mekaar in heilige verhoudings te hou. En mag ons wanneer ons saamdink en besin almal Jesus Chris­tus weet, so dat sy genade sal oorwin.

▶Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.