Die dinge wat ons verbaas, of nie …

http://kerkbode.christians.co.za/2018/11/06/die-dinge-wat-ons-verbaas-of-nie/

Een van my goeie vriende sê: “As iets jou nie meer verbaas nie, moet jy weet dit is nou deel van die kultuur.” Dit verbaas niemand as ’n gemeente ’n basaar hou nie, maar as ’n gemeente hulle basaar so organiseer dat hulle ook goedkoop kos aan die armes in die gemeenskap verskaf, let mense dit op. Dit verbaas niemand as ’n gemeente ’n Sondagskool het nie, maar as daardie Sondagskool vol kinders van buite die gemeente is, is dit merkwaardig.

Die kultuur van ’n gemeente word nie bepaal deur die dinge wat ons nou en dan doen of in die groot gebaar nie. Die kultuur word bepaal deur die dinge wat ons oor en oor doen, dit lê in ons gewoontes.

Een van die redes waarom ons die woord “missio­naal” in plaas van “missionêr” gebruik, is om te sê dat ons oor iets nuuts praat. Tevore het ons van ’n missionêre gemeente gepraat as een met uitreikprojekte. “Missionaliteit” gaan oor gemeentes wat op ’n nuwe manier leef. Dit beteken dat nie net ’n groepie entoe­siaste besig is met uitreik nie maar dat die kultuur van die gemeente verander. Almal is op een of ander ma­nier deel daarvan dat die gemeente nie ter wille van homself leef nie, maar om sout en lig vir die wêreld te wees.

’n Baie goeie manier om so ’n kultuurverandering te laat gebeur, is om dinge wat die gemeente reeds doen, anders te doen. Dit is meestal ook nie baie moei­lik nie.

Alle gemeentes hou eredienste. Die idee is nie nood­wendig om ’n nuwe uitreik-erediens te begin nie, maar om te kyk hoe ons bestaande erediens vriendeliker en oper kan wees. Dalk moet ons tyd gee dat almal mekaar groet en nuwelinge verwelkom. Miskien moet die dominee sy taal aanpas dat dit meer klink soos die gewone taal wat mense praat. Ander sal die liturgie meer toeganklik maak vir besoekers. Die gewoonte waaroor dit gaan, is gasvryheid.

Ons het die goeie gewoonte om vergaderings te open deur uit die Bybel te lees en saam te bid. Vir ’n missionale kultuurverandering sal vergaderings meer tyd begin spandeer om God se roeping uit die Woord te onderskei. Die gewoonte wat ons wil kweek, is geloofsonderskeiding.

In die begin is nuwe gewoontes ’n bietjie vreemd, maar geleidelik word dit normaal. Dan verbaas dit niemand as nuwe mense deel word van die gemeente of as lidmate hulle roeping in die wêreld uitleef nie. En dan het die kultuur verander.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.