Die belangrikste idee in die Bybel in 40 dosisse

http://kerkbode.christians.co.za/2017/10/12/die-belangrikste-idee-die-bybel-40-dosisse/

40 DAYS LIVING THE JESUS CREED
Scot McKnight
Paraclete Press, 2008


In die NG Kerk verstaan ons nie altyd die waarde van herhaling en inoefe­ning nie. My vrou, ’n musiek­onderwyser, skud dikwels haar kop hieroor. Sy sê: “Julle dominees dink mos as jy iets gesê het en mense het dit gehoor, het dit gebeur.” En dan voeg sy soms ook by: “Dis hoekom jy nooit gholf bemeester het nie. Jy kan nie net opdaag en speel nie. Jy moet oefen.” Eina!

Aan die ander kant kan ons darem om versagting pleit. Die idee van ’n 40 dae-veldtog of ’n 40 dae-vas is teen hierdie tyd in baie gemeentes goed gevestig. Die beginsel is dat as jy 40 opeenvolgende dae aan een ding spandeer, sal dit daarna vasgelê wees in jou denk­patrone en gedrag. Of dit foolproof is, weet ek nie, maar oor die waarde van ses weke besig wees met een groot waarheid, kan ’n mens nie twyfel nie.

Scot Mcknight se 40 Days living the Jesus Creed vat die belangrikste idee in die Bybel en gee dit vir jou in 40 daaglikse dosisse. Die “Jesus Creed” is niks anders nie as Jesus se groot opdrag: om God bo alles en jou naaste soos jouself lief te hê.

Die 40 dae-boek is gebaseer op sy meer volledige topverkoper: The Jesus Creed en is bedoel vir persoonlike of gesamentlike studie.

Die boek is baie goed saamgestel. Dit werk met die Ou en die Nuwe Testament, met die evangelies en die briewe. Hy bring ook perspektiewe van ander belang­rike teoloë soos Miroslav Volf na die tafel.

McKnight is ’n uiters bekwame teoloog, en in hierdie boek sien ’n mens goeie teologie met persoonlike toewyding en spiritualiteit versny. Jy kan nie so ’n boek skryf as jy nie self ’n volgeling van Jesus is wat Hom baie ernstig opneem nie. Hierdie boek gaan dan ook oor Scot Mc­Knight se persoonlike lewenscredo: om die liefde te leef.

Ek hou daarvan as ek die goeie goed pynloos kan inkry. Dit is wat McKnight in hierdie boek doen. Dit is hoërgraad-Christendom wat eenvoudig gemaak is en dit vra vir ’n ware meester. Albert Einstein het gesê: “Die definisie van genialiteit is om die komplekse te vat en dit eenvoudig te maak.” Dankie Scot!

Dr Lourens Bosman is leierleraar van die NG gemeente Lux Mundi in Pretoria en ondervoorsitter van die Oostelike Sinode se sinodale diensraad.

The post Die belangrikste idee in die Bybel in 40 dosisse appeared first on e•Kerkbode.