‘Die bediening is ’n lewensoffer’

Dit lyk of die Bybel uiteenlopende standpunte oor predikante se vergoeding het. 1 Ti­moteus 5:17-18 stel dit onomwonde: “Die ouderling wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee, want die Skrif sê: ‘Jy mag nie ’n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie’. En ook: ‘Die arbeider is geregtig op sy loon’.” Paulus verduidelik in 1 Kor 9:14: “So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang”. Hy gebruik ook verskeie voorbeelde om sy punt te illustreer (1 Kor 9:7): “Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant ’n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?”

Maar dan is daar ook ’n ander kant. In dieselfde 1 Korintiërs 9 skryf Paulus (v12b): “Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie.” In vers 18 voeg hy dan by: “Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kos­te­loos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.” In 2 Korintiërs 11:7 verklaar Paulus aan die Korintiërs: “Sonder vergoeding het ek die evangelie van God aan julle verkondig.”

Predikante se bediening is inder­daad ’n lewensoffer in diens van die versoe­ning van Jesus Christus. Filippense 2:5 roep predikante op om dieselfde gesindheid as Jesus te hê wat Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem. Vergoedingsbeginsels vir predikante behoort altyd benader te word van­uit die unieke aard van die posisie van die predikant, naamlik ’n geroepene wat in diens van Jesus Christus is. Die­nend – nie ter wille van vergoeding nie, maar dienend as slaaf wat geroep is om te doen wat hy/sy doen en dankbaar lewensbrood ontvang as beloning. Die predikant leef met die opdrag en belofte van Hebreêrs 13:5: “Hou julle lewe vry van geld­gierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’”

Dit is nie gepas dat predikante aanspraak maak en allerlei eise stel oor vergoeding (of salarisskale) asof dit iets is wat hulle verdien nie. Die predikant, as geroepene in diens van Jesus Christus, behoort nooit gesien te word as iemand wat bloot werk om ’n salaris aan die einde van die maand te kry nie. Van­uit die predikant se roeping be­skou, word die arbeidsverhouding waarin die predikant staan dus eerstens gesien as ’n verantwoordelikheid teen­oor God, en dan sekondêr as ’n werkgewer / werknemer verhouding. Die feit dat sekulêre wetgewing bestaan om diens­ver­hou­dinge te reël, mag predikante nie verlei om dit as die basis van hulle verhou­ding met die kerk te beskou nie.

Oor die jare was daar dikwels op­roepe van predikante om vanuit ’n sentrale fonds vergoed te word. Die motivering is dikwels direk uit die Bybel: “Julle wat nou oorvloed het, (moet) dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig.” (2 Kor 8:14). Hierdie voorstel­le vir ’n sentrale fonds kan egter om verskeie redes nie slaag nie:

Die somme klop nie. ’n Haalbare mo­del kon oor al die jare nog nie voorgelê word nie. Wes-Kaap se sinode het pas (Mei 2019) weer so ’n voorstel ontvang, maar die uitnodiging om die somme te maak, het tot dusver op niks uitgeloop nie.

Met die verstaan van die presbite­riale kerkregeringstelsel van die NG Kerk dat die plaaslike gemeente ecclesia completa (volledig kerk) is, bepaal gemeentes self hulle diensverhouding met die predikant. In ’n episkopaalse kerkregeringstelsel (soos die Katolieke Kerk) kan elke detail vanuit ’n sentrale punt beheer word – ook wie wanneer en waarheen verplaas word.

Lewensonderhoud verskil van plek tot plek, van kultuur tot kultuur en gemeenskap tot gemeenskap. Die predikant behoort die konsekwensies te aanvaar soos dit vergestalt word in elke bedieningsomgewing (gemeente of streek).

Uiteraard is daar deernis met gemeentes en predikante wat swaarkry. Die ring en sinode behoort inderdaad in sulke omstandighede betrokke te raak en deur visitasie seker te maak dat Artikel 13 van die Kerkorde nagekom word: “Die gemeente in wie se diens ’n predikant staan, sien om na sy / haar geestelike, emosionele en fisieke behoeftes, is medeverantwoordelik vir sy/haar bedieningsontwikkeling en is verantwoordelik vir sy/haar lewensonderhoud soos ooreengekom.”

▶Ds Bossie Minnaar is die Saakgelastigde van die NG Kerk in SA (Wes-Kaapland).