‘Daar is baie liefde’

http://kerkbode.christians.co.za/2017/09/13/daar-baie-liefde/

Een van die talle huise wat in die brand vernietig is.

“Ek het in my lewe nie geweet Suid-Afrika­ners kan nog so saamstaan nie.”

Dít is die refrein wat keer op keer herhaal wanneer inwoners van Knysna en Plettenbergbaai van hul ervaringe tydens die verwoestende brande vroeg in Junie vertel.

Dit was waarskynlik die grootste veldbrand wat Suid-Afrika in die onlangse geskiedenis getref het. Meer as 700 huise in Knysna en 100 huise in Pletten­berg­baai het in die slag gebly. Enkele perso­ne is oor­lede.

“Een oomblik sien ons die vuur is nog doer, en toe ons weer kyk moet ons hardloop,” vertel Noleen van Wyk van Kranshoek naby Plettenbergbaai.

“Dit was minute,” sê Henry Moody, voor sy huis in Kranshoek daar­mee heen was.

“My vriende het my gehelp om meubels uit die huis uit te dra, maar ek het baie Christelike boeke, tydskrifte, en sentimentele goed soos foto’s verloor. Nou is dit as.”

Charmaine Smith, predikantsvrou van die Suiderkruis-gemeente in Plettenbergbaai, het gehelp om die kerksaal in ’n versor­gingsentrum te omskep vir mense wat noodgedwonge moes ont­ruim. Later het hul fokus daarna geskuif om die brandbestryders by te staan. Die brandweerstasie is reg oorkant die kerkgebou.

“Met die brande het ons gemeente agtergekom ons is hier vir die brandweer. Die Here het ons hier ge­plaas, 30 jaar terug, sonder dat ons geweet het wat vandag op ons wag.”

Marelé Pretorius, ook van die Suiderkruis-gemeen­te, sê sy was stom­geslaan deur die goedheid van vreem­de mense wat die gemeente se pogings om hulp te verleen, ondersteun het. “Ek was in my lewe nog nooit so trots om aan ’n gemeenskap en ’n kerk te be­hoort nie.”

Paul Perold van Brenton-on-Sea naby Knysna sê hy het een ding geleer tydens die tragedie. “Mense met die regte gesindheid maak hulle hart en sakke ontsettend maklik oop. Ons het baie om vir ons medemens te gee. Liefde of goed – dit maak nie saak nie. Dit is deel van die Skrif.”

“’n Mens dink mense gee nie meer om nie, maar mense gee nog om. Ek het gedink daar is nie meer liefde in die wêreld nie, maar daar is ’n verskriklike klomp liefde,” sê Noleen.

The post ‘Daar is baie liefde’ appeared first on e•Kerkbode.