Christenskap is ’n leefstyl van omgee en diens

http://kerkbode.christians.co.za/2018/07/03/christenskap-is-n-leefstyl-van-omgee-en-diens/

Gelowiges staan saam by die kruis tydens Paassondag se diens op die heuwel bokant Wallaceton. Foto: Matthew Aitken

Ná ’n bediening wat 43 jaar gelede in Fort Victoria begin het en hulle na Onderstepoort, Upington en Elarduspark geneem het, is ds Jannie du Plessis en sy vrou Sunet die afgelope paar jaar in Skotland. SUNET du Plessis vertel van die bediening daar.


In 2011, op besoek aan Skotland, raak ds Jannie du Plessis bewus van die Skotse kerk se nood aan predikante. Agtien maande later tree hy in gesprek met die Church of Scotland en spesifiek met twee plattelandse gemeentes, Dunscore linked with Glencairn en Moniaive, hier in Dumfries and Galloway, die versteekte juweel van Skotland.

Jannie het as gestuurde van die NG gemeente Elarduspark hier kom werk, as leenpredikant, vir ’n periode van drie tot ses jaar. Ons woon nou amper vyf jaar op Wallaceton, in ’n pastorie met ’n verruklike uitsig oor die Cairn-vallei.

Dis nogal ’n uitdaging om in ’n nuwe konteks met ’n vreemde kultuur en boonop in ’n totaal sekulêre omgewing, die evangelie in jou tweede taal te bring. Hier is God uit die samelewing verwyder en om oor Hom te praat en te getuig, gee aanstoot. Ateïsme het die default geword.

Die Skotse Kerk het die jeug grootliks verloor. Hier is slegs enkele predikante onder die ouderdom van 40. Jannie is amper 70, maar die ander predikante noem hom “Laddie”!

Verder is die weer ’n groot uitdaging, ook vir die gemoed. 

Ons het egter gou besef dat ons oopkop moet wees en met ’n hart vol van God se onvoorwaardelike liefde die mense moet ontmoet waar hulle is.

Elke begrafnis is ’n geleentheid om die genade van Christus te verkondig, want dan is man en muis daar – gelowiges, agnostici en ateïste.

Kort na ons aankoms hier, sterf ’n jong dogter van 17. Die gesin was glad nie kerkmense nie, maar die pa het nederig en broos kom vra of sy dogter uit die kerk begrawe mag word. Hy is verseker van God se onvoorwaardelike liefde.

Sedert sy dogter se begrafnis, woon hierdie man die eredienste getrou by. Hy en sy ander dogter het ook kom vra dat haar buite-egtelike kindjie gedoop word. Daar is meer sulke verhale van mense wat kerklos geraak het en deur begrafnisboodskappe oor God se genade, terugkeer na die Here en met oorgawe by die kerk betrokke raak.

Begrafnisse en bikers

Dis tragies: slegte nuus is vir die kerk hier goeie nuus.

Huweliksvoorbereiding bied ook die geleentheid om Christus se liefde te deel. Moniaive is ’n skilderagtige kunstenaarsdorp waar motorfietsryers gereeld saamtrek. Twee bikers het in die hotel in Moniaive verloof geraak en hulle vra Jannie toe om hulle in die huwelik te bevestig. Albei het ingewillig tot huweliksvoorbereiding en die man, wat glad nie die Bybel ken nie, was geïnteresseerd en betrokke by die gesprek.

Jannie en Sunet by die kunswerk van Andy Goldsworthy, op die hertog van Buccleuch se grond, naby hulle huis. Foto: Cornel du Plessis

’n Maand later kry ek hulle in die voorportaal van die pastorie, waar die huilende, getatoeëerde Skotse bruidegom met poniestert en oorbelle my man hartlik omhels. Sy gesig straal toe hy vertel dat die Woord hom by die troue só aangespreek het dat hy by ’n kerk in Glasgow, waar hulle woon, gaan aanklop het en die Here Jesus ontmoet het.

Die bruid se ouers het ook gekom om dankie te sê, want sy is na baie jare weer terug by die Here. Dit was ’n hoendervleiservaring.

By ’n doopgeleentheid verlede jaar, het Jannie die doop so eenvoudig as moontlik aan die kinders wat teenwoordig was, verduidelik. Hy kry agterna ’n e-pos van ’n ma wat sê haar dogtertjie het haar na die doopdiens gevra waarom sy nie gedoop is nie en sy dring daarop aan om ook gedoop te word. Dit het gelei tot nog ’n besondere geleentheid.

Jannie was bevoorreg om ’n Covenanter-diens by ’n konventikel te hou. By dié geleentheid het hy ook twee kinders gedoop. Die Covenanters was Skotse gelowiges (Presbiteriaans) wat in die 17de eeu gekant was teen die kerklike inmenging van die Stuart-koningshuis en die eis dat die koning as hoof van die kerk erken sal word. Diegene wat Christus alleen as hoof van die kerk bely het, is wreed vervolg en selfs tereggestel.

Afgesette predikante het met die risiko van lewensverlies in afgeleë valleie tussen hoë heuwels dienste gehou. Hier in die suidweste van Skotland is monumente van sulke konventikels en daar word steeds vandag gedenkdienste gehou.

Albei ons gemeentes reik uit na die gemeenskap, deur brûe te bou na ongelowiges. In die wintermaande word middagetes in die kerk aangebied. Die kerk het stapgroepe, pluimbal, voëlkyk-uitstappies en leeskringe, asook “café church” om families te betrek. Dis alles inisiatiewe wat van die kerk uitgaan, maar dit is inklusief en oop vir almal.

’n Interessante verwikkeling is dat die Tango-groep van Moniaive (almal buite-kerklikes) aangebied het om ook ’n beurt te neem om kos te maak en by die kerk te bedien en die fondse wat só gegenereer word, vir die kerk te gee. Volgens hulle bedien ons hulle altyd met soveel liefde, dat hulle ook iets van hierdie liefde wil teruggee. Hulle het al twee keer smaaklike, stylvolle etes aangebied.

Sommige skakel nou ook by ander kerklike aktiwiteite in. 

Moniaive hou jaarliks ’n Blue Grass Festival en die erediens word daardie Sondag ingerig as ’n Blue Grass Gospel Service. Dit word bygewoon deur kerkgangers en buite-kerklikes van oor die hele Brittanje en bands uit talle lande van die wêreld.

Sommige van die orkeslede wat inwillig om in die kerk te speel, bely openlik dat hulle ateïste is. Juis hiérdie musikante kom dikwels agterna dankie sê en ons word jaarliks verras deur positiewe terugvoer oor die Christelike boodskap, ook van jongmense. Dit vra baie voorbereiding om die boodskap telkens vars, eietyds en treffend oor te dra.

Die skep van alternatiewe geloofsgemeenskappe wat meewerk aan die uitbreiding van die koninkryk, is die groot uitdaging. Ons twee kleingroepe (die bywoning is tussen agt en 14 mense per groep) vergader by die pastorie op ’n Woensdagaand en in Moniaive op ’n Donderdagaand. Dit is die hartklop van ons bediening hier: “Connect – connecting with God and one another”.

Twee ouderlinge, Matthew en Kath Aitken, daag met hulle fietse op by die kleingroep-byeenkomste. Hulle hou hulle koolstofvoetspoor fyn dop! Foto: Sunet du Plessis

Ons sing graag en die Bybelstudie is ’n gemaklike, oop gesprek, relevant vir ons tyd. Connect verwelkom mense van alle denominasies en buite-kerklikes. So word dit die poort waardeur mense uiteindelik ook weer die erediens kom bywoon.

Dunscore-gemeente is ingestel op gelowiges se verantwoordelikheid ten opsigte van God se skepping. Hulle leef ’n eenvoudiger, groener leefstyl en beoefen etiese koopgewoontes. Ons twee val in by hierdie alternatiewe leefstyl.

Die kerkie het reeds verskeie nasionale eko-toekennings ontvang en is voortdurend besig om dinge soos “ethical banking” en “Fair Trade” te bevorder. Lidmate is bewus van hulle koolstofvoetspoor en baie gebruik fietse as vervoermiddel. Een het selfs op sy 70ste verjaardag met die fiets Edinburgh toe gery – ’n afstand van 112 km! 

As chaplain by die laerskole in Moniaive en Dunscore, het Jannie die geleentheid om met die kinders Bybelse riglyne oor onderwerpe te deel. Sy handpop, Ethan, vergesel hom dikwels na gesinsdienste wat plaasvind in Kerstyd, Paasfees, Oesfees en tydens Dunscore se dorpsfees.

‘Bacon rolls’ op die Skotse heuwels

Tydens Paasfees hou ons, onder andere, die Sondagoggend vroeg ’n opstandingsdiens hier bo in die heuwels. Die uitsig, die atmosfeer en die ervaring kan moeilik verwoord word. Daarna eet ons “bacon rolls” by die pastorie.

Hier het ons geleer dat ouderdom irrelevant is in God se koninkryk, want ons betrokke lidmate (80% bo 60 jaar!) is dinamies en entoesiasties. Hulle kommunikeer gemaklik met mense van alle ouderdomme en hul sin vir humor is legendaries.

Daar is ’n groot begeerte by hierdie ouer lidmate om weer kinders en jong ouers te bereik. Tydens die somervakansies, het Dunscore-gemeente ’n vakansieklub vir kinders, ’n geleentheid om daagliks met die kinders ’n Bybelverhaal te deel. Deur spel en ander aktiwiteite word Bybelse waardes oorgedra. Dit is gebedsverhoring dat ons hierdie geleenthede kry, ten spyte van sekulêre wetgewing wat die geloofsonderrig aan kinders inperk.

Ons lidmate is hands on betrokke by barmhartigheidsprojekte. Dit is kenmerkend van die Church of Scotland: Christenskap is vir hulle meer as my persoonlike redding, dis ’n leefstyl van omgee en diens. Die lidmate is inklusief, warm en verwelkomend en sal nooit iemand van ’n ander kultuur of seksuele oriëntasie ongemaklik laat voel nie.

’n Borgskap het die onlangse herstel en opknapping van Dunscore-gemeente moontlik gemaak. Dit is veral te danke aan die inspirerende nalatenskap van Jane Haining (6 Junie 1897 – 16 Augustus 1944). Sy het in Dunscore grootgeword. Sy word sendeling en versorg Joodse dogters by die Skotse Sendingskool in Boedapest. In 1944 word sy deur die Skotse Kerk teruggeroep weens die Nazi-bedreiging. Sy het geweier om die Joodse dogters te verlaat in die donkerste uur van hulle lewe en so word sy die enigste Skot wat in Auschwitz sterf. 

Die “Rededication Service” van Dunscore se kerk, ná die herstelwerk en verbeteringe om dit warm, toeganklik en meerdoelig te maak. Foto: Alison Boyes

Kort nadat ons hier gekom het, stuur iemand vir Jannie na Lynn toe. Lynn was in die finale fase van kanker en baie soekend. Sy vertel toe vir Jannie dat sy ander godsdienste probeer het, maar steeds nie vrede het nie. Haar woorde was: “Help me to find home.” Lynn leer op daardie dag dat “home” nie ’n plek is nie, maar ’n persoon: Jesus Christus. Sy het dadelik eredienste en ander geleenthede kom bywoon, met haar kopdoekie en oë vol pyn, maar diep gelukkig. Sy het waarlik gelééf tot sy 11 maande later weg is. 

Op haar begrafnis vertel Jannie: “She accepted Christ as her Saviour that day. And then started one of the best journeys of my life, not so much because of what I meant to her, but because of what she meant to me.”

Dit is miskien die beste manier om ons werk hier te verwoord: Dit gaan nie oor watter verskil ons in Skotland maak nie, maar eerder watter verskil hierdie geloofsreis in ons eie lewe maak.