Christendom, Islam en versoening

https://kerkbode.christians.co.za/2019/05/15/christendom-islam-en-versoening/

Versoenende handelinge is onontbeerlik as ons menslik wil saamleef, veral ook as gelowiges wat aan verskillende godsdienste behoort, skryf CHRIS JONES.


In Genesis 16 en 21 staan Abraham, die oervader van alle gelowiges afgebeeld, en aan weerskante van hom, sy vrou Sara, en Hagar. In hierdie verhaal is Hagar ’n slavin. Sy het geen regte nie. In Kanaän het sy geen geskiedenis nie, geen identiteit nie – daar word na haar bloot verwys as die slavin van Sara. Tog word sy die ma van ’n beloofde kind. In hierdie verhaal gaan dit oor Abraham se onverskilligheid, Sara se wreedheid en Hagar se ellende. Hagar vlug, want sy kan dit nie meer uithou nie. Sy is deur Sara behandel soos die Farao Israel behandel het. Die ellende van Israel word Hagar se ellende.

In die woestyn is daar vir die eerste keer volgens die Bybelverhaal sprake van ’n engel wat aan iemand verskyn, en dít aan ’n Egiptiese, heidense vrou. Hierdie engel, eintlik God self volgens die verhaal, moedig haar aan om terug te gaan na Sara. Vir haar en haar kind is daar geen hoop in die woestyn nie. Hulle sal nie oorleef nie. Sy moet teruggaan omdat daar aan haar en haar kind ’n belofte gemaak is: Ismael is die seun van Abraham, erfgenaam van al die beloftes van God. Vir Hagar sê God: “Kyk, jy is swanger; jy sal ’n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Ismael noem …” (Gen 16:11). Sy word uitgesonder deur God. In die Nuwe Testament lees ons van nóg ’n belofte, nóg ’n engel aan nóg ’n arm, magtelose meisie: “Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem” (Luk 1:31). Maria word hierdeur aan Hagar verbind. Hagar word eintlik haar oudste suster, want die belofte aan Hagar word woordeliks die belofte aan Maria. En só word Hagar ingeweef in die bevrydingstapisserie van God tot by die koms van die Messias.

Hagar word ook Abraham se gelyke volgens eksegete. As Abraham die vader van gelowiges genoem mag word, word Hagar die moeder van almal wat glo. Sara word egter vir ’n tweede keer woedend en maak dit duidelik dat daar vir Hagar en haar seun geen plek by hulle is nie. Ismael mag nie saam met Isak erf nie. Abraham stuur hulle weg met die minimum bestaansmiddele. Abraham neem vir ’n tweede keer geen verantwoordelikheid vir sy seun Ismael nie. Hagar word alleen gelaat om hierdie seun groot te maak. Die belofte van God word saam met hulle die woestyn in gejaag.

As die seun dáár begin huil, hoor die engel van God hom. God praat met ’n teerheid volgens hierdie verhaal, en word die vader vir Ismael wat hy nooit geken het nie. Wat Abraham nie wou wees nie, dít word God. In die woestyn maak God die oë van Hagar oop as hulle swaarkry, en sy sien ’n put waaruit sy haar sak vol water kan maak. “En God was met die seun …” (Gen 21:20). Ismael word gered, sy toekoms verseker. Hierdie ma en seun sal bly klop aan die deur van die geskiedenis. Ook vir Ismael geld die woorde: “Ek het jou by die naam geroep, jy is myne.” Geen teologie kan dit verander nie. Eeue se Christelike uitleg en vooroordeel kan hierdie vrou nie stil kry nie. Selfs die woestyn kon hulle nie gevange hou nie.

Volgens Genesis 25 kom Abraham te sterwe en word by Sara begrawe. En dan staan daar in vers 9: “Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe …” Dit is merkwaardig, want hierdie twee is deur Isak se ma uitmekaar gejaag. Ismael kon vir Isak en Abraham gehaat het, maar hier, soveel jare later, staan hulle saam by die graf van hulle vader. Versoen, ten spyte van haat, vervreemding, vyandskap, pyn, onteiening en veragting. Die seun van die kamp, en die seun van die woestyn. Die geseënde en die verjaagde. Albei kinders van die belofte. Beide hartseer oor ʼn vader wat gesterf het.

Hulle ontdek dat versoening onontbeerlik is as hulle menslik wil lewe. Ismael vergewe vir Isak, en Isak gee vir Ismael terug wat Abraham en Sara hom ontneem het. Hy waag dit met Ismael, en laasgenoemde laat die vlag sak.

Isak waag dit in die geloof dat Ismael groter sal wees as sy wrok – dat sy liefde sterker as hulle verlede sal wees. Hy hoop dat Ismael, soos God hóm in die woestyn gehoor het, die stille pleidooi in sy (Isak se) hart sal hoor. Na die dood van Abraham seën God vir Isak en gaan woon hy by dieselfde put waar Hagar vir die eerste keer die engel gesien het: daardie plek van verwondering en lewe. En só word ook Isak en Hagar een.

Volgens Islam, word Ismael gesien as die oervader van Mohammed, profeet en grondlegger van die Islam-geloof, terwyl Jode en Christene hulleself deur die eeue sterk geassosieer het met Isak. Abraham is egter die gemeenskaplike stamvader van die Jode, Christene en Moslems. Daar kan dus nie enige twyfel wees oor hoe ons binne God se ryke, vreemde genade, as persone wat behoort aan die Abrahamitiese godsdienste, teenoor mekaar behoort op te tree nie. Ons is medereisgenote. Broers en susters – wat mekaar in tye van nood en hartseer behoort by te staan, te ondersteun en vir mekaar in te tree.

Bron: Allan Boesak, 2005. Die vlug van Gods verbeelding. Stellenbosch: Sun Press.

Dr Chris Jones is verbonde aan die Eenheid: Morele Leierskap, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.