Charlotte het aanhou dans

http://kerkbode.christians.co.za/2018/09/10/charlotte-het-aanhou-dans/

Charlotte Sibanyoni. Foto: Ingrid Ballot

“Waarom hou ons ’n Vrouedagtee?” vra Bessie Keun op 18 Augustus in NG gemeente Skuilkrans se kerksaal.

“Dit bemagtig vroue om ’n verskil te maak en oor kultuur­grense heen te beweeg,” antwoord sy self. Bessie haal Mahatma Gandhi aan: “We must be the change we want to see.”

Vanjaar is die 17de jaar wat die VisiePlustak van Die Dameskring ’n tee vir vroue in samewerking met Skuilkrans aanbied.

Unith Warries lees uit Habakuk 3:17-19: “… nogtans sal ek jubel … sal ek juig in God, my Redder.” Dié Skrifgedeelte sluit aan by die tema van die dag: “Dans ondanks …”

Die spreker, Charlotte Sibanyoni, het feitlik onmiddellik die dames in die holte van haar hand. Sy is ’n teologiestudent wat haar gemeentejaar by die Lux Mundi-gemeente doen.

Charlotte lag as sy vertel dat sy matriek deurge­skraap het en tog haar graad met lof behaal het. Sy het ook ’n meestersgraad in die Ou Testament gedoen, en werk tans aan haar doktorsgraad in Hebreeus. Sy gee klas in Hebreeus vir eerstejaars aan die Universiteit van Pretoria (UP).

Marena Lotriet, wat in ’n stadium terugvoering aan die departement oor een van haar klasse moes gee, vertel dat dit ’n openbaring was om te sien hoe sy met die oorwegend manlike wit Afrikaner-studente ge­werk het.

Charlotte se storie is een van verlies en seerkry. En tog het sy by vergifnis uitgekom. Sy dans ondanks …

Sy het as klein kindjie saam met haar ma in ’n bedien­dekamer gebly. In ’n stadium het haar ma die toneel verlaat. (Hulle het intussen vrede gemaak en bly op die oomblik saam).

Sy het verskeie kere by blanke gesinne geland waar sy soos een van die gesin geword het. Sy vertel dat sy uit plastieksakke geleef het en dat plastieksakke steeds vir haar ’n onaangename konnotasie het.

Totdat sy by haar mentor en sy gesin uitgekom het: ds Johan van Niekerk van die NG gemeente Concordia. Hy het haar saam op huisbesoek geneem en later saam met haar gebid dat haar droom om teologie te studeer, bewaarheid sou word.

Hy het vir haar soos die vader geword wat haar afwesige pa nooit kon wees nie. Dit is hy wat vir haar gesê het sy moet met haar pa kontak maak. Sy het drie keer gegaan en is drie keer verwerp. Maar tog het sy bly dans.

Die manier waarop Johan van Niekerk met mense omgegaan het, het haar aangespoor om teologie te studeer. En die wonderwerk gebeur toe dat Jacaranda Good Morning Angels R80 000 skenk sodat sy met haar studies aan die UP kon begin. ’n Anonieme persoon het ook later vir haar doktorsgraad betaal. Ds Van Niekerk is intussen oorlede.

“Laat haat gaan,” sê Charlotte. “Vergewe. Sodat die Here met jou kan werk.”