Bybel-toep ontsluit Bybel vir kinders

http://kerkbode.christians.co.za/2018/06/25/bybel-toep-ontsluit-bybel-vir-kinders/

Die algemene gebruik van skerms onder kinders laat ouers baie keer kopkrap oor waar hulle heilsame toeps vir hulle kinders kan vind. Bible App for Kids/Die Bybel app vir kinders kan beslis by die lysie gevoeg word! 

Die fokus op Bybelverhale, aangebied met verstaanbare taalgebruik en vriendelike grafika, trek verseker aandag. Dit kan ouers bystaan om nuwe verhale by kinders te vestig of op ’n interaktiewe en prettige wyse reeds bekende verhale te herontdek. Die speletjies wat aan die einde van elke verhaal beskikbaar gestel word bied verder die geleentheid om die verhale te hersien.

Die Bybel-toepassing (app) vir selfone en tablette wat moontlik die meeste, oor verskeie platforms, afgelaai word, is YouVersion en Life.Church se gratis toepassing, “Bible”. Dit spog met 1 725 weergawes in 1 211 tale wat wettig op jou gekose platform beskikbaar is.

Ek was daarom bly dat ’n groep, wat reeds vertroue verdien het, ’n elektroniese Bybel vir kinders – in Afrikaans – beskikbaar gestel het en verder trots om te hoor dat ds Corné Randall van die NG gemeente Overkruin as stemkunstenaar vir hierdie toepassing opgetree het.

Die Bybelverhale-toepassing bied, terwyl die verteller die verhaal oordra, die teks op die skerm. Dit help ouers om ’n liefde vir lees by hulle kinders te kweek en kan ook bydra tot ’n nadenkende omgaan met Bybelverhale.

Baie ouers vind dit uitdagend om met hulle kinders oor geloof te gesels en hierdie toepassing bied ’n baie goeie platform – een waarmee kinders gemaklik is – wat geleenthede vir gesprek rondom die Bybel bied.

Soos met die lees van enige Kinderbybel is die betrokkenheid van jou as ouer altyd eerste prys. As ouer kan jy gerus ná die lees van die Bybelverhaal (of moontlik nadat hulle die speletjie klaar gespeel het) oor die inhoud en implikasies van die verhale met jou kind gesels.

Om die toepassing af te laai: Gaan na jou gekose toepassingwinkel en soek vir “Bible app for kids” of “Die Bybel app vir kinders”. Nadat jy dit afgelaai het, is dit nodig om die Afrikaanse weergawe af te laai. Jy kan dit doen deur binne die toep, wat pas afgelaai is, op die onderste ratjie aan die regterkant te klik op “Language” en “Afrikaans” te kies. Die toepassing sal jou dan die opsie gee om op te dateer. Doen dit alvorens jy enige stories aflaai om te verhoed dat jy data mors en die stories van vooraf moet aflaai.

▶ Pieter J Visser is ’n leraar en pastorale fasiliteerder by die NG gemeente Wierdapark.