Brief uit Pretoria: Is ons harteloos teenoor haweloses?

’n Paar weke gelede ry ek toevallig verby die lyk van die vierde hawelose persoon wat in Tshwane vermoor is. ’n Polisieman, wat hom met een van daardie silwer komberse toegemaak het, het die paar brokkies inligting van die moordtoneel aan ’n verslaggewer vlak by my venster afgerammel: “In sy 40’s. Haweloos. Swart. In sy slaap met ’n mes doodgesteek.” Die laaste gedagte voor die verkeerslig my beveel het om te ry, was hoekom iemand nie vir hom die fancy kombersie kon gegee het toe hy nog lewendig was nie. Toe onthou ek – hawelose mense is nie werd om fancy goed voor te gee voor hulle dood nie. Hulle is ’n pes en hulle getalle deesdae (tussen 6 000 en 10 000 in Tshwane alleen!) het hulle ’n plaag gemaak. Hulle moet verwyder word. Dit wil nou voorkom asof iemand dit op homself geneem het om die stad uit te help. ’n Massa-moordenaar van hawelose mans is los in die hoofstad en almal wonder wie is volgende.

Ek wonder ook wie werklik te blameer is? Na die vyfde persoon vermoor is net ’n dag later en die publiek begin praat het, wou dit voorkom asof die polisie skielik begin rondkrap het om iets daadwerkliks aan die saak te doen. Die probleem is egter dat die moordenaar slegs die noodwendige gevolg van ons Suid Afrikaanse samelewing se houding teenoor hawelose mense verteenwoordig. Ons is tans midde-in ’n stoeiery tussen die verryking van dié wat in bevoordeelde- of magsposisies is en die geraap-en-skraap vir oorlewing deur dié wat nie is nie. En hawelose mense is in die pad. So lank as wat ons as ’n gemeenskap hawelose mense sien as slegs die weggooibare afsaksels van ons samelewing, sal ons die meer ekstreme vorme van ons eie stereotipering en selfsug sien in dié wat nie meer langer agter ’n valse glimlaggie of die val van ’n vinnige R1-stuk in ’n vuil hand wil wegkruip nie.

Hawelose mense verdien veel meer. Veral van volgelinge van Jesus Christus. Hawelose mense vertel my dikwels hoe kerkmense hulle behandel. “Soos vuilgoed, pastor,” vertel Temba my. Deur Temba en sy vriende het ek die anderkant van die storie gehoor.

“In die nag is ons bang. Ons kry koud. Ons word besteel. Niemand glo ons nie. Hulle kyk af na ons. Ons hustle om te oorleef. En ons gebruik dopsakkies of drugs om te hê wat julle het. Dit laat ons veilig en warm voel. Dit gee bietjie happiness. Dit laat ons vergeet van ons worries. Dis ons huis. Tot môre.” Op my vraag wat mense vir hulle kan doen, antwoord hy sonder veel hoop.

“Respekteer my. Weet dat ek is iemand se kind of broer of pa. Ken my naam. Ek begin te vergeet dat ek worthy is. Jy moet my remind.”

Jesus self herinner ons in Mat 25: 31-46 dat ons uiteindelik geoordeel sal word aan die wyse hoe ons “die geringstes van sy broers” aan hulle waardigheid herinner het deur ons optrede. Ten diepste, glo ek, is dit waaroor liefde gaan en die kerk en sy mense sal daarvolgens geoordeel word.

● Ds Smit is leraar by Pretoria gemeente.