Braai én betekenis by re-imagine matriekfees

http://kerkbode.christians.co.za/2017/12/12/braai-en-betekenis-re-imagine-matriekfees/

Die vrolike span van die re-imagine matriekfees op Heroldsbaai. Foto’s verskaf

Vanjaar het die re-imagine Matriekfeeste in Heroldsbaai en Noordhoek weereens ʼn “gesonder” alternatief op die berugte Plett Rage vir 55 skoolverlaters gebied. Dié feeste het vanaf 29 November tot 6 Desember plaasgevind.

“Na ʼn moeilike en besige matriekjaar wil die meeste matrikulante wegbreek – en verkieslik wegbreek see toe en weg van hulle ouers af,” vertel ds Faani Engelbrecht, leier van die Matriekfees in Noordhoek. Juis daarom, dink Faani, is Plett Rage, die skoolverlatersfees in Plettenbergbaai, so gewild.

“Dis sekerlik nie ontmoontlik vir ʼn kind van die Here om ook te rage nie, maar vir baie matrikulante is dit net nie die manier waarop hulle hul nuwe vryheid wil vier nie.”

Maar re-imagine se Matriekfeeste is allermins ook ʼn “kerkkamp”. Albei groepe is met ʼn skemerkelkie en braai op die strand verwelkom. En die Noordhoek-groep het die toets tussen die Springbokke en Wallis gaan kyk in ʼn kuierplek. “Dis tog ook belangrik om vir matrikulante te kan demonstreer dat daar mos ʼn beter manier is om die lewe, in sy totaliteit en in oorvloed te kan geniet. Die bokke het verloor, maar ons het tog iets gewen,” sê ds Irénée Heyns, studenteleraar in Stellenbosch, wat deel van die Noordhoek-span was.

“Ja, daar is soms oor ernstige goed gesels – soos hoe jou verhouding met jou ouers na skool kan verander en jou verhoudings – maar die meeste van die tyd is op die strand en rondom die braaivleisvure deurgebring,” sê Faani.

En die matrikulante beaam dat hulle omtrent feesgevier het, maar dat hulle week ook betekenisvol was. “Dis beslis nie ʼn kamp nie. Dit is ʼn fees waar jy nuwe vriende ontmoet en ander se stories leer ken. Ek het sommer net weer besef dat die wêreld waarin ons woon eintlik baie groter is en dat God oral rondom jou teenwoordig is,” sê Marisa de Kock van Caledon.

Vir Gericke Terblanche van Hoopstad, Vrystaat was die verhoudings wat gebou is spesiaal. “Die eerste dag was almal vir my vreemd, maar teen die laaste dag het dit vir my gevoel ek los ʼn stuk van my familie agter.”

“Ek het in net die een week meer oor myself en die lewe geleer as wat ek in ʼn hele jaar geleer het,” som Jeanne Fick van Caledon haar matriekfees-ervaring op.

The post Braai én betekenis by re-imagine matriekfees appeared first on e•Kerkbode.