Bonaeropark hou vroeë Kersfees

http://kerkbode.christians.co.za/2017/12/04/bonaeropark-hou-vroee-kersfees/

Mense soek vir hulle klere uit by Bonaero­park se Gratis Basaar. Foto: Rickus Barnard

Op Saterdag, 4 November, het die Motorfiets­klub van die NG gemeente Bonaeropark ’n vroeë Kersfees aan lede van die gemeenskap om hulle gebied. Die klub het ’n Gratis Basaar geor­ga­ni­seer waarvoor hulle donasies in die vorm van kle­re, speelgoed, TV’s, yskaste, mikrogolfoonde, bed­dens en vele meer van hulle gemeentelede ont­vang het.

Hierdie skenkings is kerk toe aangery en die wer­kers en gemeentelede het ure spandeer om alles in groe­pe, kategorieë, afdelings en groottes te sorteer en uit te pak in die saal.

Plakkate is opgesit in die woonbuurt om die Gratis Basaar te adverteer en lidmate het vir bedelaars en an­der armes kaartjies gegee om hulle uit te nooi.

Alhoewel dit ’n inisiatief van die Motorfietsklub was, het gemeentelede van regoor die spektrum en selgroepe ingespring om te help. Die Saterdagoggend was alles gereed en is die deure om 09:00 oopgemaak. Mense is in groepe van sowat 20 op ’n slag in die saal toegelaat. Elke besoeker het ’n pakkie kaartjies van verskeie kleure ontvang waarmee hulle items uit die blou, rooi en groen afdelings kon “koop”.

Elke groep is 20 minute gegee om te koop wat hulle kon (elke kaartjie het ’n item uit ’n bepaalde af­deling toegelaat). Nadat die 20 minute verby is, moes almal die saal verlaat om plek te maak vir die vol­gende groep. Op pad uit het elkeen ’n gratis bord­jie eetgoed ontvang wat bestaan het uit ’n worsbroodjie, koeldrank, sap en lekkergoed.

Na raming het net minder as 200 behoeftige persone opgedaag en is meer as R50 000 se items uitge­deel. Soveel bevoorregte mense het goed geskenk wat in hulle huise en motorhuise rondlê.

“Om mense te sien wat swaarky, om mense te sien wat bly is oor ’n paar skoene, ’n kombers, gordyne, ’n bed of ’n yskas, ’n speeldingetjie vir sy of haar kind, ruk ’n mens half tot stilstand,” se Christo Botha, organiseerder van die Gratis Basaar. “Dis in sulke tye wat elkeen wat klere het, ’n huis het, skoene het om aan te trek, ’n bed het, op hulle knieë moet gaan en dankie Here sê.

“Verseker kon ons nie almal se lewe regruk nie, maar dit was ook nie die doel nie. Die doel is om die He­re se naam hoog te hou, om Hom te loof en prys vir al die seëninge wat ons elke dag ontvang en veral om aan persone daarbuite wat swaarkry, wat hulle self­waar­de verloor het, iets terug te gee. Ons hoop dat hul­le die hand van die Here in die proses raakgesien het.”

The post Bonaeropark hou vroeë Kersfees appeared first on e•Kerkbode.