Belydenis van geloof is ’n roetemerker

http://kerkbode.christians.co.za/2018/08/06/belydenis-van-geloof-is-n-roetemerker/

As jy bergklim, is daar ’n hele aantal roetemer­kers op jou pad, soos ’n klipstapel wat vir jou die rigting aandui of ’n rivier om te kruis. Belydenis van geloof kan ook as só ’n “roetemerker” dien op jou geloofsreis.

Die Algemene Sinode het ’n taakspan gevorm om oor die betekenis en plek van belydenis van ge­loof te dink en by die volgende Algemene Sinode terug­voer te gee. Die opdrag hou verband met die nadenke oor doopviering, die problematiek van die “funksionele dubbele lidmaatskap”, asook die kindernagmaal. 

Belydenis van geloof is nie, soos sommige mense dit beskou, die afhandeling van kategese (want ons glo in lewenslange geloofsleer), die toediening van heil, die verkryging van sekere kerklike voorregte of ’n tweede vlak lidmaatskap nie. Hoe kan hierdie tradisie in ons kerk dan sinvol gevier word, sonder om teologies onverantwoordelik daarmee om te gaan?

Die term “roetemerker” kom telkens in die taakspan se gesprekke na vore. ’n “Roetemerker” ver­wys, volgens die taakspan, na ’n geloofsmoment op jou lewensreis waar jy figuurlik gesproke anker gooi wanneer jy deur stormwaters gaan of ’n klipstapel bou as jy by ’n kruispad staan.

In ’n oorgangstyd kan jy as gelowige onthou en herinner word, wie jy is (ek is gedoop), aan Wie jy behoort (Jesus Christus) en wie om jou staan en jou ondersteun (die gemeente as geloofsfamilie). Dit help jou om deur die oorgangstyd te kom en in hierdie tyd ook jou geloof te vorm, te versterk en te vier.  Wanneer jy ’n ritueel hieraan koppel, kan ’n mens dit ’n “roetemerker” noem.

Die waarde van belydenis van geloof soos dit tans in ons kerk funksioneer, is dat dit juis ’n ge­leent­heid bied om tydens ’n natuurlike lewensdeurgang (tans is dit die deurgang na jong volwassenheid) ’n geestelike “roetemerker” neer te sit. Dit be­te­ken dat ons in die eerste plek vir die persoon wat belydenis aflê, herinner wie hulle is, aan Wie hulle behoort en dat die gemeente hulle ondersteun.

Dit is belangrik om die fase waarin die persoon is (’n tyd van onsekerheid en verandering op die drumpel van jong volwassenheid) te erken en belydenis van geloof te sien as ’n geleentheid om sy/haar geloof te versterk en te vorm (eerder as om dit te toets).

Dit beteken dat die gemeente die persoon bevestig (“affirm”). Dit is ook dus belangrik om belyde­nis van geloof te koppel aan die doop. Simbole kan insluit dat die persoon sy/haar hand in die doopvont plaas (om die persoon te herinner aan sy/haar doop) asook gebed met handoplegging of salwing met olie (as te­ken van die Gees se werk in daardie persoon se lewe).

 Verder kan ’n gemeente nog deurgangsmomente in mense se lewe identifiseer en “roetemerkers” daarlangs plaas. Dink dalk aan sekere lewensfases (soos die begin van laerskool of die begin van ado­lessensie). Of dink aan sekere belewenisse byvoorbeeld van verlies, viering, toewyding of die opneem van ’n leierskapsrol. Hierdie belewenisse kan inter-generasioneel gevier word en met ’n gepaste, eenvoudige ritueel, simbool en seënbede gepaardgaan.

▶Ds Anriëtte de Ridder is die Wes-Kaapse Sinode se predikant vir jeug- en familiebediening.