Kerkbode

Streeknuus, 2 Augustus 2019

#Winterhoop: Span sê dankie

Vele Kerkbode-lesers tel sonder twy­fel onder diegene wat dit moontlik gemaak het dat die span agter vanjaar se #Winterhoop-veldtog altesaam 2 473 komberse kon uitdeel aan dié wat skuiling en sorg nodig het om die winter te oorleef. En dat daar onder meer 852 inkopiesakkie gevul met kruideniersware ingesamel is, volgens Johan Krige, hoofuitvoe­rende beampte: MES (waarnemend). Baie geluk aan MES, PEN, die Denis Hurley-sentrum en Torings van Hoop wat met dié projek wys hoe samewerking impak kan verhoog. – Kerkbode


Foto: VrydagNuus

“Nou kan ons waarlik sê: ‘ Sinethemba’ – Ons het hoop.” So sê ds Willem Botes nadat hy en ’n groep lidmate vanaf Suiderstrand- en Lourensriviergemeente in die Strand, gaan help het by Sinethemba, ’n skool vir gestremdes in die Transkei. Hulle het onder andere nuwe gordyne gaan hang en heinings, kaste en deure herstel. “Ons het ’n groep dankbare personeel en kinders van Sinethemba agtergelaat met nuwe moed om die daaglikse uitda­gings met hoop aan te pak. Ons het gegaan om te gee, maar het self soveel ryker teruggekom deur wat die Here in ons lewe gedoen het,” sê Botes.


Voormalige OB by Lentekonferensie

Die voormalige Openbare Beskermer (OB), prof Thuli Madonsela, gaan vanjaar Lentekonferensiegangers by die Universiteit van Pretoria toespreek.

Luidens www.excelsus.org.za vind die konferensie vanaf 17-19 September plaas en is die tema “Hoe ons onthou, hoe ons vergeet. Om verbeeldingryk te leef”. Die ander hoofsprekers is prof Christi van der Westhuizen en ds Gielie Hoffmann.


Foto: Le Roux Schoeman

Wellington was vanjaar die tweede laaste skof vir dié groep van Atlete vir Christus. Die roete was van Paterson in die Oos-Kaap tot Bettiesbaai in die Wes-Kaap. Die doel van dié fietstoer is om geld in te samel vir Bybel-Media se gevangenisbediening wat aan 225 tronke landwyd Bybelstudiemateriaal versprei word.


Help maatskaplike dienste in Namibië

As drie programme wat maatskaplike dienste in Namibië verskaf nie dringend finansiële ondersteuning kry nie, gaan dit “doodeenvoudig verlore gaan”.

Luidens Feldmuis, die NG Kerk in Namibië se weeklikse nuusbrief, is dit nie vir die sinode moontlik om Huis Maerua, waar kinders wat van hulle ouers weggeneem word woon, die Wildernis Terapieprogram, wat goeie resultate lewer met ontwrigte kinders en Erongo Social Services, wat op kinder- en armsorg fokus, te befonds nie.

Laasgenoemde het oornag ’n gedeelte van hulle staatsbefondsing verloor.

Jy kan help deur gebruikte goedere by O’Shoppi, ’n liefdadigheidswinkel by Lolopark in Olympia (Windhoek), af te gee. Die goedere word verkoop om geld vir dié noodsaaklike dienste in te samel.


Eenstop-webwerf vir NGK-geskiedenis

Die NG Kerk Argief is besig om die NG Kerk, sy gemeentes en predikante se geskiedenis op te teken, hetdr Andrew Kok, bestuurder van die Argief in Stellenbosch laat weet.

Jy kan help deur ’n foto van jou kerkgebou, ’n lysie van die predikante en/of ’n kort geskiedenis van jou gemeente na argief@kaapkerk.co.za te stuur.

Besoek die webwerf by www.gemeentegeskiedenis.co.za en gaan kyk na Durbanville-gemeente as voorbeeld.


Kiek jou kerkgebou

Foto: Johan Janse van Rensburg

Ds Johan Janse van Rensburg het dié foto van die kerkgebou van die NG gemeente Nieuwoudtville ingestuur. Hy deel van hulle gemeentegeskiedenis: Op 3 Mei 1897 het die Ringskommissie bymekaargekom en eenparig besluit op die afstigting van ’n gemeente wat die naam Nieuwoudtville sou dra. Die rede was omdat die grond wat die kerk vir dorpsaanleg gekoop het, aan die broers Nieuwoudt behoort het. Van die plase aan die Groenrivier waarop dié Nieuwoudts gewoon het, staan vandag nog. Die omgewing van Nieuwoudtville word soms “die Boland van die Noordweste” genoem omdat die reënval opmerklik hoër is as in die res van die distrik Calvinia.

Die pastorie, waarvan die hoekklip in 1899 gelê is, is voor die kerkgebou gebou. Die pastorie van klip het in die Tweede Vryheidsoorlog as fort gedien. Onder hierdie moeilike omstandighede het die gemeente hulle tog nog beywer vir die bou van ’n kerkgebou, opgerig uit Tafelberg-steenklip en in ’n Gotiese kruiskerkstyl. Binne-in die kerk is versierde traliewerk by die galerye wat van ingevoerde Skotse gietyster vervaardig is. Die kerkbanke is van eikehout, die preekstoel van Tafelberg-sandsteen en Betaafse teëls bedek die portaalplaveie. Die gebou bied sitplek aan altesaam 500 mense.

Amptelike nuus, 2 Augustus 2019

WES-KAAPLAND

Bevestiging

Ds Johan (JT) van Rooyen se bevestiging en intreepreek het plaasgevind op 21 Julie 2019 by die NG Kerk Vredenburg. (Suselna Theart, Admin beampte, 16.07.2019).

VRYSTAAT

Bevestiging

Prop Nicolaas Gerhardus Wessels lewer op 1 September 2019 om 09:00 sy intreepreek by die NG gem Dagbreek. (Piet Botha, voorsitter, 22.07.2019).

GOUDLAND

Bevestiging

Ds Elize Nel lewer haar intreepreek op 4 Augustus 2019 by die NG Moedergemeente Christiana. (Daleen, 22.07.2019).

Ringsitting

Die 52ste gewone vergadering van die Ring van Klerksdorp is DV Maandag, 12 Augustus 2019 vanaf 09:00 by Stilfontein-Moedergemeente. (Ds JJC Rossouw, skriba, 13.07.2019).

NOORDELIKE SINODE

Bevestiging

Ds Madelein Strydom is beroep as jeugleraar na die NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk. Haar bevestiging en intreepreek het plaasgevind op 21 Julie 2019. (Anita Hurn, Admin beampte, 12.07.2019).
Prop Jeanri Bezuidenhout is beroep na die NG gem Lynnwood in ‘n deeltydse vastetermynpos as jeugleraar. Sy word op 4 Augustus 2019 tydens die aanddiens bevestig. (Ds Immanuel van Tonder, 18.07.2019).

OOSTELIKE SINODE

Emeritaat

Ds HPW Groenewald, tans leraar van die NG gem Groblersdal, emeriteer op 29 Februarie 2020. (Ds JH Potgieter, skriba, 17.07.2019).

Stuur Amptelike Nuus na Lida Viljoen by lida@tydskrifte.co.za

‘Soms moet ons eers wegkyk van onsself …’

Foto: Hanno Coetzee

Francine Prins, redakteur van Kerk­bode se susterpubli­kasie LiG, praat oor haar nuwe boek en “reis” met dankbaarheid.

Kerkbode (KB): Hoe het jy die skryfproses aangepak?

Francine Prins (FP): Met goeie beplanning, baie selfdissipli­ne en ’n skeut senuweeagtigheid!

Ek het maar gedoen wat alle skry­wers doen: Sit op die stoel en skryf!

Soms het ek idees gekry terwyl ek in die kerk sit, of ’n artikel lees. Ander kere was dit as ek met mense gesels, in die natuur is of tydens my gebedstyd by God. Dan het ek notas gemaak, en so gou moontlik ’n stukkie daaroor pro­beer skryf.

Wat het die proses van ʼn boek skryf vir jou geleer?

Skryf is harde werk, maar daar is baie genoegdoening en vreugde in die pro­ses.

Vir my was dit belangrik om my verhouding met God sterk en lewend te hou, omdat ek Hom liefhet. Nie omdat ek besig is om ’n Christelike boek te skryf en Hom nodig het om vir my idees te gee nie. Daardie balans was soms moeilik om te handhaaf. Maar ek het geleer dat God vrygewig is: met liefde en genade en idees.

Ek het baie uit my elkedagse ontmoetings met en dink oor God geput. Maar uiteindelik was dit steeds ’n gedissiplineerde proses om die skryfwerk te doen. Soms het die woorde gevloei, en het ek gevoel soos ’n pianis wat met die Heilige Gees se begeleiding die klawers van my laptop tokkel. En ander kere was dit maar ek en my rekenaar en ’n halfgebakte idee wat ek moes uitwroeg totdat dit iets sinvols word. Later sou ek besef die Heilige Gees was ook dáár.

Is daar iets wat jou verras het rondom die tema van dankbaarheid?

Navorsing toon dat dankbare mense minder depressief is, beter gesondheid en beter verhoudings het. Goedkoop medisyne dus!

Ek het ook nie besef hoe ’n sterk tema dankbaarheid in die Bybel is nie. Paulus sê omtrent in elke brief wat hy skryf “dankie”! Ek is herinner dat dankbaarheid ’n opdrag van God is: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:18).

Wat is volgens jou die definisie vir dank­baarheid?

Om raak te sien wat jy van God (en ander) ontvang. En dat dit iets is wat jy gratis ontvang, dat dit genade is, en niks met jou eie oulikgeit te doen het nie.

Dit is ’n ingesteldheid wat deur ’n besluit kom. As jy dit genoeg kies, raak dankbaarheid ’n gewoonte.

Jy vertel in jou boek hoe ’n grootmens se gesig jou eindeloos gefas­sineer het as kind. Die tekstuur, merke, plooie … Wat sal daardie kind nou sien wanneer sy jou gesig vandag bestudeer?

Ja, ek het as kind gedink die grootmense met die plooie tussen die wenkbroue is die kwaaies, want hulle frons baie. Dié met plooie langs die mond is die vriendelikes – hulle hou van glimlag!

Die kind sal beslis lagplooitjies op my gesig raaksien. Maar ’n frons ook. Ek sou haar wel inlig dat ’n frons ook vorm as jy diep oor die lewe (en dankbaarheid!) dink.

Ek het onlangs in ’n boek raakgelees die skrywer ervaar Suid-Afrikaners meer dankbaar as Nederlanders. Wat dink jy skep ’n gevoel van dankbaarheid by mense?

Wel, by die Europeërs skyn die son mos maar min!

Dankbaarheid is ’n ingesteldheid, en enige mens kan dit aankweek. Dit gaan daaroor om raak te sien waarvoor jy kan dankie sê.

Enigiemand kan in enige situasie (of land) dankbaar wees. Ja, soms moet jy lank soek na iets om voor dankie te sê. Maar ons wat in Christus glo, sal nooit lank hoef te soek nie. Jesus se offer en die lewe en genade wat daaruit vloei is ons grootste rede vir dankbaar wees.

Vertel meer van die skakel tussen ne­derigheid en dankbaarheid?

Ek het gevind dat daar ’n wisselwerking tussen nederigheid en dankbaarheid is. Dat nederigheid die deur oopmaak vir dankbaarheid om binne te kom. En dankbaarheid doen dieselfde met ne­derigheid. Soms moet ons eers wegkyk van onsself voordat dankbaarheid kan deurbreek.

Een van Jesus se mooiste eienskappe vir my is dat Hy nederig is.

Waarvoor is Francine Prins dankbaar?

Dat ek ander mag leer wat ek by God geleer het. Dat ek my roeping mag uitleef, skeppend kan wees en mense om my het wat vir my lief is en ondersteun. As jy my môre weer vra, noem ek vir jou nog ’n klompie dinge – ek is na dese goed op dreef met dankbaarheid!

NG gemeente Laaiplek

Vakature: Voltydse leraarspos
Sluitingsdatum: 30 Augustus 2019 om 12:00


Alle gelegitimeerdes van die NG Kerk, verkieslik tussen die ouderdom 35 en 50 jaar, word genooi om aansoek te doen vir die voltydse leraarspos by die Weskusdorp Laaiplek.

Gemeenteprofiel:

Ons is ’n geloofsfamilie wat deur God geroep is om as sy gestuurdes, in diepe afhanklikheid van Hom, ’n verskil te maak in die diversiteit van ons gemeente en die gemeen­skap. Sang en musiek (orrel en orkes) speel ’n belangrike rol in ons lofprysing en aanbidding. Verder fokus ons in die erediens om die Woord op ’n vernuwende styl te bedien. Aktuele en besielende prediking is vir ons belangrik. Ons gemeente bedien Laaiplek, Port Owen, Dwarskersbos en omliggende plase se lidmate asook die breër gemeenskap. Ons het tans 940 lidmate (61% is ouer as 50 jaar, van wie baie afgetredenes is. Hier is 100 dooplidmate. Die res is volwasse en jong volwasse lidmate). In ons landelike kusdorp is die visvangbedryf die grootste werkskepper. Goeie samewerking met NG gemeente Velddrif en VGK St Helenabaai (Noordhoek) is vir ons ’n prioriteit. Ons is deel van die Verenigende Ring Wesland, vir wie die Belharbelydenis belangrik is.

Predikantprofiel:

  • Iemand wat oortuig is dat hy/sy geroep is deur God om in die bediening te wees en sy/ haar verhouding met God sigbaar uitlewe.
  • ’n Gelowige vir wie dit belangrik is dat mense weet hy/sy is opreg in wat hy/sy sê op en van die kansel.
  • Iemand wat goeie verhoudinge met mense bou en daarom kontak met sy/haar lidmate belangrik ag.
  • ’n Persoon wat lidmate besoek, veral in hulle nood en siekte, asook die nuwe intrekkers.
  • Iemand wat hom/haar kan vereenselwig met ons gemeentelede.
  • Iemand wat die gemeente in hulle oorgangsfase help om te groei ten opsigte van hulle geloof en diensbaarheid vir God.
  • Iemand vir wie jeugbediening na aan die hart lê en hulle lei om die Here beter te leer ken en te dien.
  • Iemand wat leiding kan neem en meedoen in die gemeentesang en aanbidding.
  • Iemand wat leiding neem, maar ook saamwerk in spanverband om lidmate te bemagtig om hulle verantwoordelikheid in die bedieninge uit te lewe.
  • Iemand wat oor multimedia-vaardighede beskik.

Vergoeding:

’n Salaris, mediesefondsbydrae, pensioenbydrae, kommunikasie- en reistoelae volgens die sinodale skaal. Die gemeente beskik nie oor ’n pastorie nie, maar betaal ’n huistoelaag en verwag dat die leraar in die gemeenskap moet woon.

Aansoeke:

Aansoeke moet vergesel wees van ’n CV van nie langer as drie bladsye nie. Name en kontaknommers van ten minste twee referente moet ingesluit wees. Die kerkraad behou die reg om wyer inligting oor die kandidate in te win.

’n Klankopname of video van ’n onlangse erediens gelei deur die aansoeker sal waardeer word. Indien die aansoeker ’n persoonlikheidsontleding (MBTI, of andere) ondergaan het, sal dit help as die resultate aan die kerkraad verskaf word. Dit sal van die kandidate op ’n kortlys verwag word om, op die gemeente se onkoste, vir onderhoude na Laaiplek te kom.

Sluitingsdatum: 30 Augustus 2019 om 12:00.

Rig aansoeke aan:

Per pos: Die Skriba, Posbus 585, Laaiplek 7365
Per faks: 086 620 88 56
Per e-pos: ngklaaiplek@mweb.co.za

Navrae:

Kontak kan met dr Koos van der Vyver by 083 357 5166 of ouderling André Siebrits by 082 455 8522 gemaak word.

Die kerkraad behou die reg voor om nie een van die aansoekers aan te stel nie.

‘Ons het hoop’

“Nou kan ons waarlik sê: ‘ Sinethemba’ – Ons het hoop.” So sê ds Willem Botes nadat hy en ’n groep lidmate vanaf Suiderstrand- en Lourensriviergemeente in die Strand, gaan help het by Sinethemba, ’n skool vir gestremdes in die Transkei. Hulle het onder andere nuwe gordyne gaan hang en heinings, kaste en deure herstel. “Ons het ’n groep dankbare personeel en kinders van Sinethemba agtergelaat met nuwe moed om die daaglikse uitda­gings met hoop aan te pak. Ons het gegaan om te gee, maar het self soveel ryker teruggekom deur wat die Here in ons lewe gedoen het,” sê Botes. Foto: VrydagNuus

Hulp na Sikloon Idai: Só staan sake nou

Foto: Leon-Ben Lamprecht

Die bydraes, groot en klein, ­het omtrent ingerol nadat Sikloon Idai groot verwoes­ting in Mo­sambiek gesaai het, sê ds Carl Louwrens, die Oostelike Sinode se sinodale verteenwoordiger in Mosam­biek.

Hoewel een gemeente meer as R100 000 geskenk het, is hulle baie dankbaar vir elke gemeente, ander ker­ke en individue wat dit moontlik gemaak het om die eerste fase van hulp in Mosambiek te kon afhandel, het Louwrens, leraar by die Krugerwildtuingemeente, gesê.

Behalwe vir die finansiële bydraes is daar ook groot waar­de­ring vir ons susterkerk, Igreja Reformada em Mo­çambique (IRM), wat ba­sies “al die werk” daar doen, aldus Louwrens.

Tot dusver kon kos en klere aan inwoners verskaf word en alles wat met modder bedek was, is skoongemaak.

Volgens Louwrens staan die noodfonds tans op R352 157 en is daar nou met fase twee, wat fokus daarop om strukture te herstel, weggespring.

“Die kerk se dak in Beira is reeds op. Daar is ook ’n paar prayer houses, ’n klein saal waarin mense bid, herstel,” sê Louwrens.

Die derde fase sal op landbou fokus, maar hiervoor gaan hulle nog fondse benodig. “Ons wil inwo­ners help om byvoorbeeld weer mielies te plant. Die probleem is dat jy nie saad oor die grens mag vat nie, so dit gaan nie help as iemand vir ons saad skenk nie. Ons benodig geld daarvoor.”

NG Gemeente Bothaville-Noord

Vakature: Voltydse leraar
Sluitingsdatum: 31 Augustus 2019.


Die kerkraad van Bothaville-Noord maak in afhanklikheid die vakature van voltydse leraar bekend.

Gemeenteprofiel:

Bothaville is ’n dinamiese plattelandse dorp in die Noord-Vrystaat, maak deel uit van die Mieliedriehoek en is die tuiste van die jaarlikse NAMPO-Oesdagfeesvieringe. Boerdery en -verwante bedrywe en nywerhede domineer die gebied en word aangevul deur ander dienstebedrywe.

Bothaville beskik oor ’n multikulturele laerskool, drie nabygeleë plaasskole en ’n multikulturele hoërskool wat almal baie goed funksioneer. Goeie gesondheidsdienste is beskikbaar op die dorp, terwyl privaat hospitaalfasiliteite in die buurdorpe nl Klerksdorp, Welkom en Kroonstad aangetref word.

Die gemeente het ’n gesonde ouderdomsverspreiding met 573 belydende en 172 dooplidmate. Die gemiddelde ouderdom van gemeentelede is 38. Die gemeente bestaan uit 18 blokke waarvan agt plaasblokke/wyke is. Dit is ’n omgeegemeente wat liefde uitleef en genade aangee na almal. Lidmate speel ook ’n ankerrol in gemeenskapsinisiatiewe wat saamwerk met ander kerke, skole en instansies. Die gemeente werk nou saam met die twee ander NG gemeentes in die dorp.

Leraarsprofiel:

Ons wil graag hê dat die leraar wat beroep word na Bothaville-Noord die volgende eienskappe sal openbaar:

  • ’n Lewende, persoonlike verhouding met God Drie-enig hê.
  • Meewerk aan die uitbou van die gemeente se roeping.
  • Goeie interpersoonlike vaardighede toon en gemaklik in spanverband funksioneer.
  • ’n Hart vir die aktiewe bediening op die platteland met die doel om ’n verskil te maak in ons wyer gemeenskap, gemaklik met huisbesoek en persoonlike kontak met lidmate in verskillende lewensstadiums.
  • ’n Dinamiese prediker wat ’n suiwer teologie, soos verwoord in die kerk se belydenisskrifte, verkondig.
  • Gebruik maak van visuele media en rekenaartegnologie tydens eredienste.
  • Verkieslik nie ouer as 50 jaar nie, met kreatiewe en innoverende denke.

Verantwoordelikhede:

  • Geestelike leiding van die gemeente om die Here met oorgawe te dien en aanbid.
  • Dinamiese en aktuele prediking met ’n klem op lof en aanbidding.
  • Betrokkenheid by jeug- en gesinsbediening.
  • Pastorale ondersteuning aan die gemeente en gemeenskap.
  • Betrokkenheid by die gemeenskap en wyer bedieningsveld.
  • Nakoming van alle ampspligte, soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde as riglyn, in samewerking met die ander predikante binne die bedieningsraamwerk van die gemeenskap.

Vergoeding en voordele:

Sinodale aanbeveling vir salaris en byvoordele sal as riglyn gebruik word.
’n Ruim pastorie is beskikbaar.

Voornemende kandidate:

  • Belangstellende leraars van die NG Kerk word uitgenooi om ’n volledige CV met persoonlike besonderhede, asook die name en kontakbesonderhede van drie referente te stuur aan: ngkbothavillenoord@gmail.com
  • Sluitingsdatum: 31 Augustus 2019.
  • Diensaanvaarding: 1 Januarie 2020.

Navrae:

Voorsitter Pre-advies komitee: Hans Mey – 083 635 3744.
Konsulent: Ds Laurie Naude – 082 378 2322.
Saakgelastigde: Annesia Snyman – 056-515 3990.

Die kerkraad hou hom die reg voor om, sonder opgaaf van redes, geen aanstelling te maak uit die aansoeke ontvang nie.

NG Kerk Vrystaat

Vakature: Uitvoerende Amptenaar van Vennote en Getuienis
Sluitingsdatum: 30 Augustus 2019


Vennote in Getuienis is ’n bediening van die NG Kerk Vrystaat. Gelegitimeerde leraars in die NG Kerkfamilie word uitgenooi om vir die pos aansoek te doen.

Die fokusse van die pos:

  • Missionale transformasie van gemeentes
  • Missionale diakonaat
  • Multikulturele bediening
  • Ekumeniese samewerking en publieke getuienis
  • Nuwe en bestaande vennootskappe met susterkerke
  • Kommunikasie
  • Administrasie

Vergoeding en voordele: Volgens Algemene Sinodale riglyne.

Aansoek: Aansoeke moet vergesel word van die volgende:

  • ’n CV wat nie langer as drie bladsye, met kontakbesonderhede van ten minste twee verwysings.
  • ’n Bondige voorlegging van maksimum twee bladsye waarin die aansoeker uiteensit hoe hy/sy beoog om aandag te skenk aan die energering en ontwikkeling van gemeentes se missionêre aard en roeping.
  • ’n Kort opsomming van die aansoeker se ervaring en betrokkenheid by die missionaliteit van die kerk.

Stuur volledige aansoeke aan Karisma du Pisanie, e-pos adres: missie@ngkvs.co.za

Sluitingsdatum: 30 Augustus 2019, met diensaanvaarding wat onderhandel sal word.

Navrae:

Ds Fanie Spamer (Voorsitter) – 076 123 1542.
Karisma du Pisanie – 051 406 6729.

Die reg word behou om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.

‘Wêreldse hof’ praat hier ook Bybelse waarheid, meen drukgroep

Die “wêreldse hof” se uitspraak oor selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk “verwoord in werklikheid die Bybelse verwagting oor die kerk se houding teenoor al haar lidmate”.

Só sê die groep NG lidmate wat hulle vroeër tot die Hooggeregshof gewend het oor die Algemene Sinode se 2016-besluit oor dié kwessie.

“(Die kerk se houding) moet in die teken van liefde staan en onbillike diskriminasie altyd uitsluit,” luidens ’n verklaring wat lede van die groep op 15 Julie aan verteenwoordigers van die moderatuur voorgelê en tydens ’n drie uurlange ontmoeting op Stellenbosch bespreek het.

Ds Nelis Janse van Rensburg het die gesprek namens die moderatuur as indringend beskryf. “Die moeilike kwessies was op die tafel,” het hy gesê oor die groep se besoek.

Verteenwoordigers van die 12 lidmate, waaronder dr Frits Gaum, meen die proses wat gelei het tot die “tydrowende en duur hofsaak”, waarin uitspraak op Vrydag 8 Maart by die Hooggeregshof in Pretoria gelewer is, het wederregtelik ’n kerklike halt uitgeroep oor mense se verhoudingslewe en die bediening van gay en lesbiese predikante. Gaum het by navraag hieroor aan Kerkbode gesê die “restitusie” wat nou in die kerk nodig is, is dat (lidmate wat deur die 2016-besluit geraak is) hulle “volledige rol in die kerk kan speel – sonder voorbehoude”.

Janse van Rensburg het gemaan dat hierdie jongste voorlegging “nie as sodanig” by die Algemene Sinode sal dien wanneer dié in Oktober vanjaar vergader nie. “Die groep loop die proses ’n bietjie vooruit. Tydens die komende sinode moet daar eers gravamina (beswaarskrifte) hanteer word wat betoog dat die 2015-besluit ongeldig was. Eers nadat daardie gravamina hanteer is, kan die kerk sy verdere optrede bepaal. Ons kan dus op hierdie stadium slegs spekuleer oor die uitkoms en die pad wat die sinode gaan kies,” sê hy.

Die voorlegging bevat vyf punte waarvan die laaste lui dat sinodegangers in Oktober “ernstige oorweging” sal moet gee aan die wyse waarop LGBTQI+-persone betrek kan word om die kerklike strukture te hervorm sodat daar nie langer oor hulle gepraat sal word nie, maar mét hulle.

Die punt rondom die “gebruik” van die hof in besluitneming oor die selfdegeslagkwessie kom intussen ook gereeld op Kerkbode se brieweblad en kommentaarafdeling te berde. “Die gay-saak het die vraag na sonde en menseregte opgeroep,” skryf ds Johann Theron van NG Kraaifontein-Noord vandeesmaand in die briewe-afdeling. “Ten spyte van die hofbeslissing is die gelowige (gay of nie) se vraag steeds wat God in die Woord daaroor sê. Vir die pro-gay uitleg om nou met ’n ompad deur die hof en menseregte die Skrifinterpretasie oor die saak te bepaal, sal nie werklik troos bring nie. Die nadelige gevolg hiervan is dat die gesag van die Woord afgewater word ten gunste van menseregte.”

Kerkbode het ook einde Mei berig dat ’n NG gemeente naby Secunda in Mpumalanga besig is om ’n “drukgroep” binne die kerkverband te vorm, om te probeer toesien dat die NG Kerk ophou “om selfdegeslagverhoudings goed te praat” en hulle weerhou daarvan om ’n wêreldse hof te gebruik “om hulle homoseksuele optrede en lewenstyl te regverdig.”

Die 12 sê in hulle verklaring onbillike diskriminasie is nie net in stryd met die Grondwet nie, maar in elke opsig teenstrydig met die Christelike boodskap van naasteliefde soos uitgedruk in die Groot Gebod en ewe duidelik in Paulus se woorde: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie” (Rom 13:10),” luidens hulle voorlegging wat Kerkbode hieronder publiseer.

Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, sê oor die spanning tussen kerk en hof dat die kerk in die eerste plek vanuit oortuiging besluite moet neem. “Die Sinode van Wes-Kaapland het ’n insiggewende besluit hieroor geneem wat ruimte maak vir die handhawing van meer as een standpunt. Hulle moderamen het ook ’n gelykluidende beskrywingspunt na die Algemene Sinode gestuur. Die sinode het dus heelwat opsies wanneer hy oorgaan tot besluitneming oor hierdie aangeleentheid,” aldus Janse van Rensburg. – Kerkbode-redaksie.


PERSVERKLARING: VOORLEGGING AAN MODERATUUR; 15 JULIE 2019

{HIERDIE DOKUMENT VERTEENWOORDIG NIE KERKBODE SE STANDPUNT NIE. DIT IS ’N PERSVERKLARING EN WORD TER WILLE VAN DEEGLIKHEID GEPUBLISEER SOOS AAN DIE REDAKSIE VERSKAF. – Red}

Ons verwelkom die geleentheid om met die Moderatuur van die Algemene Sinode te praat oor “die pad vorentoe” in die lig van die Hofuitspraak oor die posisie van gay (LGBTQI+)-lidmate in die NG Kerk.

  1. Nadat dit duidelik geword het dat daar geen ander uitweg is as om die Hooggeregshof te nader ten einde regsekerheid te verkry in verband met die besluit van die Algemene Sinode 2016 oor die posisie van LGBTQI+-lidmate in die NG Kerk nie, het ons teen ons sin dié weg gevolg. Dit was nadat moderatuurslede self te kenne gegee het dat regsekerheid nodig is en nadat ons by meer as een geleentheid regsadvies deur senior advokate aan die betrokke kerklike liggame verskaf het. Op die vraag waarom die appèlliggaam wat deur die Algemene Taakspan Regte aangewys is, voortgegaan het om die appèlle teen die 2015-besluit van die Algemene Sinode te hanteer ten spyte van die oorweldigende regsopnie wat daarop dui dat sulke appèlle nie toelaatbaar is nie, het ds Thijs van der Merwe, voorsitter van die appèlliggaam, geantwoord dat die regsadvies “ongetoetste opinies” is en dat hulle werk met die Kerkorde wat wel voorsiening maak vir appèlle (sien Weerlose weerstand deur André Bartlett, bl 233). Die Hooggereghof se uitspraak toon egter dat die “ongetoetste opinies” presies in die kol was en dat die appèlliggaam ernstig gefouteer het deur nie daarna te luister nie en dat hulle die Kerkorde heeltemal verkeerd verstaan het.

Dit sal na ons mening gepas wees indien die Algemene Sinode 2019 die betrokke appèlliggaam en die Algemene Taakspan Regte onomwonde daarop wys dat hulle optrede en advies aan die Algemene Sinode 2016 groot verleentheid vir die NG Kerk veroorsaak het.

  1. Die Hooggeregshof het ook verklaar: “It is unfair to exclude members of the Church of their full and equal enjoyment of all rights and freedom the Church offers” (vgl uitspraak, pt 81, bl 47). Terwyl die Hooggeregshof se bevinding lui dat “this Court has decided the unfairness or fairness of the discrimination in terms of the Constitution” (pt 82, bl 48), is onbillike diskriminasie nie net in stryd met die Grondwet nie, maar in elke opsig teenstrydig met die Christelike boodskap van naasteliefde soos uitgedruk in die Groot Gebod en ewe duidelik in Paulus se woorde: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie” (Rom 13:10). As onbillik teen die naaste gediskrimineer word, word hy/sy kwaad aangedoen – wie daardie naaste ook al is.

Die “wêreldse hof” se uitspraak verwoord in werklikheid die Bybelse verwagting oor die kerk se houding teenoor al haar lidmate: dit moet in die teken van liefde staan en onbillike diskriminasie altyd uitsluit.

  1. Die besluit van die Algemene Sinode 2015 oor selfdegeslagverhoudings is, in die lig van die uitspraak van die Hooggeregshof, die geldende besluit van die NG Kerk oor hierdie saak. Dié besluit sê in kerklike taal wat die Hooggeregshof in regstaal gesê het: “Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap”. Dit beteken onder meer dat burgerlike verbintenisse van gelowiges van dieselfde geslag in die kerk deur predikante “wat hulle weg oopsien” bevestig kan word – een van die voorregte (ofte wel “full and equal enjoyment”) wat die kerk aan haar lidmate bied. Maar die 2015-besluit oefen nie gewetensdwang uit nie en verklaar ook: “Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ’n gees van Christelike liefde te doen.”

Die besluit van die Algemene Sinode 2015 staan in die teken van Christelike liefde en gebied nie, maar gee ruimte. Indien die Algemene Sinode weer besluite sou neem wat op onbilike diskriminasie neerkom, sal dit minagting van die hof daarstel. Dit is so omdat die hof se beslissing nie net op prosedurele gronde nie, maar ook op substantiewe gronde berus. Die kerk moet ook alles in haar vermoë doen om spoedig ’n reëling met die Departement van Binnelandse Sake te tref sodat predikante van die NG Kerk burgerlike verbintenisse (“trouverbintenisse”) kerklik kan bevestig. Die kerk moet verder daarop bedag wees om nie nuwe strukture van uitsluiting te skep nie, maar bly besin oor hoe om radikale inklusiwiteit te beliggaam.

  1. Die feit dat die Algemene Sinodale Moderamen nie gesorg het dat die 2015-besluit uitgevoer word nie maar dit “opgeskort” het – en later in hofstukke toegegee het dat dit ’n fout was – het mense ernstig benadeel. Dit het nie alleen gelei tot ’n buitengewone Algemene Sinode wat op haar beurt verkeerd opgetree het nie, maar uiteindelik tot ’n tydrowende en duur hofsaak. In die proses is daar in werklikheid wederregtelik ’n kerklike “halt!” uitgeroep oor mense se verhoudingslewe en spesifiek oor die bediening van afgestudeerde en in sommige gevalle gelegitimeerde gay en lesbiese predikante. Die vraag is nou hoe herstellende geregtigheid (restitusie) kan geskied. Of is ’n netjies geformuleerde verskoning/apologie voldoende? Prop Hennie Pienaar skryf tereg in eKerkbode (30 April 2019): “Woorde wat nie tot dade lei nie, beteken niks nie, en vir my as ’n gay gelowige in die NG Kerk is al die woorde en verskonings net hol. Iets DAADwerkliks moet gebeur vir heling, genesing en versoening.”

Oor homoseksualteit is daar die afgelope drie dekades dermiljoene woorde in die NG Kerk gesê en geskryf. Die tyd om die woorde dade te laat word, het nou aangebreek.

  1. Die NG Kerk, en by name die Moderatuur, Algemene Sinodale Moderamen en Algemene Sinode 2019, sal na ons mening ernstige oorweging moet gee aan die wyse waarop LGBTQI+-persone betrek kan word om die kerklike strukture te hervorm sodat daar nie langer oor hulle gepraat sal word nie, maar mét hulle, en sodat hulle ’n konstruktiewe en noodsaaklike bydrae kan lewer ten opsigte van onder meer genderkwessies en die skep van ’n meer lewegewende geloofsgemeenskap. Prop Pienaar stel in sy brief voor dat daadwerklike pogings aangewend moet word om LGBTQI+-mense hulle plek in kerkrade, taakspanne en sinodes te laat inneem. Hy noem ook die moontlikheid dat die Algemene Sinode kan help om fondse te voorsien sodat bekwame LGBTQI+-lidmate gemeentes kan besoek met die opdrag om leiers in die gemeentes te begelei en op te lei ten opsigte van genderdiversiteit en -sensitiwiteit.

Herstellende geregtigheid beteken onder meer dat LGBTQI+-lidmate doelbewus by kerklike bedrywighede betrek moet word. ’n Beroep word op die Algemene Sinode 2019 gedoen om konkrete besluite in dié verband te neem. Buitengewone moeite behoort gedoen te word om gelegitimeerde LGBTQI+-predikante (en diegene wat nie gelegitimeer is nie vanweë die implikasies van hulle seksuele oriëntasie) kerklik te betrek en hulp te verleen met die finansiering van poste vir hulle in gemeentes of breër kerklike verband.

Die pad vorentoe vir die NG Kerk en haar LGBTQI+-lidmate, moet ’n pad wees van herstellende geregtigheid nadat daar dekades verloop het waarin dié lidmate as “vreemde verskynsels” onder die kerklike loep geneem is en hulle en hulle families en vriende gruwelike onreg aangedoen is. As ons die evangelie van Jesus Christus ernstig opneem, is daar geen ander pad nie as die pad van daadwerklike liefde deur LGBTQI+-lidmate sonder enige voorbehoud hulle volle regte en voorregte van lidmaatskap van die NG Kerk te laat opneem!

Ons bid die Algemene Sinode 2019 die seën van die Here toe.

Lidmate van die NG Kerk:

Laurie Gaum

Judith Kotzé

Pieter Oberholzer

Lulani Vermeulen

Hennie Pienaar

Michelle Boonzaaier

Murray Coetzee

Nadia Marais

Hendrik Bosman

Leon Wessels

Chris Jones

Frits Gaum

Julie 2019

NG Gemeente Krokodilrivier, Brits

Vakature: Kontrak – medeleraarvakature
Aansoeke sluit om 13:00 op 13 September 2019


Die gemeente Krokodilrivier is ’n semi-plattelandse gemeente in Brits en is een van drie NG gemeentes binne dorpsgrense. Die ekonomie van die dorp is opgemaak uit industrië, mynbou en landbou. Binne die bedie­ningsveld van die gemeente is daar twee groot hoërskole en verskeie laerskole. Die gemeente bestaan uit 629 besoekpunte wat in twee blokke van ongeveer 315 besoekpunte per leraar verdeel is. Daar is 1 129 belydende en 245 dooplidmate opgeneem in die gemeenteregister.

Die NG gemeente Krokodilrivier wag aansoeke in vir ’n kontrak-medeleraarspos wat alle leraarspligte volgens Art 9 van die Kerkorde insluit, maar nie noodwendig daartoe beperk is nie.

Leraarsprofiel:

Die gemeente van Krokodilrivier het ’n behoefte aan ’n leraar van die NG Kerk:

  • wat ’n toegewyde kind van die Here is en hom/haarself geroepe voel om die Here in hierdie gemeente te dien, met die persoonlikheid en gawes om te identifiseer en te werk met die jonger geslag van ons lidmate, hulle te inspireer, mobiliseer en toe te rus.
  • Die klem sal verder val op missionale en evangelisasiegerigtheid, met ’n passie vir verantwoordelike vernuwing, wat as ’n spanwerker gemaklik is met die verskillende bedieningstyle.
  • ’n Teologies-verantwoordbare en dinamiese prediker.

Studente wat pas hulle studies voltooi het en nog hulle praktiese gemeentejaar moet doen, is ook welkom om aansoek te doen.

Verantwoordelikhede:

  • Die uitbou van die bediening aan alle lidmate met klem op jong mense (voorskool tot naskool).
  • Die ontwerp en implimentering van volhoubare strukture en prosesse waarbinne die jeugbediening / jeuggerigte byeenkomste kan plaasvind en uitgebrei kan word.
  • Die ontwikkeling van ’n missionale kultuur in die gemeente en in besonder onder die jeug asook opleiding te verskaf rakende gesins- en ouerskapvaardighede.
  • Nakom van alle ampspligte soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde as riglyn.

Voordele:

  • Vergoeding is onderhandelbaar tot ’n maksimum van skaal 5 volgens die handleiding van die sinodale skale.
  • Reiskoste en ander toelaes word betaal.
  • ’n Pastorie met betaalde munisipale dienste en ’n tuin wat deur die gemeente onderhou word, is deel van die voordele.

Aansoeke:

  • Alle aansoeke moet vergesel word van ’n CV nie langer nie as drie A4-bladsye en moet vier verwysings insluit waarvan ten minste twee gemeente- of kerkraadslede moet wees.
  • Die beskikbaarstelling van ’n digitale opname van ’n onlangse preek tydens ’n erediens ooreenkomstig die bogenoemde posbeskrywing – slegs indien u daarvoor gevra word.
  • ’n Onlangse foto en/of familiefoto asook ’n afskrif van die ID.
  • Dien alle aansoeke in deur ’n toepaslike e-pos te stuur aan: kantoor@ngkrokodilrivier.co.za
  • Kandidate moet beskikbaar wees vir ’n onderhoud en ’n preekbeurt gedurende Oktober/November 2019 soos met die applikant gereël sal word.
  • Psigometriese toetse kan moontlik aangevra word.

Aansoeke sluit om 13:00 op 13 September 2019 en diensaanvaarding is DV 2 Januarie 2020.

Navrae:

Santie Uys (Kerkkantoor) 012 252 252 6021.
Francois Hanekom (Voorsitter: Kerkraad) 082 851 7894.