Christians

In gesprek met Jesus

Boomwortels in die hemel deur Pierre du Plessis
Uitgewer: Lux Verbi, 2019


Pierre du Plessis, 2018-wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir sy debuutwerk, Jesus ruik na mirre en stof, se nuutste pu­blikasie kom draai dinge onderstebo – oftewel, hy verken hoe Christus dit doen.

Deur die kontoerlyne van die ko­ninkryk van die hemel te verken in vars, toeganklike taal, wys die skrywer ons op Jesus se radikale gelykenisse en die implikasie daarvan vir ons verhou­dings. Die leser word uitgenooi om “wortels uit die keiser se ryk uit te trek en diep in die hemel in te grawe sodat die vrugte op die aarde maklik bereikbaar sal wees”. Die boek se oorsprong en gespreksgenote is “uit die rou materiaal van die lewe”.

Die drie afdelings, Ek en God, Ek en myself, en Ek en my dorp, ondersoek met egtheid vrae oor selfbeeld, gebed, roeping, geld, jammer-sê, en nog vele meer.

Boomwortels in die hemel is ’n po­ging om in gesprek te wees met die radikale boodskap van Jesus. Tog slaag dit daarin om nie te veel van die leser te verwag of te veronderstel nie. Alhoewel die boek in gesprek is met deurleefde ervarings, veral uit die skrywer se eie lewe, behou dit ’n inklusiwiteit deur die leser toe te laat om self die implikasies van God se nuwe wêreld uit te pluis in hulle eie lewe.

Gevolglik sal lesers self moet besluit tot watter mate die boodskap van hierdie boek hulle sal ontwortel binne hulle eie konteks. Daar wag beslis ’n verras­sing op beide lesers wat leef en glo met baie geloofsekerheid, én die wat vervreem of verveel is deur Jesus se boodskap oor die koninkryk van die hemel.

▶Ds Louis van der Riet is ’n predikant by NG Kerk Parke in Kraaifontein.

Streeknuus, 16 Augustus 2019

“Sigbare teken van God se herstel”

Ds Johan Koen van Burgersfort skryf: Burgersfort Gemeente in Mpumalanga het die afgelope maande in die nadraai van die storm geleef. Op 27 Januarie 2019 het ’n storm deur die nag gewoed en dakteëls afgewaai en water ingepers dat die plafonne uitgeval het, toerusting beskadig is en die eens heldergroen matte was nou ’n bruin moddermoeras. Die kerkbanke het vol modderwater gestaan en die orrel was oordek met rommel en water en het skynbaar haar laaste swanesang gesing.

Maar “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut” (Klaagl 3:22-23). Ja, inderdaad is die trou van die Here groot!

Stelselmatig kon die kerkgebou herstel word en kon ons gemeente weer beleef dat ons as gemeente nie die gebou is nie – dit is net die ruimte wat God aan ons geleen het.

Na ses maande is ons nou in die posisie dat ons die herinwyding van die kerkgebou beplan. Ons gebed is dat die gebou ’n sigbare teken sal bly van God se herstel, bevryding en genesing ook vir ons as mense – selfs nadat die storms van die lewe, sonde of omstandig­hede ons stukkend gebreek het.

Daarom nooi ons gemeente alle oud-lidmate, oud-leraars en belang­stellendes uit om saam met ons te kom feesvier op Sondag 1 September 2019 om 08:30.


‘Stupid besluite’ saai verwoesting; nou plant hy groente

Die NG gemeente Mootvallei boer voor­uit met hulle groentetuin, maar dis nie net spinasie, beet en wortels wat onder die skadunette langs die jukskei­baan op hierdie Pretoria-gemeente se groot erf groei nie.

Ook Kevin Croucamp se liefde vir werk met sy hande in die grond groei by die dag. “Ons werk van 8 tot 4 – ek like dit,” het hy onlangs aan Kerkbode vertel.

Croucamp, oorspronklik van Alberton in Johannesburg, het vertel hoe “stupid besluite” hom as hawelose op Pretoria se strate laat beland het. “Die kerk het my ’n kans gegee om hier te help en hier te bly ook,” vertel hy. Nog ’n lidmaat by hierdie gemeente, Willem Blom, wat saam met Croucamp werk, skerts dat hoewel hy “ook ’n Blom is”, hulle nie die erkenning wil vat vir die sukses van die groentetuinprojek nie. “Ons het geplant, maar God het laat groei”. – Besoek die video-afdeling van Kerkbode se Facebook-bladsy om vir hierdie “groenteboere” ’n boodskap te los.


’n Kerkbode-leser vertel: Meisie (4) ‘is stom getraumatiseer’

Ek het verlede week die voorreg gehad om ons Johanna Malan-kleuterskool in Yeoville te besoek, skryf Dirk Kotzé.

Ons voorsien gewoonlik die kin­ders met lekker toebroodjies, maar die kombuistannie het besluit om al die kleintjies te bederf met ’n lekker warm bekertjie sop en broodjies omdat dit so koud was.

Ek het ’n nuwe gesiggie opgemerk. Chantelle*, ’n vierjarige dogtertjie met twee poniesterte aan weerskante van haar kop.

Ek het opgelet dat sy nie met haar maatjies gesels en enigsins oogkontak maak soos die res van die lewendige bondel woelwaters nie.

Die juffrou het my geroep en verduidelik. Chantelle is stom getraumatiseer. Sy kan glad nie met volwassenes praat nie. Sy is slim en skerp, maar as gevolg van die mishandeling in haar verlede maak sy toe en ignoreer alle grootmense.

Dit gaan al ’n bietjie beter met haar. Sy het glo die vorige dag vir haar juffrou uit die bloute ’n druk­kie gegee.

Chantelle het nog ’n lang pad om te stap. Sy bly by die Maria Kloppers-kampus waar sy al die liefde, versor­ging, opvoeding en terapie ontvang wat sy nodig het.

Dirk Kotzé is verbonde aan die bemar­kingsafdeling van Abraham Kriel Bambanani.

Om uit te vind hoe jy kan help, stuur ’n e-pos na dk@abrahamkriel.org

*Nie haar regte naam nie.


Kiek jou kerkgebou: Witkerk, Middelburg

“Ons woon in Komatipoort, aan die wal van die Krokodilrivier wat ons van die Nasionale Krugerwildtuin skei,” skryf Tienie Swart aan Kerkbode.

“Ek stuur graag ’n foto van die Witkerk in Middelburg, Mpumalan­ga, geneem deur Barries Barnard van Barries Barnard Photography hier op die dorp.”

Kortliks die geskiedenis

Saterdag, 9 Maart 1867, word die NG gemeente Nazareth, op die plaas Elandspruit, plaas van diaken NP Prins­loo, gestig.

Sondag, 10 Maart, word die ere­diens deur ds F Lion Cachet waargeneem.

Die naweek word die eerste kerk­raadslede voorgestel, die doop en nagmaal bedien en lidmate lê belydenis van geloof af.

Maandag 11 Maart verskuif die groep gemeentelede vanaf Elandspruit na die nuwe dorpsaanleg Nazareth. Die hoeksteen van die nuwe kerkgebou word deur ds Cachet gelê.

Die inwyding van die nuwe kerkgebou vind op 5 Oktober 1867 plaas.

Ná 20 jaar is die kerkgebou te klein vir al die lidmate en reeds in ’n swak toestand.

Op 2 April 1887 word die hoek­steen van die nuwe Witkerk gelê. Argitektonies vertoon dié kerkgebou opvallende ooreenkomste met ander kerke wat ook deur Otto Hager ont­werp en gebou is.

Die inwyding van die nuwe Witkerk vind die naweek van 16-18 Janu­arie 1890 plaas.

PEILING: Rol en roeping van die kerk?

Hoe lyk die toekoms van die NG Kerk? Jou opinie maak saak, skryf Lourens Bosman.

Die NG Kerk is by ’n kritieke draaipunt in sy lang geskiedenis. Die wêreld om ons en die kerk self is besig om diep veranderings te ondergaan en dit is nodig dat ons besluite sal neem wat gaan oor die koers en rigting van die NG Kerk.

Die volgende vergadering van die Algemene Sinode gaan nadink oor die rol en roeping van die kerk. Ons wil graag jou stem hieroor hoor. Die eerste vraag gaan oor die impak van veranderings in die samelewing op die NG Kerk. Watter veranderings
in die samelewing stel die grootste uitdagings aan die kerk? Neem gerus deel by die peiling of kommentaarafdeling hieronder en hou www.kerkbode.co.za dop vir die volgende vrae wat ook hier gepubliseer sal word. – Dr Lourens Bosman, Algemene Bestuurder: Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk. 

  • Hierdie artikel verskyn onder die AMPTELIK-hofie op www.kerkbode.co.za en is nie ’n Kerkbode-berig of Kerkbode-peiling nie. – Red. 

Loading…

Is dit kuns of kitsch?

Daar is ’n vraag wat nie altyd maklik is om te beantwoord nie, en dit is of ’n werk wat deur ’n kuns­tenaar geskep is, kuns of kitsch is. Soms is dit doodgewoon so dat wat vir die een persoon kuns is, vir ’n ander kitsch kan wees. En soms gebeur dit dat iets wat werklik kuns is, vanweë wangebruik kitsch word.

Die term “kitsch” is ’n Duitse leenwoord wat aanvanklik gebruik is om te verwys na goedkoop, populêre en maklik bemarkbare items, maar wat mettertyd ontwikkel het tot ’n tegniese term vir ’n bepaalde tipe kunsproduk wat ver­al gekenmerk word deur oordrewe sentimentaliteit en melodrama.

Die kunsfilosoof Robert Solomon verwys op hierdie noue verband tussen kitsch en sentimentaliteit en sê dan: “Kitsch is calculated to evoke our emotions, especially those emotions that are best expressed by the limp vocabulary that seems embarrassingly restricted to such adjectives as ‘cute’ and ‘pretty’ or that even more humiliating, drawn out ‘Aaaah’.”

Die probleem is natuurlik dat alle groot kunswerke ’n emosionele bele­we­nis by mense kan wek en met verloop van tyd ook bepaalde sentimentele be­te­kenis verwerf. Die toets is waarskynlik of die sentimentele gevoelens oppervlakkig en oordrewe is, en of die kuns­tenaar berekend poog om hierdie soort gevoelens teweeg te bring.

Kitsch word dikwels ook in verband gebring met kuns wat deur massa­produksie geskep word en spesifiek gerig is op die smaak van die gemiddelde massamens. Dit beteken gewoonlik produkte wat maklik toeganklik is en nie veel intellektuele en estetiese eise aan die verbruiker daarvan stel nie – en dan word daar hier juis in terme van die “verbuiker” van ’n “produk” gedink.

Die verwysing na massaproduksie bring in ons geïndustrialiseerde wêreld na­tuurlik sy eie komplikasies en vrae mee: Is kunswerke soos die “Laaste Avond­maal” van Leonardo da Vinci of Michelangelo se fresko’s in die Sistynse kapel of Albrecht Dürer se “Biddende Hande” kitsch omdat dit deur eindelose reproduksie gemenegoed geword het, of behou dit hulle intrinsieke waarde as “hoë kuns”?

Immanuel Kant se konsep van “estetiese idees” mag dalk in hierdie verband bruikbaar wees. Hy wys naamlik daarop dat sekere ervarings van skoonheid aanleiding gee tot die totstandkoming van iets meer verhewe, ’n eie wêreld met sy eie wetmatighede wat deur die kuns­tenaar tot stand gebring word. Kuns wat dit bewerkstellig, sou dan as “hoë kuns” beskou kon word, terwyl kuns wat op onmiddelike bevrediging gerig is, as “kitsch” bestempel sou kon word.

’n Eiesoortige dog betekenisvolle perspektief is dié van Milan Kundera in sy bekende roman The unbearable lightness of being waar hy na kitsch verwys as ’n estetiese ideaal “in which ‘shit’ is denied and everyone acts as though it did not exist.” Wat in sulke kuns ontken word, is “all the bad, disgusting, negative, violent, depressing things in the world.” Kitsch, sê hy dan, “excludes everything from its purview which is essentially unacceptable in human existence.”

Toegepas op religieuse kuns sou ’n mens dan kon sê: Dit is “kitsch” as dit oordrewe en oppervlakkige sentimentele gevoelens wel by mense wat daaraan blootgestel word, as dit gerig is op massakonsumpsie, en as dit op eensydige wyse ’n rooskleurige weergawe van die werklikheid voorhou. ’n Mens sou sulke kuns natuurlik ook as “onevangelies” kon bestempel, omdat die Bybel juis nie bedoel is om goedkoop sentiment te wek nie, ook nie gerig is op die bevrediging van die grootste gemene deler van menslike behoeftes nie, en beslis nie die negatiewe en neerdrukkende aspekte van menswees ontken nie.

Religieuse kuns wat daarop gerig is om die mens op ’n dieper emosionele vlak aan te spreek, wat bedoel is om hoër lewenswaardes te bevorder (son­der om “prekerig” te wees), en wat bereid is om die werklikhede van die lewe vierkantig en onsentimenteel in die oë te kyk, sal dan waarskynlik die toets kan slaag om as verhewe kuns beskou te kan word.

Beteken dit nou dat slegs verhewe kuns as waardevol beskou kan word en dat alle kitsch sonder meer as beteke­nisloos afgewys moet word? Nie nood­wen­dig nie, want daar is baie massa-­geproduseerde objekte soos byvoorbeeld gebedskerse, kruishangertjies en repro­duksies van religieuse kunswerke wat nie spesifiek enige intrinsieke kuns­waarde het nie, maar wat tog esteties bevredigend is en wat as funksionele “tools of faith” betekenis in die geloofs­lewe van mense kan hê.

Die gevaar waarteen daar gewaak moet word, is ’n vervlakking van die Christelike geloof tot oppervlakkige sen­­timent en kuns wat ’n valse beeld van die werklikheid skep asof alles net goed en mooi is. God het in Christus juis in ons morsige wêreld mens geword en onder mense in hulle ellendige aard­se omstandighede kom woon. En die liefde waarvan die kruisverhaal vertel, is nie goedkoop sentiment nie, maar ’n verbintenis (“commitment”) wat die vol­le risiko van menswees tot die bitter einde toe dra. Dit is juis daardie onwrikbare liefdesdaad wat geloof en wederliefde wek. Kuns wat dit verbeeld, is goed – of dit nou kitsch is of nie.

Die postmoderniste se uitgangspunt is dat daar geen absolute waarheid bestaan nie en so gesien kan die Bybel dus ook nie as absolute Woord van God verkondig word nie. Dit is dan ook nie meer moontlik om God se wil uit die Bybel te ken nie, aangesien die Bybel hoogstens die onsekere woorde van mense oor God is. Al wat vir die postmoderne “teoloë” oorbly is ’n afgewaterde Christelike sousie wat oor die heidendom gegooi word om mense in hulle verlorenheid te laat goed voel. ’n Kollega uit Nederland verwoord dit treffend deur op te merk dat “daar géén ‘Boodskap’ oorbly behalwe ’n goedaardige oproep dat Jesus met sagte skaapogies almal oproep om lief en dierbaar te wees vir mekaar, want dit is wat God wil! ’n Humanisme word so nagestreef sonder spesifieke geestelike Christelike inhoud.” Sola Scriptura, die Woord alleen, word vir ’n pot lensiesop van sola mensewoorde alleen verruil.

Stefaan de Jager van NG Gemeente Humansdorp-Oos skryf:

Die postmoderniste se uitgangspunt is dat daar geen absolute waarheid bestaan nie en so gesien kan die Bybel dus ook nie as absolute Woord van God verkondig word nie. Dit is dan ook nie meer moontlik om God se wil uit die Bybel te ken nie, aangesien die Bybel hoogstens die onsekere woorde van mense oor God is.

Al wat vir die postmoderne “teoloë” oorbly is ’n afgewaterde Christelike sousie wat oor die heidendom gegooi word om mense in hulle verlorenheid te laat goed voel. ’n Kollega uit Nederland verwoord dit treffend deur op te merk dat “daar géén ‘Boodskap’ oorbly behalwe ’n goedaardige oproep dat Jesus met sagte skaapogies almal oproep om lief en dierbaar te wees vir mekaar, want dit is wat God wil! ’n Humanisme word so nagestreef sonder spesifieke geestelike Christelike inhoud.”

Sola Scriptura, die Woord alleen, word vir ’n pot lensiesop van sola mensewoorde alleen verruil.

Getuienis van ander se lewe

Heilige oomblikke. Dit lê aan die hart van menswees: die reeks onherroeplike gebeure en tydsgrepe in die verloop van elkeen se le­wenstorie. Die moment van belofte voor die kansel; die tyd in die hospitaal met ’n pasgebore baba; die ruk langs ’n siekbed; die tydstip waarin ’n laaste asem uitgeblaas word; en die tye van saamwees by ’n familie en gemeenskap wat van ’n geliefde afskeid neem. As predikante word ons dikwels in hierdie heilige oomblikke van vreugde, van ’n nuwe begin, van hartseer en van verlies – die mees intieme ruimtes van die lewe – ingenooi en toegelaat om getuies van God se teenwoordigheid te wees.

Die skielike en tragiese dood van die jong Matiestudent, Leandró Hopley, het weer hierdie voorreg van dominee-wees aan my duidelik gemaak. Ek het vir Lean­dró as graad 8 en 9 seun in Huis Hugenoot, die koshuis van Hugenote Hoërskool in Wellington, leer ken en as ek my oë vir ’n oomblik toemaak kan ek vir jong Leandró voor my sien staan: Hierdie on­deunde seun met ’n vonkel in die oog en ’n breë glimlag wat jou altyd met ’n grappie en ’n druk by die trappies van die kos­huis ingewag het. Hy was ’n seun wat uit sy pad gegaan het om met ’n borrelende vreugde vir ’n kamermaat, ’n klas­maat en ’n vriend wat swaarkry, lig te wees.

Maandagaand (30 Julie), vyf dae voor sy roudiens, kon ek saam met ’n klomp van Leandró se matriekklasmaats, on­der­wysers en vriende, die lewe van Leandró en die maniere waarop hy ons elk­een aangeraak het, tydens ’n liturgiese diens in herinnering roep en vier. In hierdie heilige ruimte waar almal se hartseer en trane nog vlak lê, kon ek hoor van Leandró-vreugde wat hy aan almal rondom hom uitgedra het. Hierdie vreugde waarvan hy oorgeborrel het, het elkeen in sy omtrek belangrik laat voel en wanneer hy jou êrens by die skool of kampus sou raakloop, het die blydskap waarmee hy jou ontvang het, jou laat voel asof jy presies die persoon was wat hy nou wou sien. In die woorde van een van sy vriendinne: “He made everybody feel like a somebody.”

Na afloop van die samekoms vertoef ek nog ’n paar minute in die stoelsirkel wat uitgepak is en word ek diep bewus daarvan dat die herinneringe wat in hier­die oomblik gedeel is die storie van Leandró en wat hy vir ons elkeen bete­ken het, lewend hou. Dit is ’n storie wat ons daaraan herinner dat die lewe nie net uit grootse gebeurtenisse be­staan nie, maar dat daar in elke moment van saamwees iets van die Ewigheid kan deurskemer; dat elke oomblik inder­daad heilig is. Soos CS Lewis skryf: “For the Present is the point at which time touches eternity.”

▶Ds Angelique Havenga is jeugleraar by die Moedergemeente Stellenbosch.

Vegetariër se wroeging: ‘Ek was so lief vir braaivleis’

Dit is belangrik dat ons as Christene sensitief moet word vir die impak wat ons eetgewoontes op die omge­wing het en hoe dit bydra tot kli­maats­verandering. Ek deel hier met julle iets van my eie verhaal:

Dit het met Advent 1990 begin. Die preekstudies se tekste vir hierdie Advent het onder andere die vredesmetafoor van Jesaja 11:6-9 ingesluit. Jesaja het my uitgedaag om saam met hom te droom van ’n aarde waarop alle verhoudings gekenmerk word deur vrede. Die Here het my veral aangespreek oor my persoonlike verhouding met die natuur. Die vraag wat uiteindelik my nadenke hieroor oorheers het, was die volgende: “Hoe weet die res van die skepping dat hulle nie vir my bang hoef te wees nie?” (Kyk gerus na hoe hierdie teks as ’t ware Genesis 9:2-3 regmaak.)

Dit het onder andere ’n gesprek oor ons huisgesin se dieet losgemaak.

Dit was vir sommige in ons gesin maklik om die aanpassing te maak, maar nie vir my nie! Ek was so lief vir braai – en droëwors en biltong!

Ek het ons vegetariese dieet met entoesiasme aanvaar toe ek leer verstaan het dat ek daarmee vir beide myself en vir die omgewing ’n guns bewys. Gaandeweg het ek ook opgehou om myself jammer te kry, omdat ek nie meer vleis eet nie.

Daar is ten minste twee redes waarom ek nog nooit spyt was oor die aanpassing in ons dieet nie:

  • Ek is beloon met beter gesondheid. Baie van die spysverteringspro­bleme waarmee ek van my kin­der­jare af saamgeleef het, was iets van die verlede.
  • Die vrede in my verhouding met die natuur en myself het bly groei.
  1. In die verlede wanneer ek agter ’n trok met lewende hawe gery het wat op pad was slagpale toe, het ek altyd geweet ek is medeverantwoordelik vir dié diere se dood. Ek dra nie nou meer hierdie las nie.
  2. Ek het al meer sensitief geword vir die ekologiese dimensies in die Bybel, totdat die ekologie die hooffokus van my bediening (lewe) geword het.
  3. Ek het al meer bewus geword van die wreedhede in die massavervaardiging (factory farming) van vleiskos vir die mens en dat ek my bydrae moet maak om dit stop te sit.

▶ David Botha van Projekspan Eko­logie se storie is onlangs via Vrydag­Nuus met lesers gedeel. Hierdie is ’n verkorte uittreksel. Lees gerus verder by http://getuienis.christians.co.za

Die troos van Godsbeloftes

Die Amerikaanse sangeres Brandi Carlisle sing in haar lied “A promise to keep” (2012) oor die aard van beloftes. Veral, erken sy, bly sy op soek na ’n belofte wat selfs sý kan hou. Ons praat daarvan dat ons trou aan mekaar beloof – dat ons, heel letterlik, trou. In ons kerklike debatte oor die huwelik praat ons van verhou­dings wat gekenmerk word deur liefde – en trou. Waarvan praat ons, presies? Wat beteken hierdie ‘trou’? Wat behels beloftes van liefde en trou?

Die klassieke beeld wat die Gereformeerde tradisie sou gebruik vir verhoudings van liefde en trou is verbondsluiting. So skryf die teoloog John Witte in sy boek From sacrament to contract (2012) dat daar verskeie uitbeeldings van die huwelik sou wees oor die eeue. Die beeld waarby Johannes Calvyn en ander Reformatore sou aanklank vind is dié van ’n verbond wat tussen twee mense gesluit word, met God en die gemeente as getuies van die trou wat beloof word.

Selde is ons bereid om te erken dat elkeen van ons, sonder uitsondering, ook beloftes verbreek. Dat ons erken – soos wat Paulus erken – dat ons die goeie wat ons wil, nie doen nie; en die slegte wat ons nie wil nie, wel soms doen. Ons almal verbreek beloftes. Ons almal pleeg verraad. Ons is almal verraaiers.

Ook hierin is ons deel van ’n veel ouer, veel groter geloofsgemeenskap. Verraaiers is volop in die Bybel. Nie as randfigure nie, maar dikwels as geloofs­helde – karakters wat sentraal is binne die verlossingsverhaal. Dink maar aan Jakob, wat sy broer en pa verraai. Sy verraad besorg aan hom die seën van ’n eersgeborene. Dink aan Dawid, wat sy vrou verraai. Uit sy verraad word Salomo en sy nageslag gebore. Dink aan Judas, wat sy vriend Jesus verraai. Uit hier­die verraad word Jesus oorgelewer om gekruisig te word en weer op te staan.

Dink aan Israel, wat God weer en weer verraai, en trou verbreek deur te kies vir ander gode, deur onregpleging teenoor vreemdelinge en weerloses, deur oorlog met buurnasies, geweld. Ook Israel, die verbondsvolk, verbreek beloftes – nie een keer nie, maar herhaaldelik; nie net enkelinge nie, maar as ’n volk (en dan boonop leiers van die volk, soos konings en priesters).

Wat sê dit vir ons van ons eie belofte­­afleggings en eedafleggings? Behoort ons op te hou om beloftes aan te gaan en trou aan mekaar te belowe, omdat die kans goed is dat ons dit sou kon verbreek? Behoort ons belofteverbre­king strawwer te tug in die kerk? Kan strafop­legging die nodige insentief bied dat ons by ons beloftes en ede bly? Of is ons verdoem daartoe om verraaiers te wees?

In ’n pamflet met die titel “Ja! Jy kán seker wees …” (1993) skryf Willie Jon­ker dat die diepste bron van ons troos in Godsbeloftes lê. Ons verlossing is geanker in God se inisiatief om na ons toe uit te reik, en om uit vrye guns alleen God se genade te skenk – nie in ons betroubaarheid of getrouheid nie. Daarom is dit “in sy hande absoluut veilig” en kán ons vanuit die vaste seker­heid leef dat God by God se verbondsbeloftes aan ons hou.

Ons kan leef asof daar níks is – nie lewe of dood, nie ons verlede of ons toekoms, géén klag en géén tug en géén dreigement – wat ons kan skei van God se liefde nie. Godsbeloftes beteken dat God se trou absoluut vas en seker is; onverbreekbaar en onverraaibaar deur God. God los ons nié – no matter what. Dít is genade.

Dit beteken dat die diepste bron van ons troos nie lê in ons eie vermoë en eie morele pogings om getrou te leef aan mekaar of aan God nie. Ons diepste troos is dat God getrou is aan ons. Dit is ál wat aan ons sekerheid bied.

Maar dit is ook hierdie troos wat aan ons die selfvertroue gee om wél beloftes te maak aan mekaar en voor God, al weet ons ook nie wat die toekoms vir ons inhou nie, en al is daar altyd die moontlikheid dat ons ons beloftes kan verbreek. Selfs dán behoort ons nie te vergeet dat slégs Godsbeloftes die bodem is vir ons eie beloftes nie.

Godsbeloftes is soos ’n rivier waarin ons swem – al sou ons ook links of regs, saam met die stroom of teen die stroom op swem, die rivier neem sy loop. Dit dra ons. Dit los ons nie. Al beur ons ook stroomop is dit steeds die rivier wat die stroom bepaal. Al wat ons kan kies is hoe ons daarbinne swem; hoe moeilik of maklik ons dit vir onsself en diegene rondom ons maak.

Godsbeloftes dra ons beloftes. Godsbeloftes dra ook ons verbreekte beloftes. Godsbeloftes dra ons trou én ons verraad. Die troos van Godsbeloftes is dat God ons dra. No matter what.

▶ Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Wreed en mooi

Hoekom sal ’n mens ’n boek oor die dood saamstel?

Dié vraag verklap reeds iets van ons vermyding van die dood wat op sigself veelseggend is. Die vraag is eer­der: “Waarom probeer ons iets ontken wat intrinsiek deel van die lewe is?” En wat bowendien nie ontwyk kán word nie.

Volgens kundiges is daar verskeie redes vir die vermyding van dié onder­werp. Hiermee net twee: Eerstens die menslike hubris; ons matelose ingeno­menheid met onsself en die oorskatting van ons belangrikheid. Dit maak die gedagte aan ’n verskynsel wat ons dikwels sonder waarskuwing tot stof reduseer, eenvoudig ondraaglik.

Tweedens, die feit dat ons altyd méér wil hê: meer besittings, meer plesier, meer aansien, dalk selfs meer godsdiens­tigheid en altyd meer tyd. Vanselfsprekend word die dood ’n natuurlike vyand, maar omdat ons dit ondanks al die tegnologiese en mediese wonderwerke steeds nie kan hokslaan nie, is vermyding en ontkenning die enigste uitweg.

Die doel met die boek was om die stilte rondom die dood te help verbreek. Die boek is egter alles behalwe stil ontvang; dit beleef nou reeds sy derde druk en daar kom steeds versoeke vir be­kendstel­lings en besprekings. My afleiding is dat mense se swye oor die dood min­der te make het met ’n kop-in-die-sand-houding en eerder spruit uit ’n soeke na die taal en verhale om oor die dood te dink en te praat.

’n Belangrike element van die boek is essays deur verskeie gesiene Afrikaanse skrywers wat op een of ander manier ’n intieme interaksie met die dood beleef het: Karin Brynard, Marita van der Vy­ver, Antoinette Pienaar, Dana Snyman, Valda Jansen, Kerneels Breytenbach, Heindrich Wyngaard … om enkeles te noem. Ma­rita se versugting is klaarblyklik vir baie mense vervul: “Wat oor­bly van my ervaring van my kind se dood, is die woorde waarmee ek die storie kan vertel. My woorde is nie naas­tenby so magtig soos Or­feus se mu­siek nie, maar dit kan moontlik ’n paar men­se bekoor of troos of bloot min­der alleen laat voel terwyl hul­le oor die dood van ’n geliefde treur.”

Die boek is ook méér as dit. Daar is onder meer ’n fassinerende gesprek met ’n sterwensbegeleier; ’n paramedikus se belewing van sy gereelde ontmoetings met die dood; ’n beknopte geskiedenis van ons houding jeens die dood; raad met verlies en die hantering van trauma; ’n stuk oor die belangrikheid van rituele rondom die dood; verskillende geloofsgroepe, asook ’n niegelowige, se sie­ning van die dood en wat daarop volg; die verslae van drie mense wat nadoodse erva­rings beleef het; ’n “dis­seksie van die dood” deur ’n pato­loog; drie humo­ristiese sketse …

Wat ek danksy die werk aan dié boek besef het: dat veral ’n mens se eie dood nie ’n neerdrukkende gewaarwording hoef te wees nie. Trouens, daar is oor­vloedige getuienis dat niks ’n mens se waardering en belewing van die lewe so intensiveer nie as ’n gesonde bewustheid van die dood.

▶ Tobie Wiese is die samesteller van Wreed én mooi is die dood (Jonathan Ball, 2019).

Hoe gemaak … as almal ver is?

Anita Goosen

“Party aande as ek gaan lê, huil ek agter ’n toe kamerdeur van verlange na my seun, dogter en twee kleinkinders,” sê 57-jarige Anita Goosen. Haar seun het ses jaar gelede na Amerika geëmigreer. Sy het onlangs ook ouma van ’n twee­ling geword, maar sy kan hulle nie gaan vashou nie omdat hulle finansies dit nie toelaat nie, vertel sy.

Anita vorm deel van ’n groot groep ouers wat in Suid-Afrika agterbly nadat hulle kinders vir verskeie redes Suid-Afrika vir ’n ander land verruil het.

“Party dae berus ek daarby, maar ander dae as hulle foto’s stuur dan loop my trane. Dis nie maklik nie. Dit voel ek is ’n ouma, maar ek is ook nie.”

Ezla Ritter

Vir Diana Louw, wie se dogter in China woon, is die verlange na haar kleinkinders ook die swaarste. “Ek mis my twee kleinkinders geweldig. Maar ek het met die verloop van tyd vrede gemaak. Veral as ek na die situasie van ons land kyk en die geweld. Dan sê ek aan die een kant dankie.”

Twee van Ezla Ritter (72) se kinders het onderskeidelik na Amerika en Italië geëmigreer. Sy vertel: “Aan die begin was dit baie moeilik. Maar ons het ’n Whats­App-groep en weet elke dag wat almal doen. Ons praat natuurlik oor wanneer ons mekaar weer sien. Maar ons praat ook oor die toestand van Suid-Afrika en Amerika. En van Trump se arrogansie!”

Graham Pienaar

“Ek mis my kinders en kleinkinders in Wellington, Nieu-Seeland vreeslik baie. Maar ons het goeie kontak op ons WhatsApp-groepie,” sê Graham Pienaar (82). “Hulle kom kuier elke jaar. Ek vind tog hulle hunker nog na Suid-Afrika en stel vreeslik belang in die nuus. My kleindogter het selfs onlangs hier in Tulbagh met haar Poolse man kom trou,” vertel Graham.

Raad vir dié wat agterbly

Moenie te veel tyd afstaan aan ge­dagtes oor wat kon gewees het nie. Fokus op dit wat is en probeer om die nuwe werklikheid te aanvaar.
Fokus op die positiewe wanneer jy met jou kinders kontak maak sodat hulle graag met jou in kontak wil bly.

Vind uit oor hulle nuwe wêreld om sodoende by hulle lewe betrokke te bly.

Talle ouers vind uit dat dit goed gaan met hulle kinders oorsee. Die wete sal dit makliker maak om jou verlies te aanvaar.

Geloof kan in dié tyd jou anker wees. Jy kan steeds oor kontinente heen op ’n geestelike vlak by hulle betrokke bly. Wanneer jy vir jou kinders bid, kommunikeer jy tog ook met hulle.

*Die wenke van dr Sulette Ferreira, emigrasie-spesialis wat ook berading gee, het in die Augustus-uitgawe van LiG, Kerkbode se susterpublikasie, verskyn.