Christians

’n Baie gestuurde Kersfees

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/11/n-baie-gestuurde-kersfees/

Adventstyd is hier. Ek lees in koerante dat dit maar ’n treurige Kersseisoen gaan wees want mense het minder geld om te spandeer. Dit is nogal ’n skrikwekkende gedagte: Die sukses van Kersfees hang af van of jy genoeg geld het om te spandeer. Ek hoop nie dit is waar nie, al is dit te verstane. Vir baie mense is die Kersvakansie ’n blaaskans in die drukte van werk en eise. En daarvoor help ’n bietjie ekstra geld. So, kom ons maak ’n duidelike onderskeid tussen die somervakansie en Kersfees.

In ons nadenke oor die kerk se gestuurde roeping, is Kersfees ’n baie belangrike merker. Kersfees gaan oor God wat tussen ons kom woon. God red ons nie van ver af nie, Jesus kom woon en loop tussen mense. Waar Hy kom, word mense gered, die wêreld heel.

Die teoloog Joachim Jeremias maak ’n groot saak daarvan dat God die stilte breek wanneer Jesus na die aarde kom. In die vier eeue tussen die Ou en Nuwe Testament het die stem van God al hoe stiller geword. Daar was nie profete nie, die wettiese lees van die Ou Testament word al sterker en mense beleef dat God ver is en dat dit moeilik is om God te ken en te dien.

En dan, skielik, boem! Jesus word gebore. Hy is Immanuel, God by ons.

Dr Willem Nicol vertel dat daar in Koptiese kerke in Noord-Afrika, permanent ’n krip en ’n kruis voor in die kerkgeboue staan. In Katolieke kerke en in kuns­galerye is daar amper net soveel skilderye wat gaan oor Jesus se menswording as van sy lyding. Die wonder van God se genade word net soveel uitgedruk deur die krip as deur die kruis.

Vir gestuurde gemeentes en gestuurde mense is dit wesenlik. Die feit dat God ons nie vergeet of aan ons lot oorlaat nie, dat die groot plan met die wêreld insluit dat Jesus mens word, sê iets fundamenteel vir ons lewe. Ons volg Jesus na die wêreld. Soos Jesus, is ons gestuur om ín die wêreld, tussen mense te leef en te werk.

God red nie op ’n afstand nie. Hy kom naby. So is ons ook bedoel om tussen mense te leef, in die wêreld ons lig te laat skyn. Daar is altyd ’n gevaar dat gestuur­de gemeentes op ’n afstand met mense werk, dat ons ander stuur en betaal om namens ons in die wêreld te wees. Kersfees herinner ons aan ’n God wat nie net stuur nie, maar self kom.

’n Baie geseënde en gestuurde Kersfees vir almal!

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Die aardse Jesus nooi mense om Hom te volg

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/11/die-aardse-jesus-nooi-mense-om-hom-te-volg/

Dr Willem Nicol met ’n skildery van Jesus wat in sy studeerkamer hang. Foto: Neels Jackson

Dr Willem Nicol se jongste boek – Genooi om te volg – gaan oor Jesus van Nasaret. Dit het pas by Bybel-Media verskyn. Neels Jackson het met hom daaroor gesels.


Ons diepste verlange is na kontak met God. Soms beleef ’n mens iets daarvan in die groots­heid van die natuur, in die weerkaatsings van God wat ons in sy skepping sien. Maar Jesus is die helderste beeld van God wat ons het. En hy word daardeur aangetrek.

So verduidelik dr Willem Nicol waarom sy jongste boek oor Jesus gaan. En as hy vertel hoe Jesus jou tel­kens terugtrek na Hom toe, dan hoor ’n mens iets mee­sleurends daarin.

Maar die boek gaan nie maar net oor Jesus nie. Op die voorblad staan baie spesifiek: “Ervaar die lewe van die aardse Jesus.”

En dít, die aardsheid en mensheid van Jesus, is vir Willem belangrik. Hy beklemtoon dat Jesus vlees geword het. Hy het nie maar net gelyk na ’n mens nie. Hy het mens gewórd. En dit is anders as wat in die ander godsdienste gebeur. Die Hindoes het ook verhale, maar dis legendes sonder ’n historiese basis. Die Boeddhiste praat oor Gautama, maar histories gesproke weet hulle omtrent níks van hom af nie.

Met Jesus het God egter in die geskiedenis ingekom. As Christene oor Jesus praat, praat hulle oor werklike gebeure, gebeure wat Lukas, die evangelis, sê dat hy dit goed nagegaan het.

Willem wil sy leser na hierdie werklikheid toe neem. En hy gebruik ’n interessante tegniek. In elke hoofstuk is daar ’n gedeelte onder die opskrif: “Ons leef ons in”. In die eerste hoofstuk begin dit só: “Jy staan halflyf met ’n kaal bolyf en ’n nat broek in die water van die meer van Galilea. Jy voel klein golfies klap teen jou vel. Onder jou voete voel jy die seesand.”

Daarmee plaas Willem sy leser in die posisie van die eerste dissipels. Hy vertel hoe jy deur ’n vreemdeling geroep word om Hom te volg, hoe jy en jou broer die nette los en agter Hom aanstap.

En dan word die los van die nette ’n beeld. Die leser word opgeroep om die skewe voorstellings van Jesus soos nette te los ten einde Jesus te volg soos Hy inderdaad as mens op aarde geleef het.

Hy noem van die skewe voorstellings van Jesus wat in mense se gedagtes leef. Dis iets soos dat Jesus bloot gekom het om ons skuld te betaal. Dis waar, sê Willem, maar dis ’n reduksie. Dis ’n verskraling van Jesus. Jesus is baie meer as net die betaalmeester.

In die tweede hoofstuk se inleefstuk, neem Willem jou na Jesus toe. En wat jy sien verbaas jou: “Hy lyk dan soos ’n boemelaar. Hy het iets soos ’n lang T-hemp onder aan, en dit rafel uit by die kante. Daaroor het Hy iets soos ’n lang hemp aan, vol stof en duidelik al jare gedra.Verslete klere van ’n arm man. Ou sandale wat al afgeleef is. Skraal soos iemand wat min eet. Bruin, donkerder as baie van jou mense, soos iemand wat baie in die son en buitelug lewe.”

Daar is aanduidings van Jesus se armoede in die Bybel, maar ons lees dit mis, sê Willem. Hy verwys na die keer in Markus 2 dat die dissipels op die sabbat die koringkorrels uit die are uitgevryf het. Dit was omdat hulle honger was. Oor die vyeboom wat deur Jesus vervloek is, sê hy dat Jesus daarin na vrugte gesoek het omdat Hy honger was. By die vermeerdering van die brood en vis, was dit nie ’n geval dat die skare maar net vergeet het om hul piekniekmandjies te pak en kos saam te bring nie. Daar was nie kos in hulle huise nie.

En dis belangrik om te verstaan dat Jesus arm was, sê Willem. Hy is tereggestel omdat die owerhede nie gehou het daarvan dat Hy Hom so by die armes skaar nie. Daar was potensiaal vir opstand. En as die skares by sy intog in Jerusalem Hosannas sing, moet ’n mens verstaan dat “hosanna” beteken: “Verlos ons.” Dis ’n vryheidslied, sê Willem.

So help Willem sy lesers om verskillende kante van die mens Jesus beter te leer ken. Daar is hoofstukke met titels soos “Met oop arms” en “’n Nuwe wêreld van moontlikheid”, maar ook hoofstukke wat heet “Amptelik was Jesus ’n ketter” en “Amptelik was Jesus skuldig aan hoogverraad”.

Dis hierdie Jesus wat mense nooi om te volg, soos die titel van die boek sê.

En “volg” beteken meer as om net ’n paar stellings oor jou eie sondigheid en die betekenis van die kruis daarvoor te aanvaar. Dit gaan oor ’n lewenswyse wat vir gelowiges die model word.

Willem gebruik ’n aanhaling van CK Chesterton om iets daarvan duidelik te maak. Chesterton het gesê: “For St Francis his religion was not a thing like a theory, but a thing like a love affair.”

Wanneer jou wortels ontwortel word

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/11/wanneer-jou-wortels-ontwortel-word/

DIE SWERFJARE VAN POPPIE NONGENA
Deur Elsa Joubert
Tafelberg, 2006
Resensie deur Arnau van Wyngaard


Ons het Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein in my matriekjaar as ’n voor­geskrewe boek gehad. Toe Joubert se Swerfjare van Poppie Nongena in 1978 verskyn, het ek hom aangekoop (vir ’n volle R7,95!).
As teologiese student, wat die opstande van 1976 op ’n baie persoonlike vlak ervaar het toe ons destyds verbied is om die swart woongebied, Mamelodi, binne te gaan waar ons voorheen sendingwerk gedoen het, was hierdie boek aangrypend.

Dit is die verhaal van Poppie wat van Uping­ton verskuif word na Lambertsbaai, daarna deur die regering gedwing word om Lambertsbaai te verlaat om in Nyanga hervestig te word, en wat dan so “gelukkig” is om inslaapwerk in Kaapstad te kry. Maar dit beteken dat sy net Sondae huis toe kan gaan vir ’n paar uur.

Daarby word haar werkspermit hoogstens vir twee of drie maande goedgekeur, waarna sy van nuuts af moet aansoek doen vir haar pas. Maar uiteindelik moet sy en haar kinders Kaapstad verlaat om in ’n lokasie naby Oos-Londen, waar sy niemand ken nie, te gaan woon, terwyl haar man, Stone, alleen in Kaapstad aanbly.

Ek het destyds toe ek die boek die eerste keer gelees het, iets begin verstaan van die frustrasie van ons landgenote wat daarna smag om ’n normale gesinslewe te hê gekoppel aan ’n stabiele werk, maar wat deur wetgewing verhoed is om dit te kon kry.

’n Paar maande gelede het ek en my vrou saam hierdie boek gelees. Vier en twintig jaar ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkie­sing, is daar steeds mense wat in hierdie omstandighede woon.

Weliswaar word hulle nie meer ontwortel op dieselfde manier as destyds nie, maar te veel kere hoor ek steeds dat iemand die opmerking maak: “Apartheid was nie regtig so erg nie. Hulle was destyds baie beter daaraan toe as nou. Hulle moet net daaroor kom.”

En dit is op hierdie punt wat ek vir so ’n persoon wil sê: “Gaan lees Poppie Nongena. Mis­kien, net miskien, sal jy verstaan wat apartheid aan ons landgenote se menswaardigheid gedoen het. En dalk verstaan jy waarom dit nie so maklik is om ‘maar net daaroor te kom’ nie.”

‘Ons wou bloed keer …’

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/11/ons-wou-bloed-keer/

“Ons wou bloed keer” en “Ek het my vin­ger op die sneller gehad.” Dit is die woorde van onderskeidelik ds Freek Swa­nepoel, ’n vorige moderator van die NG Kerk, en genl Constand Viljoen, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag. Die spanning in hierdie stelling is ’n aanduiding van hoe naby Suid-Afrika in 1994 aan die rand van ’n burgeroorlog was. Dit vertel ook die onbekende verhaal van die NG Kerk se belangrike rol in die soeke na vrede.

Die vrylating van mnr Nelson Mandela en die opheffing van die verbod op die ANC in 1990 het Suid-Afrika op ’n nuwe koers geplaas. Terwyl die nuwe koers die politieke kookpot in Suid-Afrika byna laat oorkook het, het die leierskorps van die NG Kerk ’n deurslaggewende rol gespeel om gemoedere te kalmeer sodat ’n vreedsame verkiesing in April 1994 kon plaasvind.

Tussen 1990 en 1994 het die Dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie onder meer vier keer vir Mandela ontmoet. Tydens hierdie gesprekke was mediasie tussen strydende groepe, die rol van die Afri­kaner in die “nuwe” Suid-Afrika en die soeke na ’n vreedsame oplossing vir die land telkens op die agenda.

Gesprekke is egter nie net met die ANC gevoer nie. Aan die ander kant van die politieke landskap het ’n groot groep konserwatiewe Afrikaners gedreig om die verkiesing van 1994 omver te gooi. Hulle was goed georganiseer onder leiding van Viljoen wat na bewe­ring ’n mag van 50 000 man onder leiding van vyf ge­neraals landswyd ontplooi gehad het. Hulle het gewag op die bevel om die verkiesing te ontwrig.

Viljoen was egter ook ’n ouderling-afgevaardigde op die Algemene Sinodale Kommissie. Dit het die deur oopgelaat om gewelddadige verset te ontmoedig. Na afloop van ’n vergadering met sy generaals op De Deur in April 1994 het Viljoen in sý woorde besluit “om die honde los te laat”. Daar sou geen verkiesing op 27 April 1994 wees nie. Intensiewe vredesamespre­kings het hom op 23 April 1994 van besluit laat ver­ander en die verkiesing kon voortgaan.
2019 is weer ’n verkiesingsjaar en emosies gaan weer hoog loop. Miskien moet Kersfees 2018 die vertrekpunt wees van ’n nuwe besluit om in 2019 vir vrede te werk, om voort te bou op die werk wat die kerk se leierskorps destyds gedoen het. Hierdie keer is dit die uitdaging aan elke lidmaat en elke predikant in elke gemeente van die NG Kerk wat met Kersfees die koms van die Vredevors gaan vier.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Wie ore het om te hoor

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/11/wie-ore-het-om-te-hoor/

Mark Zuckerberg se facebook, Google se You Tube, Steve Jobs se iPhone en Jan Koum se WhatsApp het die wêreld van gister in die niet laat verdwyn. In een oomblik kan jy nou jouself laat hoor reg oor die wêreld. En met een beweging van jou wysvinger kan jy kies om te hoor wat ander sê. En die generasie wat in hierdie era grootword, leef in die hede. Oor die verlede Google ons as dit nodig is. Oor die toekoms leer ons scenario’s verstaan en bestudeer ons patrone … die weer, bevolkingsaanwas, ekonomie. Maar vandag is eintlik dominant. Maar om dίt te weet is ook ou nuus.

Ek onthou toe tafelrekenaars in die tagtigerjare nuut was. Jy moes toe nog met die ou MS Dos-programme werk. Ek het net geweet hier kom ’n nuwe era. Hoe gouer ek leer werk met rekenaars, hoe beter. Ek is net te jonk. As ek nie hierdie era betree nie, gaan ek op die kantlyn van die samelewing beland.

Ons is reeds in die era van digitale kommunikasie. Hoewel Kerkbode elke 14 dae verskyn, het ons ook nou ’n digitale weergawe. Ons kan nou vinniger nuus breek en lang tydspanne verkort met vars inligting. Sinodale nuusbriewe wat weekliks verskyn, speel ’n belangrike rol om nuus te deel. Maar dié tydspan van ’n week, raak in die digitale era baie lank.

Maar laat daar by niemand enige illusie wees nie. Ten spyte van talle blitsige kommunikasiemediums is kwaliteit kommunikasie tussen mense en goeie verhoudings nie hiermee gewaarborg nie. Inteendeel, huwelike verbrokkel meer en meer, ouer-kind-verhou­dings is toenemend onder druk en sosialisering in gemeenskappe het op baie plekke ’n laagtepunt bereik. Emosionele kommunikasie tussen mense, en dus intimiteit, word nie noodwendig deur digitale kommunikasie bevorder nie. Dit is juis in die bevordering van deernis en intimiteit wat die kerk moet uitblink, sou ’n mens wil sê. Die oog tot oog en hand tot hand deel van harte en omgee is immers liefde in aksie soos Jesus ons geleer het. Natuurlik!

Die feit dat digitale kommunikasie nie grense eer­biedig nie en mense kan bereik waar hulle is, bied egter ook opwindende moontlikhede. Dat jy as gelowige aktief kan saamleef binne die kultuur van die tyd, is eie aan ons gereformeerde aard. In hierdie wêreld woon ons. Dis ’n vinnige wêreld. Dit is ook ’n klipharde wêreld. Dink maar aan facebook, hoe hard en verne­derend die gesprekke daar kan wees. Dis daar waar ons sout en lig moet wees. Die kerk moet in beide modusse kan funksioneer. In die deernisvolle wêreld en in die vinnige wêreld. Dit kan versoen word met mekaar. Dis nie ’n teenstrydigheid nie. Dis moontlik, maar veral vir mense wat outentiek omgee en volgelinge is van Christus. Wie ore het om te hoor, moet hoor.

Ons gaan as kerk in 2019 die digitale era met meer doelgerigtheid moet betree. Anders gaan ons in die dekades wat kom meer en meer geïsoleerd raak. Dit gaan egter ons deernis en omgee toets. Die een ding wat die kerk immers in die digitale era sal laat uitstaan is die warmte en deernis tussen sy lede. Hoe ons dit gaan leef met Instagram, Twitter en wat ookal kom, is die vraag.

Ons is aan Neels Jackson baie dank verskuldig. Hy het oor die afgelope jare nie net daarin geslaag om die nuwe elektroniese Kerkbode baie effektief in die geloofsgemeenskap en wêreld te laat praat nie. Hy het ook van Kerkbode ’n tuiste gemaak van die beste stories van deernis en diensbaarheid. Honderde stories is in Kerkbode gedeel wat iets vertel het van die wyse waarop gelowiges ander se lewe verryk en verruim. Neels het ook die Kerkbode benut om die mees intense gesprekke in die kerk van die afgelope jare daarin te laat gebeur. Die strekking daarvan was soms fel en verdelend, ’n weerspieëling van die werklikheid in die kerk. Die koerant was ook vol inligting en artikels wat veel van die diepe nadenke oor geloofsake in ons kerk aan die orde gestel en verklank het. Ons kan ons amper nie ’n sinode indink sonder Neels se teenwoordigheid nie. Ek sê dankie aan Neels wat as joernalis, met ’n diepgaande kennis van die teologie, groot bydraes gelewer het. My gebed is dat die aftrede wat wag vir hom en Louise ’n wonderlike nuwe era sal inlui van nuwe ervarings van God se goedheid en trou.

Aan die einde van die jaar is my gebed vir elke lidmaat dat die liefde en vrede waarvan Kersfees getuig, regtig elkeen se lewe diepgaande en omvattend sal verryk. Mag dié Kerstyd ’n tyd wees waarin ons ons hart opnuut kalibreer op die hart van Christus, die Here.

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

’n Legomuur van liefde

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/11/n-legomuur-van-liefde/

Wilgespruit se lego-muur van liefde. Foto: Wilgespruit Jeugbediening

As jy ’n rukkie gelede ’n draai by die NG gemeente Wilgespruit in Roodepoort gemaak het, sou ’n kleurvolle muur van legoblokke jou begroet het.

Dié muur, wat voor die verhoog van die kerksaal gebou is en daarom lyk asof die verhoog op lego staan, is aanvanklik tydens die kinderweek in die wintervakansie gebou, sê ds Braam Smith, leraar van die gemeente.

Die Lego-tema beteken “Lewe En Gee Om” en die doel was om die jeug meer oor diensbaarheid te leer, verduidelik Mariëtte Smith, wat betrokke by die jeugbediening is.

“Ons het sedert dan gesels oor hoe om vir jou gesin, gemeente en uiteindelik vir jou gemeenskap om te gee,” sê Smith.

Omdat daar soveel moeite in die maak van die “legoblokke”, wat inderwaarheid van bokse gemaak is wat kleurvol geverf is, ingegaan het wou hulle graag die bokse op ’n praktiese manier gebruik.

Tydens ’n onlangse gesinsdiens was die tema diensbaarheid in die gemeenskap. So het die gemeente die lidmate vooraf gevra om toiletware en lekkernye te bring om dié kleur­volle legoblokke te vul.

Volgens Smith het hulle met drie huise van veiligheid in die omge­wing kontak gemaak.

“Ons wou ons omgee graag persoonlik maak en 68 bokse is uiteindelik aan spesifieke persone van dié hui­se geallokeer,” sê Smith.

Uiteindelik het Angel’s Place, Baba Moses en Betha­ny House ook die gesinsdiens kom bywoon.

“Ons leer ons kinders dat jy nie net geld kan gee nie. Ons moet eerste ook omgee vir mense se harte. Daarom wou ons hulle nooi om saam met ons kerk te hou en na die tyd saam met ons te kuier.

“Ons het vir ons kinders vertel dié kinders is presies dieselfde as hulle, hulle omstandighede lyk net anders.”

Tydens die gesinsdiens is die bokse aan die huis­ouers oorhandig.

Smith vertel dat hulle elke Sondag ’n gesinsdiens en gewone diens het.

“Ons werk met ’n model wat glo in huisgeloof. Ons wil kinders en ouers bemagtig as ons vennote in geloof,” sê Smith.

“Meer lig as hitte” nuwe redakteur se pad met Kerkbode

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/04/meer-lig-as-hitte-nuwe-redakteur-se-pad-met-kerkbode/

‘n Voorliefde vir die natuur en reis het Schoeman onlangs na die Tankwa Karoo geneem.

LE ROUX SCHOEMAN is onlangs aangestel as Kerkbode se nuwe redakteur en neem die leisels in Januarie 2019 oor. Sy oë blink wanneer hy oor sy werk praat. Schoeman wil lesers boei en innooi eerder as wegstoot of verveel. Dit verg vir hom meer lig as hitte. Wie is Le Roux en hoe sien hy Kerkbode se pad vorentoe? DANIE MOUTON het hom ’n paar vrae gevra.


Danie: Jy is pas aangestel as redakteur van die oudste Afrikaanse koerant in die land. As mens aan jou voorganger dink, het jy groot skoene om te vul. Wat is die bydrae wat jy graag deur Kerkbode wil maak?

Le Roux: My voorganger, Neels Jackson, is ’n talentvolle skrywer en baie ervare joernalis – eintlik iets van ’n instelling as jy mooi daaroor dink. Soort van die Riaan Cruywagen van kerksake, kan jy maar sê. Ek is dankbaar dat hy ingestem het om op vryskutgrondslag deel van die redaksionele span te bly want ek vind groot baat by sy kennis en aanvoeling.

Die langtermynbydrae wat ek by Kerkbode sou wou maak, is om ’n betroubare multiplatform (papier en digitaal) nuusdiens te skep wat meer lig as hitte verskaf. Met ander woorde: Inhoud wat lesers boei en intrek eerder as verveel of wegstoot.

Danie: Kan Kerkbode al die NG Kerk se lidmate dien en almal se koerant wees?

Le Roux: Ek dink ’n kortpad na teleurstelling is om te verwag dat enige publikasie en die standpunte van alle bydraers daarin 100% met my eie voorkeure gaan oorvleuel. Hoewel toenemend aggressiewe verpersoonlikingsalgoritmes poog om ten minste ’n digitale leeswêreld te skep waar die subteks is: “You liked, so you would also like…” is dit (dalk genadiglik) nog nie ’n volslae werklikheid nie.

Soms glip ander se opinies deur die mure van ons eggo-kamers en ons moet eenvoudig verduur om herinner te word daaraan dat die lewe kompleks en standpunte veelvuldig is.

Ek dink ook ons moet versigtig wees om te uniek te voel met die verskynsel van polarisasie. Pres. Trump het die Amerikaanse nuusmedia tot ’n ongekende mate verdeel en stel hoë eise aan die idee van joernalistieke onpartydigheid.

Die Oxford-woordeboek se woord van die jaar vir 2018 was boonop “toxic” – dalk ’n verdere aanduiding van die feit dat publieke diskoers deesdae dikwels kwetsend en pleinweg uitputtend is.

Nietemin dink ek Kerkbode moet streef om die joernalistieke gees van nuuskierige verdraagsaamheid en balans konsekwent te handhaaf. Meer lig as hitte klink vir my na ’n waardige ideaal.

Danie: Vertel ons iets meer van Le Roux, die jong student wat teologie gaan studeer, maar toe in die wêreld van joernalistiek geëindig het? Waar kom jy vandaan en waar gaan jy as mens heen?

Le Roux: Ek is ’n privaat mens. Ek het ’n kreatiewe kant. Ek het blindekolle. Daar is plekke wat ek nog wil sien: binne en buite ons land. Ek dink visueel. Ek het ’n pad gestap sedert my Kweekskooldae en ’n verwondering vir wat op aarde die Bybel is – hoe dit binne ’n mens werk – het gelukkig oorleef.

As nuusbestuurder is my “strydkreet” die joernalistieke beginsel van “simple stories well told”. Dis die taamlik eenvoudige vlak waarop die beroep vir my funksioneer.

Ek het in Durban grootgeword, na die Kaap verhuis en ná my studies vir drie jaar oorsee gewoon (Suid-Korea en Londen) asook Johannesburg vir ’n ruk voor die Kaap my teruggeroep het.

Danie: Watter blootstelling as joernalis het die grootste impak op jou loopbaan gehad?

Le Roux: Ek het by Media24 die oorgang van ’n papier-eerste na digitaal-eerste werkvloei beleef en het ’n gesonde waardering vir hoe veeleisend en uitdagend daardie proses is omdat jy te make kry met mense se diepgewortelde werks- en denkpatrone. Maar ek het ook gesien hoe noodsaaklik dit is vir ’n publikasie – veral een met ’n trotse geskiedenis – om soms te laat gaan van sommige kernsekerhede.

Danie: Kerkbode het so twee, drie jaar gelede ’n digitale baadjie aangetrek met inhoud wat gratis beskikbaar gestel word. Papierkoerante gaan wêreldwyd deur ’n krisis met volhoubare digitale sakemodelle wat sukkel om van die grond te kom. Hoe sien jy die toekoms van joernalistiek en die koerantwese?

Le Roux: Jy vat dit raak met die term “volhoubare sakemodel”. Dis wat ons soek. In die media-wêreld praat hulle dikwels daarvan dat jy platform-agnosties moet wees. Jy moet in die eerste plek Kerkbode wees: ’n Sterk joernalistieke span en uitnemende medewerkers wat vars en nuttige inhoud skep of dit nou op papier, iPad, app of een of ander medium is wat ons nog nie eens ontwerp het nie. Dis als orrelpype. Maar die orrel self is die redaksie wat die hele proses dryf en die lesersgemeenskap wat rondom die inhoud ontwikkel.

Die geskiedenis leer ons koerante moes nog altyd inval by lesers se gedragspatrone. In die 1850’s het dit beteken De Kerkbode moes op ’n Saterdag afgelewer word sodat hy Sondag sy teikengroep kon bereik. Nou leef ons in ’n tyd waar die selfoon alomteenwoordig is en daardie medium dikteer weer, byvoorbeeld, dat daar multimedia- en meer interaktiewe inhoud naas die geskrewe woord moet wees. So ons moet die konteks, gedrag en behoeftes van die potensiële leser ernstig opneem en dit so bes moontlik dien.

Sal die gedrukte Kerkbode oorleef? Kom ons wees eerlik, hy lê in die Hoësorg-eenheid saam met baie ander gedrukte publikasies wat sukkel om hul advertensiemodel aan te pas van ’n suiwer oplaag-gebonde waardeproposisie na ’n data-gedrewe segmentering binne die aandag-ekonomie.

Le Roux Schoeman neem in Januarie 2019 die leisels oor as redakteur van Kerkbode.

So, die eenvoudige en eerlike antwoord vir die gedrukte Kerkbode se kans op oorlewing is myns insiens die volgende: Dit hang af van hoe duidelik, oortuigend en vinnig ons die waarde-proposisie van die gedrukte Kerkbode kan onderskei van ons digitale aanbod. Nie net onder intekenare nie, maar onder adverteerders wat verstaan dat ons as nispublikasie ’n smal maar baie diep gehoorsegement verteenwoordig.

In gedrukte formaat sal ons moet kyk na idees soos – byvoorbeeld – gedrukte kategese-hulpmiddels vir gemeentes, die terugbring van papier-eie goed soos ’n Bybelblokraaisel, ’n puik boekeblad wat jy voor jou kan oopsprei op ’n ontbyttafel en resensies van boeke lees wat in hoofstroommedia afgeskeep word.

Daai goed moet als help om die argument te maak teenoor die man of vrou wat die gemeente se beursie dra dat ons lidmate sal baat by ook die gedrukte formaat van Kerkbode. Vir ons as redaksie is die vraag dus: Hoe swel ons die groot-intekenaar-gemeentes wie se steun ons reeds geniet na selfs nog groter intekenaargetalle? En hoe kry ons die byna helfte van die Kerk se gemeentes, wat ’n Kerkbode-subskripsie as lae prioriteit eenkant skuif met begrotingstyd, om anders te dink oor ons nut en ons nuus? Dis nog als papier-sake.

Aan digitale kant is daar selfs ’n groter uitdaging: hoe, met ’n piepklein redaksie, hou jy ’n honger nuusplatform se maag stil vir twee weke tussen gedrukte verskyning? En veral, hoe differensieer ons onsself sinvol van ander plekke op die web? Dis tog mal om teen Facebook in die kryt te klim deur te probeer die Nommer Een Tuiste van Bekgevegte te wees. Maar hoe kan ons sinvolle gesprek en lesersdeelname tog ’n groter deel van ons digitale leesstof maak?

Nog ’n groot vraag: Hoe bring ons meer streeknuus vanuit gemeentes na die oppervlak? Die antwoord hier, waaroor ons heelwat meer in Kerkbode self sal praat, is dat ons die uitnodiging na medewerking met lidmate wil heruitreik. Dis interessant om te dink dat, met die toemaak van meeste tradisionele kleindorpse buitekantore, sit hoofstroomnuuskantore met die situasie dat hulle die stelsel – die redaksionele werkvloei – het om ’n wonderlike verskeidenheid nuusstories te kan skryf en publiseer, maar nie die “voetspoor” buite die groot sakekerne het nie. Hulle het eenvoudig nie verslaggewers op Bela-Bela, Newscaslte, of Burgersfort nie.

Ek vra myself of die Kerk se uitdaging nie presies die teenoorgestelde is nie: Ons het, in die gestaltes van dominees en lidmate, ’n reuse-voetspoor regoor die land. Kan ons ’n werkvloei skep en instandhou waar die nuuswaardigste en interessantste stories uit presies daardie dele van die land een van Kerkbode se sterkste inhoudspilare word? Onthou, streeksnuus het nie minder belangrik geword nie; dis slegs streeksnuuspublikasies wie se sakemodelle vasgedraai het.

Danie: Wie is jou gunsteling teoloë? Wat tref jou van hul teologie?

Le Roux: As student het prof. Dirkie Smit se Sistematiese Teologie-klasse ’n wêreld vir my ontsluit. Ook sy toeganklike skryfstyl en meedoënlose leergierigheid soos wat al die jare uit sy Geestelike Waardes-rubriek geblyk het, is vir my ’n toonbeeld van hoe teologie kan (dalk moet) funksioneer.

Maar as ek een teoloog moet uitsonder vir persoonlike impak op my lewe sou dit Richard Rohr wees. ’n Priester in die deelstaat Nieu-Meksiko wat ’n holte vir my voet gemaak het. Hy bedryf die Center for Action and Contemplation in die VSA en as mense hom vra: Nou watter van daai woorde is belangriker: “Action” of “Contemplation”? Dan sê hy die woord “and”. Sy paradigma van “Yes, and…” het krag.

Danie: Jy het onlangs gesê God is in jou belewingswêreld soms nader as elke asemteug, en soms voel God weer vêr weg. Wie is God vir jou en watter rol speel geloof in jou lewe?

Le Roux: Die agtergrond tot daai opmerking is as volg: Ek het vroeër vanjaar na ’n Moslem-leier sit en luister by ’n perskonferensie in die hartjie van Sandton en hy het gepraat oor die gelowige wat soms wonder: Is God ver, so ver dat mens moet skreeu? Of is Hy naby, so naby dat jy net hoef te fluister? Hy haal toe ’n vers uit die Koran aan waar God beskryf word as nader aan die mens as dié se “jugular vein”.

God met ons, basies. God kruip nie weg nie.

Danie: Wie is Jesus vir jou?

Le Roux: God se Seun, in ons menslike taal. Dis ’n ryke misterie.

Danie: Wat gee jou hoop vir die toekoms van die NG Kerk? Vir die toekoms van Suider-Afrika?

Le Roux: Alle voorbeelde van vergifnis, geloof en nederigheid.

Danie: Van jou spore lê in die Tankwa en jy het onlangs jou 40ste verjaardag langs die Weskus gaan vier. Wie is Le Roux Schoeman as jy die kantoordeur toetrek en jou skoene uitskop?

Le Roux: Dalk net twee goed. Ek is lief vir die natuur en ek het kernvriendskappe in my lewe. Op hierdie ouderdom begin ek werklik die waarde van vriendskap op ’n hele nuwe manier beleef en waardeer.

Veelsydige Vakmanskap

Verskeie joernalistieke toekennings getuig van Le Roux Schoeman se veelsydige vakmanskap. Hy is vaardig met woorde ‘en beelde. Hy is ook oortuig gewone mense is veel belangriker as wat hulle dink. Hier is ’n kort dokumentêr wat hy oor Boetie Fanie Tredoux (76), visserman van Velddrif, vir Netwerk24 gemaak het:

In Vuurvas kom teologie en letterkunde saam

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/03/in-vuurvas-kom-teologie-en-letterkunde-saam/

VUURVAS
Deur Carel Antonissen
Naledi, 2017
Resensie deur Cas Wepener


Vuurvas is Carel Antonissen se debuutdigbundel, alhoewel enkele van sy gedigte al voorheen gepubliseer is. Die roerende gedig getiteld “Die pad na Klipfontein” was op die langlys vir die Sol Plaatjie-toekenning, die bundel op die kortlys vir die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys 2018.

Vuurvas is ’n bundel wat getuig van lewenswysheid en ’n bewuste lewensingesteldheid, én van die vaardigheid om iets daarvan met poëtiese taal weer te gee. Die bundel is keurig uitgegee en die blom teen die roetkleurige agtergrond op die voorblad is betekenisvol. Die flapteks gee onder meer die volgende inligting aangaande die voorblad: “Die brandlelie verskyn gewoonlik nege dae na ’n veldbrand. Dit is die eerste teken van lewe wat soos ’n feniks uit die as verrys. Hierna bly dit periodiek groei, dikwels tot vyftien jaar.”

Vuurvas is ’n debuutbundel, ook nie ’n uitsonderlike dik bundel nie, maar dit is ’n gewigtige bundel, want dit is tot barstens toe vol lewenswysheid. Die bundel het vier afdelings, elkeen met ’n mooi titel wat aan ’n gedig in die betrokke afdeling ontleen is.

Die eerste afdeling is getiteld “Bont krale en ’n rok wat sing” en is propvol vroue waaroor gedig word. In deel twee, getiteld “Om die binne­luike oop te stoot”, kyk die digter terug oor sy grootwordjare en besoek die landskap van sy jeug, te wete die wêreld van Calvinia. Landskap en plek is deurgaans ’n tema wat in noue verband met die binneluike staan. “Die verskriklike tamboeryn” verwys na die tamboeryn in die verhaal van Jefta se dogter (Rig 11) en in hierdie deel kom ’n sterk sosio-politiese betrokke en kritiese stem na vore. “Kordaat met vuur” is die laaste afdeling waarin die digter speel met die uitdrukking “om met vuur te speel”.

In Vuurvas kom teologie en letterkunde dig bymekaar. Nie alleen baat die Afrikaanse poësie in hierdie bundel by Antonissen se teologie nie, maar ek glo dat die teologie ook ruimskoots by sy poësie baat. Wat teologie wil sê kan nouliks in menslike woorde uitgedruk word, maar wanneer dit gedoen word, glo ek, is die woorde van die digkuns, veral gelouterde vuurvaste woorde soos dié van Antonissen, ’n goeie keuse.

▶ Prof Cas Wepener is hoof van die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Bekering tot die waardes van die koninkryk van God

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/03/bekering-tot-die-waardes-van-die-koninkryk-van-god/

Jesus, Johannes die Doper en die dissipels was dit eens dat die koms van God se koninkryk gevra het dat diegene wat die boodskap hoor hulleself moes bekeer. Bekeer deurdat hulle, en ons, volgens die waardes van die koninkryk van God leef.

Die kernwaarde daarvan is dat ons opnuut moet leer om te deel in God se liefde vir onsself, ander en sy ganse skepping (Luk 10:27). God se koninkryk is nie beperk tot ’n enkele nasionale groep of geografiese gebied nie. Dit omsluit almal en alles.

Die liefde wat God se allesomvattende liefde by ons moet ontlok, is meer as ’n emosie. Dit is om op ’n etiese wyse met ander saam te leef.

So is liefde volgens Johannes 14:15 om in gehoorsaamheid aan God te leef. Dit vra wat God van ons verlang en nie wat ons eie hart begeer nie. In navol­ging van die Ou Testament, wat ons oproep om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys, en om God in alles in ag te neem (Miga 6:8), verklaar Jesus dat God diegene wat honger en dors na sy koninkryk se gereg­tigheid seën (Matt 5:16).

Die geregtigheid is nie iets wat van ons vereis om op te hou om mens te wees nie. Dit vra trouens van ons om as die mens te leef wat God ons bedoel het om te wees en om vir ander dieselfde te gun.

Om dié rede moet ons die menswaardigheid van alle mense respekteer as die beeld van God deur aan hulle die ruimte te bied om hulle unieke gawes uit te leef.

Die ruimte moet verder strek as dat ons mekaar toelaat om dit as individue in isolasie van mekaar te doen. Die koninkryk van God herstel juis ons gemeenskap met mekaar sodat ons mekaar kan dien en opbou met ons gawes.

Ons is immers die beeld van God in gemeenskap met mekaar volgens die eerste skeppingsverhaal (Gen 1:26-27). Daarom moet ons nie net leer om die beeld van God in almal te herken nie. Ons moet meewerk daaraan dat dit ook bevestig word van diegene wat dikwels deur die samelewing uitgerangeer word.
Die koninkryk van God is daarom volgens Lukas 4 juis goeie nuus vir die armes en ander gemarginaliseerdes. Dit herstel almal tot hul regmatige plek in God se goeie skepping.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Heuning uit die seshoek-sel

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/03/heuning-uit-die-seshoek-sel/

“Uit die gevormde literatuur is nooit weer poësie te maak nie,” het die digter NP van Wyk Louw in sy Ars Poetica van 1962 verklaar. Heuning, sê hy, word “uit blomsap” gemaak en “uit heuning self, glo nog; maar nie meer uit die seshoek-sel.”

Hiermee stel Louw die vraag oor die oorspronklikheid van kuns aan die orde: Is goeie kuns “oorspronklik” in die sin dat dit in beginsel vry is van beïnvloe­ding deur enige ander reeds bestaande kunswerk? Op die oog af lyk dit asof Louw van mening is dat dit inderdaad ’n voorwaarde vir goeie kuns is, alhoewel hy wel toegee dat “heuning … uit heuning” tot stand kan kom.

Die werklikheid is egter dat alle kuns deel uitmaak van ’n tradisie en dat daar binne enige tradisie ’n voort­durende gesprek is tussen nuwe skeppinge en kuns­werke wat dit voorafgaan. Oorspronklikheid bete­ken in die lig hiervan nie dat daar geen sprake van wedersydse beïnvloeding is nie, maar dat elemente en motiewe uit die verlede op ’n kreatiewe manier herbenut word en opnuut betekenis kry in ’n nuwe konteks. Dit sou op een van twee maniere kon gebeur: óf deur herbevestiging van wat ’n vorige kunswerk wou oor­dra, óf deur krities in gesprek daarmee te tree.

’n Fassinerende voorbeeld van hierdie proses van herinterpretasie is die Studie na aanleiding van Diego Velázquez se Portret van Pous Innocentius X deur die Iers-gebore Britse skilder Francis Bacon (1909-1992).

In die oorspronklike werk van die Spaanse hofskilder Diego Velázques (1599-1660) (links hieronder afgedruk) word die pous uitgebeeld met die waardigheid van ’n hoogs intelligente en uitgeslape persoon. Sy houding en kleredrag straal selfvertroue en inhe­rente gesag uit – ’n toonbeeld van absolute mag in ’n tyd toe die gesag van die pous feitlik onbetwis in die destydse wêreld was.

In Bacon se werk (regs hieronder) word hierdie visie van mag op meedoënlose wyse gedekonstrueer. Die uiterlike tekens van kerklike mag is nog daar, soos verteenwoordig deur die klere van die pous en die troon waarop hy sit. Die kleur van die pouslike mantel het egter verwissel van ’n swierige rooi na ’n byna sieklike pers-blou, terwyl die pouslike troon in die woorde van die joernalis Michael Glover in die proses is van “transmogrifying … into something else, a corral or a cage-like shape”.

Die pous as verteenwoordiger van kerklike mag is volgens Glover hier “in the throes of becoming trapped inside that which once served to emphasise his hieratic eminence. The chair on which he sits, fiercely gripping its arms, almost seems to be in motion … It lacks groundedness, solidity … For all that, he grips it in order to re-find some stability.”

Die mees opvallende is dat die selfvertroue van Velázquez se pous plek moes maak vir die angstigheid en onsekerheid van Bacon se eietydse pous (waarskynlik soos die vyf ander “skreeuende pouse” wat hy op obsessiewe wyse op dié skildery van Velázquez gebaseer het, ’n toespeling op Pius XII wat pous was van 1939 tot met sy dood in 1958). Hierdie angstigheid en onsekerheid word nie net weerspieël in die wyse waarop die pous met sy hande aan die troon vasklem nie, maar veral in die angskreet waardeur sy gesig op skrikwekkende wyse vertrek word. Dit is ’n pous, weer in die woorde van Glover: “utterly robbed of his imperious serenity. He now inhabits a terrible, streaked, shimmering void of unknowing”.

Die herinterpretasie wat deur Bacon in hierdie kunswerk voltrek word, lewer vlymskerp kommentaar op wat van mag (en veral in dié geval van kerklike mag) in die moderne era geword het. Die vaste sekerhede waaraan dit in die verlede geanker was, het grootliks verval, en wat oorbly is ’n angstige gevoel van vervreemding en verlies. Agter die uiterlike reste van magsvertoon lê wat in die woorde van ’n anonie­me kunskritikus beskryf is as: “that existential fear, loathing and incomprehension at the atrocities … that came to light at the end of World War II”.

Daarin lê egter ook die kreatiewe moontlikheid om op ’n nuwe manier te dink oor kerklike gesag: nie meer in terme van mag en beheer nie, maar met ’n groter bewustheid van menslike weerloosheid en onsekerheid; minder beheptheid met die uiterlike vertoon van groot en magtige kerklike strukture, en ’n meer nederige ingesteldheid teenoor die kompleksiteite van die lewe; leierskap wat as ’t ware van die heersertroon afklim en gestalte vind “nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees” (1 Pet 5:3).

Deel van hierdie uitdaging bly egter om nie die kreet van Bacon se skreeuende pous te misken nie. Want, sê Glover: “this scream is not quite a denial … To scream against the denial of the light is also a self-vaunting and heroic thing”. Weerloosheid en protes staan nie noodwendig teenoor mekaar nie, maar kan saam dalk juis meer vermag. Soos heuning uit die seshoek-sel.

▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedienings­ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.