Attie Barnard

6 Februarie 1927 – 25 September 2018


Prof Adriaan Cornelis Barnard (BA, BD, DTh) is op 6 Fe­brua­rie 1927 gebore te Vredefort in die Vrystaat. Sy vader is Hendrik Daniël Barnard, ’n boekhouer en deeltydse boer wat lief is vir grond. Sy moeder is Johanna Catharina Maria Odendaal, wat in die bank werk en haar gesin met liefde en deernis opvoed in die vrese van die Here. Voordat Attie skool toe is verhuis sy ouers na ’n plaas in die distrik Bultfontein, waar hy as plaasseun opgroei. Attie begin in 1934 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Bultfontein. In 1941 verhuis sy ouers na Springs waar hy in 1944 aan die Hugenote Hoërskool matrikuleer in die eerste klas, met ’n onderskeiding in die vak wetenskap. Hiervoor en vir wiskunde het hy ’n natuurlike aanleg, maar hy ontvang die roeping om predikant te word, waaraan hy gehoor gee.

Attie skryf in 1945 in as student aan die Universiteit van Pretoria, waar hy BA (Admissie) loop, met Grieks en Hebreeus as hoofvakke, waarvoor hy ’n groot aanleg toon. In 1948 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1950 die BD-graad in die Teologie verwerf. In die lente van 1951 vertrek hy na Nederland waar hy aan die Vrije Universiteit te Amsterdam studeer in die Praktiese Teologie. Hy doktoreer met die proefskrif: “Die Pinksterfees in die kerklike jaar”, met prof R Schippers as promotor. Hy het student gebly sy lewe lank, ook nadat hy afgetree het. Hy het tot die einde toe die beste, nuutste en mees fundamentele boeke in sy belangstellingsveld gekoop en bestudeer. Prof Attie Barnard se leuse was: “Ad fontes – terug na die primêre bronne”. Sy persoonlike boekery was sy grootste bate, sy trots en verkwikking.

Attie trou op 29 September 1951 met mej AS Joubert, ’n lewensmaat wat hom met liefde ondersteun tot die einde van sy lewe. Sy het ’n BSc-graad aan Tukkies behaal en vergesel hom na Amsterdam in Nederland. Uit hulle huwelik is twee kinders gebore: Christien in 1956 en Hennie in 1958.

Prop Attie Barnard keer terug na Suid-Afrika en word in 1954 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Sonhoogte te Primrose in Germiston, waar hy met oorgawe sy eerste tree in die gemeentelike bediening gee en uitstekende ervaring opdoen. Dit was ’n nuwe gemeente waar ’n nuwe kerkgebou onder sy leiding opgerig word. In 1959 word hy leraar van die NG Gemeente Randfontein aan die Wesrand, waar die latere prof AJ Smuts sy medeleraar is. Dit is ’n myngemeenskap waar hy met Woordbediening en huisbesoek siele vir die Here wen.

In 1961 word hy leraar van die NG Gemeente Johannesburg in die hart van die Goudstad, waar hy ses jaar lank met oorgawe lidmate in die middestad van Johannesburg bedien. Dr Attie werk met baie medeleraars saam, onder andere dr WD Jonker en dr AJ Venter. Hy en ’n span opgeleide gelowiges werk in die middestad en Hillbrow onder kerkvervreemdes, buitekerklikes, ongelowiges, ateïste en dwelmverslaafdes. Dr Attie was ook die stigterslid van “Selfmoord Ano­niem”, waar hy saam met geneeshere en psigiaters ’n gratis spreekkamer bedryf het. In 1967 onderneem hy ’n intensiewe en uitgebreide studietoer oor Industrie-arbeid, Evangelisasie en Liturgiek na Engeland, Nederland en Duitsland, ook Oos-Duitsland.

In 1967 loop sy pad na die NG Gemeente Durban-Noord, waar hy baie vir Afrikaner-gelowiges in die groot hawestad beteken. In dié tyd beteken hy baie vir die Natalse Kerk se moderatuur en doen diens as aktuarius. Hy dien ook op die Breë Moderatuur van die NG Kerk, waar hy waardevolle leiding gee.

In 1974, die jaar van die bekende Jeug-tot-Jeugaksie van die NG Kerk, neem dr Attie Barnard ’n beroep aan na die NG Gemeente Arcadia in die hart van Pretoria. Hier dien hy weer op die moderatuur en is aktuarius van die NG Kerk in Noord-Transvaal. Hy bedank verskeie beroepe, ook vir sinodale poste in Natal, Wes-Kaapland en Noord-Transvaal. Na slegs twee jaar kom die roepstem van die NG Kerk toe hy beroep word as professor in Praktiese Teologie aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Hier lei hy ’n geslag predikante op en prof Attie se invloed strek ver en wyd. Hier werk hy tot hy op 31 Januarie 1989 sy emeritaat aanvaar.

Prof Cas Vos skryf in Kerkbode oor sy werk en nalatenskap: “Ek was hartseer toe ek verneem het van die afsterwe van ’n geliefde vriend, kollega, departementshoof, ook voorsitter van die Psalmhersieningskommissie. Om te dink: Die wonderlike vriend en kollega is weg. Al wat oorbly, is onthousels. Sy stem, sy warmhartige en unieke persoonlikheid, sy akademiese leierskap en bydrae, sy besondere vriendskap. Ek is as jongeling uit ’n aangrensende deel van die Teologie, naamlik Dogmatiek, in 1989 as medeprofessor beroep. Ek het hoë agting vir prof Barnard gehad. Sy menslikheid, hartlikheid, integriteit en spitsvondigheid het my dadelik tuis laat voel. Veral sy akademiese vernuf en toewyding het my diep beïndruk.

“Sy boek, getiteld Die Erediens, is welverdiend met die Andrew Murray-prys bekroon. Dit is ’n werk van hoogstaande gehalte. Prof Gerben Heitink, bekroonde Nederlandse teoloog, het die boek as een van die heel beste ten opsigte van die geskiedenis van die liturgie beskou. Dit was nie net vir akademiese inligting bedoel nie, maar vir studente, predikante en die kerk. Hy was ’n uitnemende akademikus. Hy het altyd op primêre bronne gesteun. Sekondêre bronne was net nie goed genoeg vir hom nie. As dosent het hy die allerbeste gegee en daarom het hy ook van studente net die beste verwag. In ’n eksamen by prof Barnard moes studente alles baie goed ken.”

Vos skryf verder: “Ek was uitermate bevoorreg om prof Barnard vir die grootste deel van die negentigerjare as voorsitter van die Psalmkommissie en as ondervoorsitter van die Gesange­kommissie grondig te kon leer ken. Ons het boesemvriende geword. Met wysheid en deeglikheid het hy leiding in die Psalmkommissie gegee. Hy het met aandag na ander geluister en sake met oorleg bestuur. Ek sal sy spitsvondigheid nooit vergeet nie. Dit was nie altyd maklik om teoloë en musikoloë se gedagtes te versoen nie. Maar oom Attie het dit met grasie en humor reggekry. Ek dank die Here vir so ’n vriend, akademikus en mens soos Attie Barnard. Soli Deo Gloria.”

Sy dogter Christien skryf: “My pa, Attie Barnard, was ’n uiters intelligente man wat nie ’n boek of ’n artikel geskryf het sonder om deeglike navorsing te doen en baie bronne te raadpleeg nie. Hy het ook meeste van sy bronne in hulle oorspronklike taal gelees aange­sien hy heelwat tale magtig was. Sy laaste boek het hy in Januarie 2018 op die ouderdom van amper 91 jaar gepubliseer: Die boodskap van vroue in die Bybel. Hy het wyd gelees en kennis van uiteenlopende onderwerpe gehad. Wat vir ons egter uitstaan van sy lewe, is sy kinderlike geloof in God, sy nederigheid en empatie en sy liefde vir sy familie. Attie Barnard het diep spore getrap in die NG Kerk, maar nog dieper spore in die lewe van al die mense met wie hy elke dag in aanraking was.”
Na sy aftrede woon hulle van 1989 tot 1998 in Waverley in Pretoria en verhuis toe na Durbanville in die Wes-Kaap. Hulle woon in die Fairtrees Aftree-oord en was tot die herfs van 2018 baie gesond en heeltemal onafhanklik. Prof Attie ondergaan ’n suksesvolle knievervangingsoperasie, maar die nagevolge van so ’n groot operasie op sy ouderdom was te kwaai en hy het die volgende vier maande in hospitale en die siekeboeg deurgebring en al meer agteruit gegaan. Hy sterf op
25 September 2018 en ’n begrafnisdiens word op 1 Oktober 2018 deur ds Rian Verster waargeneem in Durbanville. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2018 verskyn.