Anateïsme – om wéér te glo

http://kerkbode.christians.co.za/2017/07/14/anateisme-om-weer-te-glo/

Prof Richard Kearney aan die woord tydens sy besoek aan Suid-Afrika. Foto: Keran Ducasse

Te midde van ons hoogste drome oor menswees en ons suiwerste geloofs­ideale oor betekenis en die liefde van God, skreeu die lyding van die wêreld skril en aanhoudend. Hierdie herinneringe aan ge­brokenheid roep gelowiges voortdurend op om ernstige en diep geloofsvrae te vra.

Hoe kan ons geloof in ’n God van liefde bely te midde van die skreiende onreg rond­om ons? Hoe verwag ons van slagoffers van mensehandel, plaasmoorde, terrorisme en xe­nofobia om te bid: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid”? Hoe gemaak met die tye wanneer ons roep, “Waar is U, Here?” maar die hemel bly stil en sonder antwoord?

Daar is heelwat mense vir wie vrae soos hierdie uiteindelik lei tot die verlies van hul­le geloof. Vir ander is dit weer die skynbare onakkuraatheid van die Bybel, gemeet teen die bevindinge van die hedendaagse natuurwetenskap, wat hulle die rug laat keer op die God van hulle Sondagskool-klaskamers.

So het Europa ook by hulle derduisende kerklos begin lewe ná die trauma van die Twee­de Wêreldoorlog en die opbloei van die natuurwetenskap en tegnologie. Die filosofie het hierdie kritiese tydperk verwoord, onder andere deur Freud, Marx en Nietzsche, die sogenaamde “meesters van suspisie”.

Met hulle fyn kritiek het hulle uitgewys dat ons godsbeeld in vele opsigte maar ’n sameflansing is van ons eie projeksies: onbewuste vrese en begeertes, en ver­skuilde pogings tot magsmisbruik en manipulasie. Aan die ander kant van hierdie God wat deur mense en in die beeld van mense geskape is, het dit gelyk of niemand meer sou kon glo nie. Die filosofie het klaargemaak met God.

Tog, ten spyte daarvan dat die intellektuele kringe hulle hande van alle godsdienstigheid skoongewas het, het die godsvraag toe nié verdwyn, soos verwag is nie. Terwyl dit maar al te duidelik is dat mense nie meer op dieselfde wyse dink oor God nie, is dit net so duidelik dat ons nie kan praat van ’n post-God Europa nie, en verseker nie van ’n post-God wêreld nie.

Vandaar die hedendaagse, heel onverwagse “religious turn” in die filosofie. Die godsvraag word met hernude ywer gevra. Kongresse word georganiseer, boeke en artikels word gepubliseer, en die vraag op almal se lippe lui as volg: “Hoe lyk die God waaroor ons praat, nadat ons gedink het dat ons die God-saak afgehandel het?”

Die Ierse filosoof Richard Kearney, tans professor in filosofie by Boston College in die VSA, is een van die stemme wat op die voorgrond van hierdie wêreldwye gesprek gehoor word. Met sy woord “ana-teïsme” (“ana” is ’n Griekse voorsetsel wat ná of wéér beteken) wil hy iets verwoord van die moontlikheid dat God as vreemdeling kan terugkeer na ’n wêreld wat met God klaargemaak het.

So beleef mense dan ook dikwels dat hulle na God terugkeer. “Weer” God, of God ná God. Dit wil iets beskryf van die ervaring dat sommige mense aan die anderkant van die niksheid van ateïsme, tog ervaar dat hulle steeds tot God bid.

In hierdie ervaring word God dikwels as vreemdeling ontvang: die ervaring van God in die vreemdheid van die Een vir wie ek gedink het ek ken, en gedink het ek mee klaargemaak het, maar vir wie ek nou onverwags as geskenk terugontvang.

Kearney het op 17 Mei, tydens ’n besoek aan Suid-Afrika, ’n groep predikante en teologiese studente in Pretoria toegespreek en verduidelik dat ’n groot fokus van die godsdiensfilosofiese gesprek juis daaroor gaan om te vra hóé ons in hierdie hernude soeke oor God moet dink. Hoe lyk die God waaroor ons praat en tot wie ons kan bid, selfs te midde van (eerder as ten spyte van) Auschwitz, ekologiese vernietiging, en die verkragting van kinders?

Kearney se eie anateïstiese nadenke hieroor fokus op die “onmagtige mag” van God. Die fokus val weg van die almagtige suiwer-wese wat ver verhewe bo die skepping bestaan en sy wil op nietige skepsels af­dwing.

Te veel kere het mense in die verlede só ’n godsbeeld gekaap ter wille van hul eie imperialistiese be­lang. Te dikwels is só ’n God deur mense misbruik vir hulle eie magsvergrype.

Nee, die metafore wat in die huidige filosofiese denke die verbeelding teruglei na die misterieuse teenwoordigheid van die Groot Ander, is beelde van magteloosheid. God wat ervaar word in die “geringste onder julle”: God in en deur die hulpelose vlugteling, vreemdeling, en Uitgeworpene aan die kruis.

God wat teenwoordig word in die afbreek van grense, wanneer ek iemand aanraak wat ánders is as ek, en die keuse maak vir liefde en vergifnis eerder as vir geweld en vergelding.

Dit is tog nie nuut nie. Die Bybel is vol van sulke verhale. Ons ken dit en ons is daardeur gevorm: stories van die kleine en die feilbare en die skynbaar onmoontlike wat moontlik gemaak word.

Dalk het die tye voldoende verander dat ons hierdie verhale weer nuut kan hoor. Miskien noudat die Kerk wêreldwyd, maar ook hier by ons, moet afstand doen van haar eie eertydse magsposisie, mag ons gereed wees om hierdie verhale van magteloosheid te begin leef. Soos die vreemdeling van Nasaret.

– Lees gerus Richard Kearney se Anatheism: Returning to God after God (Columbia, 2011).

Dr Yolande Steenkamp is leraar by NG Moedergemeente Lyttelton.

The post Anateïsme – om wéér te glo appeared first on e•Kerkbode.