Aftree-ouderdom: ‘Ervaring kan nie gekoop word nie’

http://kerkbode.christians.co.za/2019/03/12/aftree-ouderdom-ervaring-kan-nie-gekoop-word-nie/

Ds Dawie Meyer skryf:

Die artikel “Kerk krap kop oor leraars wat nie wil aftree nie” verwys.

Ek is deel van die groep ouer predikante in ons kerk.

Die artikel vermeld toevallig, maar neem dit nie wésenlik in ag nie, dat menige leraar (lees enige derde millennium persoon) in die huidige tydvak van gevorderde mediese versorging en langer lewensverwagtinge, gesonder en positief meer produktief is tot op ’n veel hoër ouderdom (‘60 is die nuwe 50’).

Verder meld die artikel die ongeveer 57% van die predikantekorps wat in die volgende ±15 jaar moet aftree, maar ignoreer dié data in ’n sekere sin, asof ouer predikante die jong predikante moedswíllig uit poste wil hou. Dís gewoon mos nie waar nie en, voeg daarby dat daar dekades se lewenservaring weggestoot word, lyk dit selfs na ’n tipe onverskoonbare, eensydige beskouing, wat tot gebrek aan die Here se gawes (Ef 4:11 ev) in en vir sy kerk lei.

Die al hoe kleiner aanbod van jong predikante gaan binne die afsienbare toekoms veroorsaak dat daar ’n vakuum in die leraarskorps binne gemeentes ontstaan. Die ekonomie is mos alreeds besig om kleiner en ouer-wordende gemeentes (wat grootliks oor pensioendraende vermoëns beskik), sonder pastorale versorging te laat.

Indien ons ernstig vra of daar genoeg leraars is vir die getal gemeentes in die kerk, is ek oortuig dat daar in elke gemeente van die (NG) Kerk ’n leraar(s) vir lidmate se versorging geplaas kan word. Al sou dit ’n herstrukturering van leraarstrukture en befondsingsmodelle teweegbring, is die bediening aan alle lidmate sekerlik belangriker as tradisie. Daar is gemeentes met miljoene op belegging wat ’n bediening dáár waar talle gelowiges tans sonder Bybelse versorging gelaat word, moontlik maak. Die funksie van ringe, sinodes en die algemene sinode is nie hierdeur as sulks onder skoot nie, maar dit is myns insiens regtig tyd om weer núút buite die bestaande raamwerk / ‘boks’ te dink:

Het ’n soort stelsel, waar die beheerliggaam in die kerk* (in gereformeerde taal kan dit die Algemene Sinode óf die Sinode – of selfs die Ring wees) plasings doen volgens die behoefte van die gemeente, nie tans baie meriete nie? Dan kan gemeentes met ’n meerderheid jonger lidmate ’n jonger leraar ontvang en, indien nodig, ook begeleidende (maar meer ervare) leraar(s) – inaggenome die gemeente se grootte.

Ouer leraars kan in geskikte kleiner (dikwels ouerwordende / plattelandse) gemeentes geplaas word, volgens ’n behoefte aan pastorale versorging met begrip vir die meer bejaarde probleme, omdat die gemiddelde ouderdom hoër is, tot op daardie punt waar die predikant se gesondheid ’n probleem raak en ’n nood aan dokters lei tot die leraar se emeritaat.  Balans tussen die leraar-ouderdom en die demografie van ’n gemeente bly immers belangrik.

Só ’n ‘plasing-stelsel’ kan dan ook die relatief gereelde wisseling van ons leraars teweegbring, wat weer stagnasie onder ‘één (ou) dominee’ teëwerk.  Dalk moet hierdie sake eerder vroeër as later ons biddende aandag geniet.

Moet die 60+’ers asseblief nie as oor die muur sien nie – ook óns het ’n God-erende en produktiewe rol te speel in die koninkryk van ons Here – ervaring kan nie gekoop word nie. Kom ons werk saam totdat Hy ons Huis toe roep! Brief verkort – Red.